Geloofsfondamente No.03 – Genade Alleen

Sola Gratia (Genade alleen)

Nico van der Walt

Ons gaan veral kyk na die gelykenis van die Skrifgeleerde, die Fariseer en die Tollenaar. Ek gaan net eers inleidend ‘n paar dinge sê voordat ons daarby uitkom.

Een van die wekroepe van die Reformasie was natuurlik “Sola Gratia”- genade alleen. Laas keer het ons gekyk na Sola Scriptura. Die Reformatore het teruggekeer na die Nuwe Testamentiese waarheid van genade alleen – dit teenoor die Rooms-Katolieke leer van genade plus werk as die grond vir ons redding. Veral het die Rooms-Katolieke kerk (en dis maar tot vandag toe so) dit beklemtoon dat dit ja, God se genade in Christus is, maar daarmee saam menslike werke en veral die gebruik van die sakramente waarvan Rome sewe het, sewe sakramente, terwyl ons glo daar is net twee. Dit was dus die groot motivering: genade alleen. Julle sal met my saamstem dat hierdie is nie maar net ‘n sekondêre saak nie, dit bepaal alles, want as Rome reg is dan dink ek kan ek sê is ons verlore, want nie een van ons beoefen gereeld en gedissiplineerd sewe sakramente nie. So dit is van die allergrootste, onuitspreeklike belang dat ons die Bybel reg sal verstaan op hierdie punt.As ‘n mens gaan kyk na bv. ‘n boek soos Efesiërs – daar in Efesiërs hoofstuk 1 tot en met veral hoofstuk 2 vers 10 is van die wonderlikste woorde in die Bybel oor die wondere van ons redding. Die Apostel Paulus skryf daar in die mees diepsinnige en verhewe taal oor God se groot genade in ons lewens. Uiteindelik dan verduidelik hy wat ons erfenis in Christus is en hy sê onder meer vir ons dat ons saam met Christus lewend geword het, saam met Christus opgewek is en dat ons saam met Christus in die hemele laat sit is. Ons het nou nie tyd om daarna te kyk nie, maar as hy dan nou hieroor praat, dan kan hy nie anders as om uit te roep in hoofstuk 2 vers 5: “Uit genade is julle gered” en hy herhaal homself in vers 8: “Want uit genade is julle gered”. Genade; dit was ‘n woord wat absoluut sentraal was in die apostel Paulus se denke, sekerlik in al die apostels, maar besonderlik is Paulus die apostel van genade, soos wat Johannes die apostel van die liefde was. Hierdie is ‘n woord wat vir elke Christen na aan die hart moet lê. Dis ‘n woord wat die essensie van ons geloof en die essensie van ons redding vasvat. Ek vertrou dus dat hierdie stukkie lering vir julle werklik tot opbou sal wees en dat dit werklik sal help in julle navolging van die Here. Die begrip “genade” lê aan die hart van God se verlossingsplan en waarskynlik is dit juis en spesifiek op hierdie punt wat die Christelike geloof verskil van al die godsdienste van hierdie wêreld. Dit is mode vandag en dis algemeen dat mense sal sê: “Ag nou ja, die verskillende godsdienste is alternatiewe roetes na God toe – alternatiewe roetes na die ewige saligheid toe.” As ‘n mens enigsins nadink daaroor, dan kom jy agter dat daar ‘n wesensverskil is tussen die Christelike geloof en al die godsdienste van hierdie wêreld – dit maak nie saak watter een nie, en dit sluit ook “Churchianity” in. Al die godsdienste van hierdie wêreld sonder uitsondering baseer redding op menslike verdienste; die mens moet opklim na God toe teen die leer van elke godsdiens se eie, kom ons sê maar etiek. Goeie werke, wat hulle nou besluit is goeie werke, of dit nou is om Mekka toe te gaan en of dit is om gereeld kerk toe te gaan, of wat die geval mag wees en of dit is om die sakramente te gebruik, maar al die godsdienste van hierdie wêreld baseer redding dus op menslike verdienste. Daarenteen is die Nuwe Testament glashelder duidelik dat redding in terme van die Christelike geloof, redding uit genade alleen is. Dis m.a.w. nie die mens wat na God toe opklim nie, dit is God wat afbuig na die mens toe en op sy lewe beslag lê. So kan ons dus vanuit hierdie vertrekpunt praat oor genade. Miskien moet ek net sê voordat ons ‘n bietjie nader daarna kyk; dit kan nie anders nie, want God is ‘n God van genade. Dit is een van Sy wesenskaraktertrekke – Hy is ‘n God van genade en Hy het ‘n innige behae daarin om genade te betoon. Nou is dit so dat ‘n mens genade (die Nuwe Testamentiese begrip van genade) nie kan verstaan voordat daar nie vier basiese waarhede in jou gemoed in plek is nie. ‘n Mens moet hierdie dinge verstaan en mense sukkel om genade te verstaan omdat hulle hierdie basiese, kom ons sê maar, openbaringswaarhede of teologiese waarhede nie behoorlik in plek het nie.

 

In die eerste instansie leer die Bybel ons dat die mens van nature vanuit sy hart verdorwe is. Ons praat ook van radikale verdorwenheid. Die woord “radikaal” kom van die Latynse woord “radix” af wat wortel beteken en dit beteken dus die mens is vanuit sy essensiële wese verdorwe. Dit is die gevolg van die sondeval en die erfsonde. Die Nuwe Testament is daaroor baie, baie duidelik; die erfsonde kom tot uitdrukking in die erfskuld. Ons is saam met Adam deel van ‘n mensheid onder God se toorn voordat ons gered is, maar daarbenewens erf ons ook – ons word tewens daarmee gebore – ‘n sondige natuur. Ons praat ook daar van die erfsmet. Die erfskuld is die skuld wat ons saam met Adam het as gevolg van die sondeval, die erfsmet is die sondige natuur wat ons het. Almal van ons ken dit baie goed en ons ken dit en sien dit in ons kinders en daar kan tog geen twyfel daaroor wees dat dit ‘n universele werklikheid is nie. Wat ons moet verstaan, die mens is radikaal verdorwe – hy is vanuit sy hart verdorwe. Daarom Efesiërs 2 (ek het netnou gepraat oor Efesiërs 2) sê vir ons dat die natuurlike mens is dood in sy sonde. Hy is nie bewusteloos nie, hy is nie bedwelmd nie, hy’s dood. Dit beteken dus hy is nie in staat om enigsins God te behaag nie. Hy sê die mens is dood in sy oortredings en in sy sonde. Die woord “oortreding” beteken presies wat die Afrikaans ook sê; om ‘n grens oor te steek, om oor ‘n grens te stap en dit maak van die mens ‘n rebel. Hy sê ook die mens is dood in sy oortredinge en sondes. Die woord “sonde” in sy essensie beteken; om die merk te mis, om die kol te mis, m.a.w. jy maak dit nie, jy kan nie God se standaarde haal nie en dit maak van die mens ‘n mislukking. So, ons is dood in ons rebellie en in ons mislukkings. Wat meer is, sê Efesiërs 2 vir ons, die mens is ‘n slaaf. Hy is ‘n slaaf van drie dinge: hy is ‘n slaaf van hierdie wêreldsisteem, hy is ‘n slaaf van sy eie vlees of sy sondige natuur en hy is ‘n slaaf van die duiwel. Hy is uitgelewer aan hierdie goed. Derdens sê Efesiërs 2 vir ons is die mens ingebore in ‘n mensheid wat onder God se toorn is. Dit is die erfskuld waarvan ek netnou gepraat het in vers 3. Die mens verkeer dus in ‘n bedenklike toestand voor God.

Die tweede waarheid wat ons baie duidelik moet verstaan, is dat elkeen van ons aanspreeklik is voor ons Skepper. Hierdie Skepper van ons, die lewende God, is ‘n God van onkreukbare geregtigheid. Die Bybel openbaar aan ons dat daar nie ‘n enkele sonde deur Hom onder die mat ingevee sal word nie. Dit beteken dus dat elke sonde gestraf moet word. Die Bybel leer ons daardie sonde word òf gestraf aan jou en my òf dit word gestraf aan ons Plaasvervanger, Jesus Christus. Die implikasie is dus dat as ‘n mens gered word in Christus, dan is dit omdat Hy die volle straf op jou en my sonde gedra het. So God is ‘n God van onkreukbare geregtigheid. Baie dikwels het ons met hierdie fundamentele Nuwe Testamentiese waarhede probleme omdat ons God nie ken soos ons moet nie; ons ken die mens nie, ons ken God nie.

Die derde waarheid wat ons moet verstaan, is dat die natuurlike mens, of die mens in Adam, geensins in staat is om homself te hervorm nie. Net so min as wat hy in staat is om homself aan sy eie skoenveters op te tel, so min kan hy homself as’t ware opwek uit sy sondedood uit. As die Here God nie afbuig en ons lewend maak nie, sal ons dood bly. Dis die derde waarheid.

Die vierde waarheid is God is algeheel vry en onaantasbaar in Sy soewereiniteit. Wat ons moet verstaan is God is van geen mens afhanklik nie, Hy is die algenoegsame, Hy is die Een wat is wat Hy is, Hy is aan geen skepsel verantwoording verskuldig nie. Hy is vry om te red en Hy is vry om nie te red nie. Hy is God. Dit word tog baie duidelik geleer bv. in Romeine 9: “Die pot kan nie vir die pottebakker sê: ‘Hoekom het jy my so gemaak nie’”. God is God. Dit is wel waar, daaroor is die Bybel ewe duidelik, dat God ‘n vreugde daarin het of ‘n behae daarin het om sondaars te red. Dit is wel waar. Dan sê hy: “Bekeer julle. Waarom wil julle verlore gaan?” ‘n Mens kan nou maar gaan kyk na Esegiël 18 vers 23 en vers 32. ‘n Mens kan kyk na Lukas 15 vers 7, vers 10. Dit word baie sterk belemtoon, God het ‘n vreugde daarin om sondaars te red, maar Hy red hulle nie as hulle, hulle nie bekeer nie. Hy red hulle nie as hulle nie in die geloof in afhanklike bankrotskap na Hom toe kom vir redding nie, maar Hy het ‘n behae daarin om hulle te red. Wat ons moet verstaan is as God dan besluit het om Sy soewereine vryheid te gebruik, deur vanuit ‘n onbekeerlike, ongelowige en selfvoldane mensheid sekeres te verkies om deur Sy inisiatiefnemende herskeppingswerk gered te word, wie word verontreg? Almal verdien om verlore te gaan. U sien, dit moet in plek wees. Almal, elkeen, kop vir kop verdien om verlore te gaan. As die Here God dus kom in Sy soewereine vryheid en Hy red sommige, kan ons nie sê dat sommige verontreg word nie. Ons kan die vraag vra: Is Hy verplig om Sy guns af te dwing op mense wat dit nie wil hê nie? Niemand wil dit van nature hê nie. God kon sekerlik besluit het om alle mense te red. U sal met my daar saamstem. Hy kon besluit het om alle mense te red of Hy kon besluit het om niemand te red nie. Per slot van rekening, as jy kyk na die demone wêreld, dit word algemeen aanvaar dat die demone is gevalle engele en God het vir hulle geen verlossingsplan in plek gestel nie. Nie een van ons sal God wou aankla dat Hy onregverdig is omdat Hy nie demone red nie. So Hy sou kon besluit ook, vir dieselfde prys, om geen mens te red nie. Dit sou Sy goeie reg gewees het. Dit sou Sy goeie reg gewees het om die dag na die sondeval hierdie aarde met Adam en Eva, of op enige latere stadium met al sy inwoners, hierdie aarde eenvoudig in die ruimtes in te skiet en te sê: “Ek is klaar met julle, Ek skep ‘n nuwe aarde en Ek skep nuwe mense”, indien Hy sou wou. God is God, u sien. Dit sou Sy reg gewees het. God het besluit, nie om almal te red volgens die Bybel nie, en Hy’t ook nie besluit om niemand te red nie. Hy het besluit om sommige te red. Hierdie realiteit ken ons almal. Ek bedoel ons leef in ‘n wêreld waarin daar talle en talle mense is wat net eenvoudig gebore word, groot word, oud word sonder om ooit gekwel te wees oor die feit dat hy nie gered is nie. Dis oneindig tragies. Julle sal weet so goed soos ek dat as die Here nie inisiatief geneem het in jou lewe, as Hy nie begin bemoeienis maak het met jou nie, sou jy vandag rustig net so aangegaan het soos soveel derduisende mense om ons in hierdie stad. God het besluit om sommige mense te red; Hy het besluit om sommige nie toe te laat om voort te gaan op hulle koppige weg van selfvernietiging nie, maar om in te gryp in hulle lewens en hulle uit te haal uit daardie gang van hulle en hulle te gee wat hulle nie verdien nie. Wat het Hy vir hulle gegee? Hy gee vir hulle genade, Hy gee vir hulle die ewige lewe. Wat ons dus moet verstaan: God is algeheel soewerein wat hierdie dinge betref. Hy’s God.

Tot die mate wat ‘n mens dit verstaan, tot daardie mate word jou hart oorvloei met dankbaarheid en verwondering dat die Here vir jou goed was en dat die Here ingegryp het in jou lewe en dat Hy inisiatief geneem het. Ek wil weer sê, mense sukkel met hierdie waarhede. Dis waarhede wat glashelder duidelik in die Nuwe Testament veral, maar in die hele Bybel in die algemeen geleer word. Mense sukkel met hierdie waarhede omdat hulle hierdie vier dinge nie behoorlik in plek het nie. In die eerste instansie, die mens is van nature vanuit sy hart verdorwe. Tweedens, die Here God is ‘n God van onkreukbare geregtigheid en Hy vee nie maar net sonde onder die mat in nie, hy straf hulle. Derdens, die sondegevalle mens is geensins in staat om homself te hervorm nie. Vierdens, God is algeheel vry en onaantasbaar in Sy soewereiniteit en Hy kies om aan mense wat willens en wetens volhard op ‘n pad strydig met Sy wil (op ‘n pad van verlorenheid dus). Hy kies soewerein om in te gryp in sommige van daardie mense se lewens en om aan hulle die lewe te gee. Hy gee dit en wanneer Hy dit gee, dan noem ons dit “genade”. Dit is wat genade is. Dit stel ons dus in staat om genade te definieer. God se genade is Sy vrye en ongedwonge liefdesguns in die gawe van die ewige lewe aan skuldige sondaars, wat nie alleen dit nie verdien nie, maar wat presies die teenoorgestelde daarvan verdien, naamlik die ewige oordeel. Ek gaan dit vinnig weer lees, want dis belangrik dat ons dit verstaan. God se genade is Sy vrye en ongedwonge liefdesguns in die gawe van die ewige lewe aan skuldige sondaars, wat nie alleen dit nie verdien nie, maar wat presies die teenoorgestelde daarvan verdien, naamlik die ewige oordeel.

Lukas 18:9. Ek gaan vinnig vir ons daar ‘n paar verse lees – 6 verse – die bekende gelykenis van die Fariseer en die tollenaar. “Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel. Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Een was ‘n Fariseer, die ander een ‘n tollenaar. En die fariseer het gaan staan en by homself so gebid, ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie, diewe, bedrieërs, egbrekers en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee ‘n tiende van my hele inkomste.’ Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my sondaar genadig.’ En dan sê die Here Jesus: “Ek sê vir julle, hierdie man (en Hy verwys na die tollenaar) en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is.” Daar staan letterlik: “Hy het huis toe gegaan as ‘n geregverdigde” of “Hy het huis toe gegaan, geregverdig”. Elkeen wat hoogmoedig is sal verneder word en hy wat nederig is sal verhoog word.”

Kom ons kyk na hierdie gelykenis. Dit gaan in hierdie gelykenis oor die vraag: ‘Waarop berus redding?’. Berus dit op menslike verdienste of berus dit op Goddelike genade? Die fariseërs, dis die eerste man wat hier aangesny word, was geëerd in die samelewing van destyds. Hulle het polities geweier om enige kompromie met die Romeine aan te gaan. Hulle was dus polities gerespekteerde mense. Wat meer is moreel kon niemand ‘n vinger op hulle lê nie. Hulle was gerespekteer. Hulle was die tipe mens wat die aarde laat draai, as ek dit so kan uitdruk, die samelewing in stand hou; regop hou. Daarenteen was die tollenaars verag in die samelewing. Polities was hulle kompromiemakers, want hulle was belastinggaarders, en hulle het hierdie belasting of die tolgelde geïn vir die Romeinse onderdrukkers. Daarom was hulle gehate mense in die samelewing. Hulle mede-Jode het hulle beskou as verraaiers en moreel het hulle hulleself verryk deur meer tolgeld te vra as wat hulle toegelaat is. Soos dit nou maar altyd gaan met oneerlike geld, het dit aanleiding gegee tot allerlei onsedelikhede en allerlei uitwasse in hulle lewens. Hulle was ‘n veragte gespuis in die samelewing gewees, die tollenaars. Dis nou die twee karakters wat die Here Jesus gebruik. Hulle het dit gemeenskaplik; altwee van hulle gaan bid by die tempel. Ten minste dit is gemeenskaplik. Dis ook waar die gemeenskaplikheid tussen hulle ophou, want dan is daar vier diepgaande verskille tussen hulle en dit kom baie mooi uit in die gelykenis. In die eerste instansie het hulle uiteenlopende opinies oor hulleself. Elkeen praat oor homself in hierdie gelykenis, in hulle gebede. Die fariseër verwys vyf maal na homself. Hy gebruik die woordjie ‘ek’ vyf keer. As ek na die ou vertaling vinnig kyk: “En die fariseer het gaan staan en by homself so gebid, ‘O God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie.” Vers 12: “Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry.” So hy praat dikwels oor homself – gebruik die woord ‘ek’ vyf keer. Hy is die onderwerp van die handeling, sien julle. Dit is wat hy vir God doen. Die tollenaar verwys ook na homself. Hy gebruik die woordjie ‘my’. Hy is dan die voorwerp van die handeling. Dit gaan oor wat God vir hom moet doen: “Wees my die sondaar genadig.” Wat meer is, elkeen van hierdie twee mans plaas hulleself in ‘n unieke kategorie, in ‘n eie kategorie. Die fariseër sien homself as enig in sy soort, want hy sê: “Ek is so bly, ek is so dankbaar. Ek eer U dat ek nie soos die ander is nie.” Hy is op die bopunt van die samelewing, moreel gesproke en andersins godsdienstig. Hy is nie soos die ander mense nie. Hy plaas homself in ‘n unieke kategorie. Ook die tollenaar beskou homself as uniek. Letterlik bid hy (as jy na die oorspronklike taal gaan kyk): “O God, wees my die sondaar genadig.” Daar is ‘n lidwoord daar in die Grieks: “wees my die sondaar genadig.” En dit is ‘n manier om te sê: “Wel, ek is die sondaar.” ‘n Mens sien dit bv. in Paulus as hy homself die grootste sondaar van almal noem in 1 Timoteus 1: “Wees my die sondaar genadig.” Julle kan dus sien dat hierdie tollenaar kruip nie maar tussen die skare weg nie. Hy het vrede met ander mense se sonde. Hy praat die taal van ware verootmoediging: “Ek is die sondaar, ek het hulp nodig, ek het genade nodig, ek het redding nodig. Wees my genadig.” So, in die eerste instansie het hierdie twee mans uiteenlopende opinies oor hulleself.

In die tweede instansie het hulle uiteenlopende gebedsgesindhede. As ons weer na die fariseër eerstens kyk. Hy is trots en hy is hooghartig en hy is selftevrede en hy is vol van homself. Die Here Jesus lig hier ‘n baie betekenisvolle stukkie detail uit. Daar staan: “Die fariseer het gaan staan en by homself so gebid.” As jy na die Grieks gaan kyk dan staan dit eintlik daar: “Hy het na homself toe so gebid.” – letterlik. So hy bluf homself dus. Sy gebed kom nie by die hemel uit nie, kom nie by God uit nie. Hy praat maar sommer net met homself. Daarenteen, as jy na die tollenaar kyk, dan sê sy lyftaal alles oor sy gebedsgesindheid. In die eerste instansie bly sy voete op ‘n afstand staan. Dit dui op sy respek vir God en sy geringskatting van homself. Amper soos Moses destyds by die brandende bos. Wat meer is, sy oë kyk in skaamte grond toe. Hy het nie moed om op te kyk nie. Dis amper soos Esra wat op ‘n stadium gebid het: “My God ek is te skaam, ek het nie die vrymoedigheid om my kop voor U op te tel nie. Ons sonde is hoog opgestapel, ons misdade staan hemelhoog.” (Esra 9:6) Hierdie tollenaar se hande slaan wanhopig op sy bors as hy sy sonde uitkreun. Sy mond uiter woorde van diep berou en verootmoediging. Hy het dus ook ‘n gebedsgesindheid. Julle sal met my saamstem, dit verskil radikaal van díe van die fariseër.

Wat meer is, hulle het nie net verskillende opinies oor hulleself nie, hulle het nie net verskillende gebedsgesindhede nie, maar hulle het ook uiteenlopende posisies voor God. Die fariseër is veroordeeld en verwerp en die tollenaar is geregverdig en aangeneem, sê die Here. Dis die tollenaar wat geregverdig huis toe gaan (vers 14). Dit gaan nie net oor hulle huidige stand voor God nie, dit gaan ook oor hulle ewige bestemming. Die verskil tussen hulle bestemmings is so uiteenlopend soos die hemel en die hel. So, hulle het ook uiteenlopende posisies voor God.

Vierdens, hulle is uiteenlopend in dit waarin hulle, hulle vertroue stel. Waarop vertrou die fariseër? Dis tog baie duidelik, hy vertrou op sy drie belangrikste godsdienstige pligte, gebed en vas en uitdeling. Eintlik was die fariseërs baie strenger as die Ou Testament. Die wet het vereis dat ‘n mens twee maal ‘n jaar vas, maar die fariseërs, twee maal ‘n week het hulle gevas. Die wet vereis dat ‘n mens ‘n tiende van jou grond se opbrengs moet gee. Hulle gee ‘n tiende van alles wat hulle eet en alles wat hulle koop en alles wat hulle verkoop. So, hy is werklik ‘n vroom man. Hy is besonder godsdienstig. Hy is reg, hy is alles behalwe ‘n dief en ‘n bedrieër en ‘n egbreker. Hier is ‘n man op wie jy nie ‘n vinger kan lê nie. Hy doen dit alles en hy doen dit reg. Daarenteen, ons praat oor hulle uiteenlopende vertroue, die tollenaar is ook reg; hy is die sondaar en waarskynlik het hy ‘n morsige lewe agter hom. Noem maar ‘n sonde en dit hang waarskynlik in sy kas. So kan ons dus sien dat daar ‘n reuse verskil is tussen hierdie twee mense, soos die noordpool en die suidpool staan hulle van mekaar af en die Here Jesus skets dit doelbewus so vir ons. Hy wil ‘n punt tuisbring.

Kom ons vat dan saam. Beide hierdie karakters moet ons sê is sondaars, want selfs die fariseër (ons het nou gesê ons kan nie ‘n vinger op hom lê of ‘n vinger na hom wys nie), maar die feit bly net staan, sekerlik in sy motiewe slaag hy nie God se standaarde nie. Sekerlik het hy die Here God nie lief met sy hele hart, sy hele siel, sy hele verstand en al sy kragte nie. So, hy is ‘n sondaar. Waarskynlik, kan ons sê, ‘n vroom sondaar, ‘n godsdienstige sondaar, ‘n baie goeie sondaar. Maar hy is ‘n sondaar. En natuurlik, die tollenaar is ‘n sondaar. As sulks verdien beide van hulle die ewige oordeel. Die probleem is een van hulle is totaal onbewus daarvan dat hy ‘n sondaar is. Hy erken dit net eenvoudig nie. Wat hom betref vaar hy uitstekend voor die Here God. Die ander een verkrummel eenvoudig onder sy sondebesef. Al wat hy kan doen is om God om Sy genade aan te roep. Dis ‘n wesensverskil tussen hulle. Die fariseer, hoe meer hy homself met ander vergelyk, hoe meer selfvoldaan raak hy, hoe meer neem sy selfvertroue toe. Die tollenaar daarenteen is so diep onder die besef van sy eie sonde, sy eie verdorwenheid, sy eie algehele afhanklikheid van God se genade, dat hy totaal van ander mense vergeet. So, die twee se idees oor wat die grond is vir ‘n mens se regverdigverklaring voor God, verskil soos dag en nag. Die fariseër reken dit is eie verdienste, godsdienstige meriete. Die tollenaar aan die ander kant, kan aan niks anders dink as God se genade nie. Nou moet ons raaksien dat die fariseër word nie veroordeel omdat hy vroom is nie, maar hy word veroordeel omdat hy op sy vroomheid staatmaak. Dis miskien ‘n subtiele verskil, maar ‘n totale verskil. Die tollenaar daarenteen word nie regverdig verklaar omdat hy ‘n sondaar is nie, maar hy word regverdig verklaar omdat hy in sy selfwanhoop die Here God om genade aanroep. So dit is die diepste verskil tussen hulle. Dis baie belangrik dat die Here Jesus hier afsluit met die stelling dat die tollenaar geregverdig huis toe is. Die implikasie is; die fariseer is verlore. Waarom is dit so? Hy gee vir ons die antwoord hier aan die einde van vers 14: “Wie homself verhoog, sal verneder word en wie homself verneder, sal verhoog word.” U sien, so het God besluit sal dit werk in die redding van mense. Hy het dit besluit. Ek en jy kan dit nie verander nie. So is dit deur alle eeue; dit is hoe God sondaars red. “Wie homself verhoog, sal verneder word, maar wie homself verneder, sal verhoog word.”

Hier in die tollenaar se lewe sien ‘n mens van die mees basiese, die mees essensiële karaktertrekke van ‘n wedergebore lewe. Enigiets minder as volkome en hartgrondige wanhoop in jou eie verdienste en ‘n ongekwalifiseerde werp van jouself op God se genade, enigiets minder as dit, is nie goed genoeg nie en dit bring die egtheid van jou geloof onder verdenking. Ons moet dit raaksien. Die vraag is dus: ek en jy, as ons na onsself kyk en as ons peins en nadink oor ons posisie voor God, is daar nie dalk nog ‘n kriesel eiegeregtigheid teenwoordig nie? ‘n Stukkie farasisme nie? Het ons werklik op daardie punt gekom dat ons male sonder tal reeds en nog steeds gereeld, dit uitkreun voor die Here: “As dit nie vir U genade is nie, is ek verlore!” U sien, geestelike bedelaarskap bly die kwalifikasie vir die ewige lewe. Dink maar aan die saligsprekinge, hoe Jesus daar begin. Hy sê (die ou vertaling): “Salig is die armes van gees, want aan hulle behoort die koningkryk van die hemele” of die nuwe vertaling: “Salig is die wat weet hoe afhanklik is hulle van God se genade, want aan hulle behoort die koningkryk van die hemele.” As ‘n mens na die oorspronklike taal gaan kyk, gebruik hy daar ‘n woord vir “die arme van gees” – die woord ‘arm’ is ‘n woord wat normaalweg vertaal sou word met ‘bedelaar’. Salig dus is die geestelike bedelaars, want aan hulle behoort die koningkryk van die hemele. Dit is die drumpelvereiste vir toetrede tot die koningkryk, jy moet bankrot wees in jouself, jy moet absoluut niks, maar niks hê wat jy vir God kan bied of wil bied nie. Ons moet onthou, ‘n ware Christen was nie net destyds so toe hy tot bekering gekom het nie. ‘n Ware Christen bly in ‘n sekere sin so. Ek probeer nie vir julle sê dat ons nou maar sommer net in sonde bly lê nie. Dis glad nie wat ek sê nie. Daar is ‘n geheimenisvolle gekombineerdheid van belewinge in ‘n Christen se lewe. Aan die een kant, jou oortuiging dat jy in Jesus Christus ‘n volmaakte Middelaar het en dus met groot vrymoedigheid voor die troon van genade kan kom. Aan die een kant dus; ‘n vaste geloofsekerheid, want jy het ‘n volmaakte Middelaar. Aan die ander kant, die diep, diep wete, tewens, dit is ‘n groeiende wete dat jy in jouself niks het om aan God te bied nie. Ek is persoonlik oortuig daarvan dat dit die essensie van heiligmaking is, dat jy al hoe meer weet dat jy niks vir God te bied het nie en dat jy al hoe meer dus staat maak op Jesus Christus se Middelaarswerk. Daarom bly ‘n mens soos die tollenaar. Een van die grootste gevare wat ons as Christene in die gesig staar, is dat ons Christen fariseërs sal word, as daar so iets moontlik is, maar julle verstaan wat ek daarmee bedoel. Jy was eenmaal gebroke miskien, maar jy is lankal nie meer gebroke nie. Jou hele houding voor die Here, jou hele wandel voor die Here is een van selfvoldaanheid, van gearriveerdheid. Ek wil dit net weer beklemtoon, sondegebrokenheid aan die een kant en geloofsekerheid aan die ander kant. Hierdie twee dinge is nie wedersyds uitsluitend in ‘n Christen se lewe nie. Hulle is beide teenwoordig daar. Daar is ‘n voortgaande gebrokenheid, maar ook ‘n groeiende sekuriteit in Christus. Die sleutel om in hierdie dinge te groei, is om God al hoe beter te leer ken en Sy volmaakte standaarde, Sy volmaakte heiligheid, Sy volmaakte wet en om jouself beter te leer ken en om uiteindelik dus Christus beter te leer ken. Daarom, soos wat ‘n mens groei in jou kennis van God, groei jy in jou kennis van jouself, groei jy in jou kennis van Christus, beleef jy iets van ‘n opwaartse spiraal in jou heiligmaking, in jou toewyding, in jou dankbaarheid, in jou aanbidding, in jou liefde vir die Here. Hoër en hoër. Dit hang saam met ‘n dieper en ‘n dieper en ‘n dieper bewussyn van die wonder van genade in jou lewe. So die vraag is dus, hoeveel sondebelydenis, hoeveel selfmishaging, hoeveel verlange na geregtigheid, hoeveel verlustiging in Christus is daar in ons lewens? Dis iets wat met die jare toeneem en dit is wat elke ware Christen deur sy lewe ervaar soos hy ouer word. Jy kan maar die biografieë gaan lees van die manne en die vroue van God deur die geskiedenis. Almal van hulle het dit beleef. Ons moet hiervoor bid ook. Ons moet bid: “Ag Here, lei my dieper in, in wat dit beteken om U te ken. Toon my myself. Ek wil myself sien soos U my sien. Ons is so geneig om onsself te bedrieg, is dit nie. So ja, kom ons bid oor hierdie dinge. Kom ons vra die Here om ons dieper en dieper in te vat in die realiteite van al hierdie dinge.

Nou wil ek net opsommend ‘n aantal beginsels oor God se genade vir julle voorhou. In die eerste instansie, want ek dink ons het nou genoeg agtergrond om ‘n bietjie meer, kom ons sê maar, teologies hieroor te dink, in die eerste instansie; sondaars verdien nie net geen genade nie, hulle verdien inderdaad die teenoorgestelde daarvan. Meeste mense is bereid om te sê: ‘Wel, ek gee onmiddelik toe ek kan nie aan Jesus Christus se volmaakte standaarde, in die bergrede bv., voldoen nie. Daar is geen manier wat ek daar kan uitkom nie, ek gee dit toe. Maar min mense, of sal ek dit so stel, sonder die Here se ingryping in jou lewe, is jy net eenvoudig nie bereid om te herken dat jy algeheel hulpeloos voor God is nie en dat jou beste pogings net eenvoudig nie aan Sy standaarde voldoen nie. In jouself, laat ek net weer sê, daar is natuurlik die realiteit van heiligmaking en die realiteit van die inwoning van die Heilige Gees en uiteindelik word ons almal geroep tot goeie werke en ons wandel in die goeie werke wat vir ons voorberei is. In hierdie goeie werke behaag ons die Here God, maar dis goeie werke wat in en deur ons gewerk word deur die Heilige Gees. Ek beklemtoon dus in onsself het ons dit nie, ons kan nie sonder die Heilige Gees God behaag nie.

Die tweede beginsel, my morele of geestelike toestand speel absoluut geen kwalifiserende rol in my ontvangs van genade al dan nie. Kom ek sê dit net weer, my morele of geestelike toestand speel absoluut geen kwalifiserende rol in my ontvangs van genade, al dan nie. Genade kan tog nie genade wees as dit verdien word nie. Dis per definisie so, is dit nie? As die Here God ‘n sekere meriete, ‘n sekere verdienste in ‘n bepaalde mens raaksien en dit dan beloon, dan is dit nie meer genade nie, dan is dit beloning. Daarom, uiteindelik is daar niks in jou en my wat God se genade na ons toe getrek het nie. Dis onverdiend met ander woorde. Verder is genade ook nie meer genade indien God verplig sou wees om dit te onttrek in die geval van menslike mislukking nie. Dink ‘n bietjie daaroor. Genade sou ook nie meer genade wees indien God verplig sou wees om dit te onttrek in geval van menslike mislukking of oortreding nie, want dan is dit mos nie ‘n onvoorwaardelike geskenk nie. Dan moet jy dit, goed jy kry dit onverdiend, maar daarna moet jy dit verdien. Julle hoor wat ek wil sê. Trouens die wonder van genade word des te meer duidelik tot die mate wat God dit gee ten spyte daarvan dat ons dit nie verdien nie. Tot die mate dat God dit gee ten spyte van ons sonde. Hy bly dit gee. So sien ons die wonder van genade. Genade is dus nie om vir iemand minder te gee of presies te gee of om meer te gee as wat hy verdien nie. Wanneer dit gegee word (genade) het dit geen, maar geen betrekking op enige iets in myself nie, want dan is die gee van die genade een of ander respons op iets in my. Dit vloei alleenlik voort vanuit God se spontane goedheid en liefde in Sy soewereine besluit.

Derdens, genade kan nooit ‘n ontvanger, ongeag hoe ‘n groot sondaar hy ookal was, in die skuld by God dompel nie. Want, jy sien, as daar selfs ‘n kriesel terugbetalingsverpligting op my gerus het as gevolg van God se genade, dan is dit mos nie meer ‘n geskenk nie. Dis ‘n vrye geskenk. Ek hoef dus nie, ek kan nie, maar ek hoef ook nie, na die tyd enigsins iets terug te betaal nie. Dis ‘n geskenk. Die Bybelse respons op genade wat ontvang is, ontspring m.a.w. nie vanuit een of ander juridiese of logiese of morele verpligting nie. Dit ontspring vanuit ‘n herskepte hart wat ons altyd saam kry met genade. Wanneer die Here God genade gee, dan gee Hy altyd daarmee saam die gawe van die wedergeboorte. Jy het ‘n nuwe hart en hierdie nuwe hart waarop die wette van God geskrywe is, kan nie anders as om ‘n hartstog te hê vir God se eer nie. Deel van God se genade pakket, altyd sonder uitsondering, is die wedergeboorte. Dis nie een of ander juridiese terugbetalingsverpligting nie.

Die vierde beginsel wat ek wil uitlig hier; wat regverdigmaking betref, staan genade teenoor werke. Maar wat heiligmaking betref, is genade die bron van gehoorsaamheid en goeie werke. M.a.w. wat regverdigmaking betref, daardie verklaring van God met betrekking tot my, dat ek juridies voor Hom regverdig is, daar het dit niks te doen met goeie werke nie. Daarna in so ‘n regverdige se lewe, volg die proses van heiligmaking en daar is goeie werke integraal deel daarvan. Daar vind ons dat die genade die bron is dus van gehoorsaamheid en goeie werke. Ons word m.a.w. gered uit genade alleen, nie op grond van werke nie. Maar ons word gered tot goeie werke, uiteindelik volgens goeie werke. M.a.w. omdat die wedergeboorte, die herskepping van die hart, saamhang met regverdigverklaring in ons lewens, die ontvangs van genade, moet daaruit ontspring ‘n lewe van toewyding, ‘n lewe van liefdesgehoorsaamheid en dit is die lewe van heiligmaking. Ons word dus gered tot goeie werke, altyd, sonder uitsondering is dit so. Dis die watermerk van egtheid. Dis hoekom Jakobus in sy hoofstuk twee kan sê: “As jy wil weet of jou geloof eg is, of dit reddend is, kyk na jou lewe. Het dit daardie effek in jou lewe dat jy eenvoudig goeie werke voortbring?” Dit kan net nie anders nie. Dis ‘n hartstog in jou lewe om God te behaag, God te verheerlik, Jesus Christus na te volg. Ons ken hierdie dinge. Dié van ons wat wedergebore is, ons ken hierdie dinge proefondervindelik. Daarom kan ons dit verstaan. Terwyl ek dus baie sterk beklemtoon het dat in regverdigmaking, goeie werke geen rol speel nie, volg noodwendig op regverdigverklaring ‘n lewe van heiligmaking waarin goeie werke ‘n sentrale karaktertrek is. Toe jy genade aanvanklik ontvang het, het jy ook ‘n nuwe hart ontvang en daardie nuwe hart dring jou om God te behaag, God te gehoorsaam en in goeie werke te lewe. Uiteindelik word hierdie goeie werke dan die watermerk van egtheid. As ons dus kompromieloos daarop aandring dat genade nooit, maar nooit op grond van enige menslike verdienste is nie, beteken dit nie dat ons ‘n Christenskap verkondig wat losbandig is nie, ‘n Christenskap wat sommer maar net aanhou met sonde nie, ‘n slordige wêreldgelykvormige Christenskap nie. Nee, nee. Ons dring eenvoudig op grond van die Bybel kompromieloos daarop aan dat waar die Here God genade gee, gee Hy ook ‘n nuwe hart. Daardie nuwe hart kan nie anders as om tot uitdrukking te kom in ‘n lewe van dissipelskap nie, ‘n lewe van toewyding, ‘n heilige lewe nie. Daarom kan ons dan ook vanuit die Skrif en aan die hand van die Skrif ‘n Christelike lewe van algehele toewyding verkondig, van kruis dra, ‘n heilige lewe, want dis wat die nuwe testament ons leer.

Die vyfde beginsel wat ek graag onder julle aandag wil bring, is dat God se reddende genade ewig is en dat dit, ek gebruik nou ‘n spoggerige woord, trinitaries is. Dit beteken maar net dat God Drie-enig is betrokke by die gee van genade in ‘n sondaar se lewe. Wel, nommer een ontspring dit vanuit die Vader se uitverkiesing. Tweedens, die regsbasis daarvoor, vir die genade in jou en my lewe, is deur die Here Jesus gelê. Derdens is dit die Heilige Gees wat dit kom aktualiseer, wat dit kom verwerklik in ons lewens en wat ons in daardie genade vashou. Daarom is al drie Persone van die Goddelike Drie-eenheid betrokke by die genade wat ek en jy ontvang het. So is dit vir ewig, want God leef in die ewigheid. Hy leef bokant die tyd en Sy voornemens hou ewig stand. As Hy dus waarlik in jou lewe ingegryp het, dan’s dit permanent.

Soos ons nou hier sit, is daar sekerlik van ons wat diep bewus is van ons eie onwaardigheid en ook ons onwaardigheid as Christene, is daar sekerlik talle van ons wat eenvoudig dalk net weer dit uitgekreun het voor die Here “Ek is ‘n krom stok! Ek kan nie begryp dat U soveel geduld met my het nie. Ek kan nie begryp dat U soms nog ‘n reguit hou deur my slaan nie.” As dit jou belewing is van jou Christenskap, dan is jy op die pad. Ek beklemtoon weer, dit behaag die Here om met sulke krom stokke maar reguit houe te slaan. Daardie reguit houe is ook sigbaar, is waarneembaar, is ervaarbaar. Die punt is net, dit gaan gepaard met hierdie diepe bewussyn van onwaardigheid. Dis nie iets wat ons leer nie en ons daarin oefen om onwaardig te voel, terwyl ons eintlik baie tevrede voel met ons Christenskap. Dis ‘n diep eksistensiële belewing dat wanneer jy dus voor die Here in gebed of andersins jou bankrotskap uitkreun, dan kom dit uit jou hart van harte uit. Dis nie ‘n ding wat ons aangeleer het nie, dit kom uit ons binneste uit. Die Here sê vir ons, so is Hy met ons op pad en so vorm Hy die beeld van Christus in ons. Ek het netnou gepraat oor die wesenskaraktertrek van heiligmaking. Nog ‘n wesenstrek van heiligmaking, is dat jy self eintlik nie daarvan bewus is nie. Ander mense sal dalk vir jou sê: ‘Man ek kan sien hoe het jy gegroei.’ In jou eie hart sê jy vir jouself ‘Ag, ek glo daar niks van nie.’ Hoe ouer jy word, hoe dieper bewus is jy daarvan, van jou eie gebrokenheid. Maar, let op, hoe meer is jy dankbaar vir wat Christus gedoen het, hoe meer is jy afhanklik van Hom, hoe dieper kruip jy as’t ware in Hom in. Nooit sal hierdie belewing waarskynlik meer intens wees as op jou sterfbed nie, want as ek en jy weet dat binne die volgende 24 uur gaan ons by die Here wees, baie maal as mense sterf is hulle nog absoluut helder in hulle denke, maar as ek weet dit moet nou kom binne die volgende ure, kan jy dink hoe jy aan Christus vashou. Kan jy dink dat daar, as jy terug kyk oor jou lewe, dat jy net eenvoudig weet daar is niks, maar niks wat jy self vir God kan bied nie. Kan jy dink hoe jy soos ‘n drenkeling aan Jesus Christus hang. Binne ure moet ek voor God wees. Dis hoekom ek sê, nooit ooit dink ek beleef ons dit meer intens as op ons sterfbed nie.

Wat sê dit dus vir jou en vir my? Die vraag is nou heel prakties, staan ek en jy in tollenaarskoene voor die Here? Elke Christen moet verstaan, ons godsdienstigheid red nie. Godsdiens red nie! Nooit kan godsdiens red nie! Kinders moet verstaan en ons moet ons kinders so leer; herkoms maak jou nie vir God aanvaarbaar nie. Die feit dat jou ouers kinders is verander niks aan die waarheid dat jy self in Adam gebore is nie. Iemand het dalk nog nie geloofsekerheid nie, wat nog nie ‘n Christen is nie, sê nou maar. Jy moet weet dat jy nie maar moet hoop vir die beste nie. Het julle al gehoor dat mense sê, ek hoor dit meermale, “Ja wel, ek is maar ‘n ou sondaar jong, maar hoop maar vir die beste dat as ek eendag by die Here kom, Hy vir my genade sal gee.” Het julle dit al gehoor? Wat ons moet verstaan is; jy ontvang nie genade voor die regterstoel nie. Jy ontvang genade in hierdie lewe, of jy ontvang dit nie. Jy ontvang nie genade daar, omdat God besluit, ag, hierdie ou drommel, gee hom maar die saligheid nie. Nee. As jy genade ontvang en jy ontvang dit in hierdie lewe, dan het dit ‘n lewensveranderende effek op jou lewe, soos ek netnou verduidelik het. Jonathan Edwards, die groot Amerikaanse denker en teoloog, het gesê, 250 jaar terug; “Almost every natural man adheres of hell, flatters himself that he shall escape it.” Omtrent elke natuurlike mens wat nog nie in Christus is nie, wat hoor van die hel, troos homself: ‘Ag, op een of ander manier gaan ek dit ontkom.’ Maar die werklikheid is; ons kan die koninkryk net in tollenaarskoene binnestap. Ons kan dit nie sterk genoeg beklemtoon nie. Die vraag is dus; staan ek en jy in sulke skoene? Indien wel, dan kan ons huis toe gaan met die wete dat die Here God in ons lewe genade gegee het. Genade alleen. Dit kan wees dat daar iemand is wat in tollenaarskoene staan, maar wat nog nie in Christus ingevlug het nie. Dan kan ek vir jou sê: “Jy is ‘n half-tree weg van die koningkryk af. Net ‘n half-tree.” Kom ons sê dit baie reguit en so kort as moontlik in ‘n neutedop. Daar is net twee soorte mense in hierdie wêreld. Dis diegene in Adam en dis diegene in Christus. Dis diegene wat deur ‘n ware geloof met Christus verenig is en diegene van wie dit nog nie geld nie, wat nog altyd in Adam is. Wat staan ‘n mens dus te doen? Wel, vlug in Christus in. Hy belowe ons: “Ek sal hom wat na My toe kom nie verwerp nie” in Johannes 6:37. Eintlik as jy na die oorspronklike taal gaan kyk daar, dan is daar ‘n dubbele negatief. Ek sal hom wat na My toe kom nie, nee nooit verwerp nie. As jy dus in tollenaarskoene sou staan, maar nog nie met Christus verenig is nie, wat staan jou te doen? Dis so eenvoudig, vlug in Christus in. Doen wat hierdie tollenaar gedoen het, smeek om genade, bely jou sonde, omhels Christus as jou persoonlike Saligmaker, stel jou vertroue op Hom en op Hom alleen. Kom op ‘n punt wat jy Hom dus omhels, vlug in Hom in. Dis die antwoord. As jy reeds met Christus verenig is; weet dat jy genade ontvang het. As jy dus ‘n hart het wat brandende is van dankbaarheid vir wat die Here vir jou gedoen het, dien Hom. Hoe dien ‘n mens Hom? Wel, een manier om dit te stel, is om te sê, demonstreer genade in jou lewe deur voortdurend ‘n betoner van genade te wees teenoor jou medemens. Wat beteken genade? Om te gee die teendeel van wat iemand verdien. Iemand wat genade betoon, as iemand na hom toe kom met ‘n versoek, dan jaag hy hom nie weg en sê: ‘Man, jy verdien eerder om in die tjoekie te sit’ nie, of ‘Jy verdien om hel toe te gaan’ nie. Nee jy betoon genade, want ek en jy het genade ontvang en nou gee ons daardie genade aan. Natuurlik, ons verkondig dit, ons verduidelik dit. Ons moet dus wandelende demonstrasies wees van wat God se genade beteken. Eintlik kan ons nie anders nie. Ons wil. So brand dit in ons herskepte harte.

– – – o0o – – –