Geloofsfondamente No.02 – Die Skrif alleen

Sola Scriptura (Die Skrif alleen)

’n Reeks van preke wat Nico van der Walt gelewer het.

Terugblik

Ons het gepraat oor die absolutes in ons geloof; dat daar deur die eeue sekere vaste bakens was, sekere vaste hoekpenne, wat universeel en tydloos geldig is. Dit is natuurlik ‘n stelling wat nie baie gewild is in ons dag nie. Ons leef in die dag van postmodernisme en die hart van postmodernisme lê in die idee van relatiwiteit. Alles is relatief, niks is vas nie. Dis hoe jy dit beleef, dit is wat saak maak, maar vir objektiewe waarheid het die postmodernisme bloedweinig ruimte en dis baie algemeen in ons dag. As ‘n mens dus praat van vaste, onwankelbare, ewige, universele waarhede, dan gaan dit teen die grein van ons dag. Dit is nogtans wat die Bybel ons leer en ek dink wat enige normale, nugter mens besef waar is. Alles kan nie maar net relatief wees nie.Daar is ‘n hele stryd aan die gang rondom die objektiewe waarhede van die Bybel. Dit word in ons dag bespreek in die koerante. So het Prof. Du Toit, in die Beeld, ‘n baie betekenisvolle stelling gemaak. Hy het gesê dat dit gaan in ons tyd oor die vraag; “Het Jesus gelewe? Was daar ‘n maagdelike geboorte? Het Hy opgestaan? Indien Hy dan nou gelewe het, wat was die historiese feite oor Sy lewe, ons weet dit nie.” Dit gaan veral nou natuurlik oor hierdie debat van die sogenaamde nuwe reformasie, van die Historiese Jesus. Trouens dit gaan ook oor ‘n Godsbeskouing. Dr. Piet Mulder wat nou weer ‘n voorstaander is van die Jesus Seminaar en van die sogenaamde Nuwe Reformasie, het ‘n brief in die Beeld gehad waarin hy aantoon dat alles is God, of beweer alles is God. God is in die stoel en die stoel is in God. Dit is niks anders as panteïsme nie. Dit kan tot niks anders as agnostisisme lei nie. Prof. du Toit het die baie betekenisvolle stelling gemaak dat dit uiteindelik gaan oor hierdie eenvoudige vraag; “Is daar ‘n God buite ons wêreld in die dimensies waarin ons leef? Is daar so ‘n God, of is die God waarvan die mense van die nuwe reformasie praat, of is Hy bloot maar net ‘n bedigsel van ons eie gedagtes en ons eie emosies en belewinge?” Die vraag is dus, is daar m.a.w. ‘n objektiewe God buite die wêreld van ons dimensies? Ek dink hy is heeltemal in die kol. Hierdie dinge is in ons teologiese fakulteite, dit is in die teologiese kringe en daarom is dit so belangrik om in hierdie dae werklik te praat oor die historiese Christelike geloof en die vaste bakens wat eenvoudig universeel geldig is.

Inleidend

Ons tema is eintlik die Vyf Solas van die Reformasie. Hierdie wekroepe van die 16de eeuse reformasie het eintlik al in Martin Luther se gemoed ontstaan. ‘n Mens sou kon sê dat sedert hy sy stellinge op die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het in 1517 totdat hy by Worms moes gaan verskyn het, dit is ongeveer 4 jaar, in 1522, het hierdie hele kwessie van die Sola Scriptura baie duidelik vorm aangeneem in sy gemoed. Wat was die vraag destyds gewees? Die vraag was, “Waarop baseer die kerk sy geloof, waarop baseer hy sy oortuigings, sy verkondiging en sy norme?” Die Roomse Katolieke kerk het tradisioneel gesê dat dit word gebaseer ja, op die Bybel, plus kerklike tradisie. Onder kerklike tradisie het hulle nie verstaan wat ons noodwendig daaronder sal verstaan dat jy sekere dinge doen en nie doen nie. Kerklike tradisie het meer te doen gehad met die kerk se oortuigings en beskouinge en besluite en die Pouslike enseklieke deur die jare en dit is dus m.a.w. ‘n voortgaande openbaring deur kerklike en sinodale besluite. Dit was die Roomse Katolieke beskouing. Die Skrif plus tradisie. Luther het al hoe meer besef, dit is die Skrif alleen. Hoekom? Omdat mense, en dit sluit ook Pouse in en hy het dit aangetoon histories, mekaar weerspreek het. Mense is feilbaar. Daar is net een ding wat vas staan en wat onfeilbaar is en dit is die Skrif, die Woord van God, die geopenbaarde Woord van God. Daarom kan ‘n mens nie jou absolutes bou op die feilbare besluite en tradisies van die kerk nie. Uiteindelik was dit een van die basiese punte waarop die paaie uiteengeloop het tydens die Reformasie. Is dit die Bybel plus tradisie of is dit net die Bybel? Sola beteken alleen en Scriptura natuurlik die Skrif. Die vraag is, is dit alleen die Skrif of is dit die Skrif plus nog iets. Hul het destyds nie net te doen gehad, aan die een kant met die Roomse Katolieke Kerk wat die Skrif plus verkondig het nie, daar was ook ekstreme kringe onder die Ana-baptiste, dit was maar sektariese groeperinge. By hierdie ekstreme sektariese groeperinge was daar ‘n baie sterk mistisisme aan die orde en het hulle weer geglo dis die Bybel plus buite-Bybelse openbaringe. Dit is ook nie vir ons ‘n nuwe ding nie, want ons kry dit baie sterk in sekere bewegings in ons dag. Dit was dus baie belangrik dat die reformatore dit deurdink het en dit het begin by Luther. Uiteindelik is dit dus ‘n kwessie van waar het jy betroubaarheid? Waarop kan jy peil trek? Wat is vas? Wat is werklik bakens of die woord wat ons in die eerste deel van hierdie reeks gebruik het, wat is “benchmarks”? Luther was van harte oortuiging daarvan en ek dink ons kan volmondig met hom saamstem, dat jy hierdie vastigheid en betroubaarheid nie het in kerklike tradisie op sigself nie en dat jy dit nog minder het in allerlei mistiese buite-Bybelse openbaringe. Daarom het hierdie beginsel van Sola Scriptura so ‘n hoekpen geword. Dit gaan dus oor betroubaarheid, dit gaan oor waarheid en uiteindelik lei dit dan ook, as jy Sola Scriptura handhaaf, tot die beginsel van die genoegsaamheid van die Skrif. Ons het niks meer nodig as wat ons in die Skrif het, om godvrugtig te lewe en salig te sterwe nie en om God te dien soos ons moet nie.

Joh 5v39-40

Hierdie hele tema van Sola Scriptura is ‘n enorme groot en ‘n moeilike tema.
Ek wil na ‘n enkele teks toe te gaan en daardie teks uitlê en in die proses by sekere van hierdie beginsels uitkom. Ek behandel nie Sola Scriptura histories, teologies en filosofies omvattend nie. Dit is ‘n tema waaroor daar honderde proefskrifte reeds geskryf is en wat die grootste denkers in die kerk besig gehou het. Joh 5v39-40. Die Here Jesus praat hier met die Joodse Skrifgeleerdes, en dan sê Hy vir hulle: “Julle ondersoek die Skrif omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry en dit is juis die Skrif wat oor My getuig. Tog wil julle nie na My toe kom nie, sodat julle die lewe kan kry nie”.
Wat ons moet raaksien is dat die Here Jesus vir ons in hierdie gedeelte verduidelik wat Sy Skrifbeskouing is. Hoe Hy in die eerste instansie die Ou Testament gesien het, maar daardie beginsels kan deurgetrek word na die Nuwe Testament toe. Hy gee hier vir ons ‘n klompie belangrike perspektiewe op Sy Skrifbeskouing en een van die groot redes waarom ‘n Christen die Bybel aanvaar as God se geïnspireerde Woord en gesagvolle Woord is omdat die Here dit gedoen het en ons is navolgers van Jesus. Hierdie twee verse spreek veral vier sake aanen dit sal aan die orde kom soos ons deur dit werk.

In die eerste instansie spreek dit die oorsprong van die Skrif aan. Tweedens die gesag van die Skrif. Derdens die fokus van die Skrif. Vierdens die regte en die verkeerde gebruik van die Skrif. Ons gaan konsentreer op hierdie vier dinge. Op hierdie stadium is die Skrif nog die Ou Testament, maar dit sou sekerlik nie verkeerd wees om hierdie lyne deur te trek na die Nuwe Testament toe nie. Dit is so dat die Here Jesus in die bovertrek die aand voor Sy kruisiging vir Sy dissipels gesê het dat een van die groot take van die Heilige Gees gaan wees om hulle, die apostels, toe te rus om die Nuwe Testamentiese kanon op Skrif te stel. Dit is die nuwe testamentiese geskrifte en so verleen Hy dan Sy mandaat ook aan die Nuwe Testament. Hier het ons ‘n uitspraak van die Here Jesus Christus self wat Sy eie Skrifbeskouing baie duidelik verwoord. Ons moet dit baie reguit vir mekaar sê, beswaarlik kan ‘n mens in integriteit daarop aanspraak maak dat jy ‘n dissipel van Jesus is as jy Hom nie navolg in hierdie mees fundamentele saak nie; Sy Skrifbeskouing. Hoe kan ‘n mens sê hy is ‘n dissipel van Jesus, hoe kan hy dus sê dat hy ‘n Christen is, in integriteit, as hy nie Jesus navolg in hierdie kardinale belangrike saak naamlik Skrifbeskouing nie.

Konteks van Joh 5v39-40

Ons kan hierdie verse net behoorlik verstaan as ons kyk na die konteks, veral die voorafgaande verse. Johannes 5 het grootliks te doen met die gesag waarmee die Here Jesus gepraat het en waarmee Hy gedoen het en met die gronde vir Sy aansprake oor Sy gesag. Die gesag waarmee Hy gepraat het; die gesag waarmee Hy opgetree het. Dit gebeur na aanleiding van ‘n genesing. Hy maak op die Sabbatdag ‘n sieke gesond daar by die bad van Betésda. Dit is op die Sabbatdag. Die Joodse skrifgeleerdes is baie ongelukkig daarmee dat Hy ‘n sieke op die Sabbatdag gesond maak en daarbenewens met die feit dat hierdie sieke ook nog sy bed optel en daarmee wegloop. Dit is vir die Skrifgeleerdes van destyds ‘n baie ernstige oortreding van die Tien Gebooie en hulle neem aanstoot daaraan. Dan reageer die Here Jesus daarop en Hy sê vir hulle dat Hy en Sy Vader saamwerk, Joh 5v17. HY sê dat die Vader bepaalde werk aan Hom toevertrou het en dat dit ‘n tweeledige taak is. In die eerste instansie moet Hy lewe gee aan die dooies, Joh 5v21, sodat elkeen wat hoor en glo die ewige lewe kan ontvang en in die tweede instansie moet Hy God se oordele voltrek, Joh 5v22. M.a.w. in die eerste instansie moet Hy lewe gee en in die tweede instansie moet Hy oordeel. Dis ‘n tema wat ons regdeur die Evangelies kry dat die Here Jesus kom om twee dinge te doen. Ons kry dit al in die Ou Testamentiese Messiaanse profesie, ons kry dit by uitnemendheid, by Johannes die Doper wat sê dat Hy sal kom en Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. In die konteks daar is die doop met vuur, die vuur van oordeel, want hy praat van bome wat uitgekap word en verbrand word en die kaf wat in die vuur gegooi gaan word. Daar is altyd maar weer hierdie twee fokuspunte in die bediening van ons Here Jesus Christus. Vanaf Joh 5v25 ontwikkel die Here dan Sy tema verder dat hierdie proses van skeiding, sê Hy vir hulle, is reeds aan die gang. Hy is reeds besig om die mandaat wat Hy van die Vader gekry het, uit te oefen. Dit sê Hy in Joh 5v26-27, want reeds hoor mense wat geestelik dood is Sy stem en hulle begin lewe, geestelik lewe en hierdie verdeling, hierdie skeiding is dus aan die gang. Dit is alles net ‘n voorspel op wat op die laaste dag gaan gebeur sê Hy daar vir ons, in Johannes 5v28: “En daar kom ‘n tyd wanneer almal wat in die grafte is, Sy stem sal hoor en sal uitgaan en die wat goed gedoen het sal opstaan en lewe en die wat verkeerd gedoen het sal opstaan en veroordeel word.” M.a.w wat nou aan die gang is, is net die voorspel. Uiteindelik sal dit kulmineer; tot volledige klimaks kom in die opstanding eendag wanneer, ja, alle mense sal opstaan, maar sommige sal opstaan tot die ewige lewe en ander sal opstaan tot die ewige dood.

Jesus se twee aansprake, naamlik dat Hy lewe gee en dat Hy oordeel is uiteraard dinge wat net by God berus en die Joodse Skrifgeleerdes neem dan ernstig aanstoot hieraan, want hulle sien daarin en hulle sien tereg daarin dat Hy daarop aanspraak maak dat Hy Goddelike gesag het en dat Hy God is en daarom kom die begronding vir Sy aansprake nou ter sprake en daaroor praat Hy dan nou verder hiervan in Joh 5v30-38. Hy maak dan drie stellings oor Homself. In die eerste instansie sê Hy dat Hy nie optree vanuit eie inisiatief nie, maar dit is die Vader se roeping en bekragtiging. M.a.w. Sy optrede kom van die Vader af. Die tweede ding wat Hy dan sê is dat Hy tree nie selfsugtig op nie, Hy wil net die Vader se wil doen. Die derde ding wat Hy sê is dat hy nie Sy saak bou op die getuienis van ander mense nie, selfs nie op dié van Johannes die Doper nie. Nee sê Hy, dis nie nodig nie, want die Vader getuig oor Hom, sê Hy in Joh 5v31-37. Die vraag is, hoe getuig die Vader oor Jesus? Op twee manier sê Hy; deur die werke en deur die woorde. In die eerste instansie gee die Vader vir Hom die krag om die wonderwerke te doen en Hy weet die Joodse Skrifgeleerdes het dit gesien en hulle sien dit steeds. Waar kry Hy hierdie gesag vandaan? Dit kom van die Vader. Die Vader gee vir Hom die krag en daarom is dit getuienis van die Vader. Die tweede ding is die Vader praat ook oor Hom, getuig ook oor Hom, Hy is dus nie afhanklik van menslike getuienis om Sy Goddelike gesag te bekragtig nie. Waarna verwys Jesus? Wel, in die eerste instansie, Hy sê die Vader getuig nie met ‘n hoorbare stem nie, want watter Jood het Sy stem gehoor? Tweedens sê Jesus Hy praat ook nie van visioene nie, want niemand het Sy gestalte gesien nie, Joh 5v37b. Nee sê Hy, Hy verwys na die geskrifte van die Ou Testament. Die Vader getuig dus oor Hom, in die eerste instansie deur Hom die krag te gee om die wonderwerke te doen en in die tweede instansie getuig Hy deur die Ou Testamentiese getuienis oor Hom. Die geskrifte van die Ou Testament praat oor Hom. Die Jode slaan nou nie ag hierop nie en dan sê Hy vir hulle die groot rede is dat die Woord nie in hulle lewe nie. Hoe kan Jesus dit sê? Wel, sê Hy, as die Woord in julle geleef het sou julle My erken het vir wie Ek is en sou julle in My geglo het as die Een wat die Vader gestuur het, Joh 5v38. Dit is kardinaal belangrik wat Hy hier sê. Wat Hy daarmee sê is dat die Ou Testament getuig oor Hom. Hy sê verder dit is nodig dat jy innerlik verlig word om die Ou Testamentiese getuienis raak te sien, oor Hom. As jy nie hierdie innerlike verligting beleef nie, sodat die Woord in jou leef nie kan jy die Ou Testament ‘n honderd keer deurlees en jy sal Jesus nie daar sien nie. Maar as die Heilige Gees in jou woon, kom ons praat dan maar moderne taal, of Nuwe Testamentiese taal, as jy wedergebore is, dan begin jy Jesus Christus in die Ou Testament raaksien. Natuurlik vanuit die konteks kan ons nou aflei hoe die Here Jesus die Ou Testament sien. Ons kan nou sê dat daar twee aspekte is van die Here Jesus se Skrifbeskouing wat hier na vore kom. Dit was nog altyd belangrik, maar veral in ons dag. In die eerste instansie sê Hy en onthou ek beklemtoon dit net weer, hier het ons Jesus Christus se eie Skrifbeskouing. In die eerste instansie beklemtoon Hy dat die Ou Testament van God af kom. Dit is God wat spreek. Dit is God wat getuig. Dit is die Here se Woord. Nou dié van julle wat enigsins ingelig is sal weet dat dit mode is vandag, maar nie net vandag nie, eintlik al baie, baie jare of liewer eintlik al van die vroegste tye af, om die Ou Testament te bevraagteken. Daar word soveel dinge in die Ou Testament opgeteken wat vir ons baie moeilik is om te verstaan en dan sê Jesus hier, maar wat Hom betref, en Hy sê dit met Sy gesag, Sy Goddelike gesag, die Ou Testament is God se spreke.

Die tweede ding wat Hy sê is dat die Ou Testament oor Hom as die Christus getuig. Die Ou Testament is van Goddelike oorsprong. Dit is natuurlik nie ‘n standpunt van die Here Jesus wat beperk is tot hierdie verse waarna ons kyk nie. Oor en oor kry ‘n mens dit in die lering van ons Here Jesus dat Hy die Ou Testament kinderlik gelowig geglo het. Daar is geen enkele aanduiding in die Evangelies dat Hy ‘n vraagteken oor enigiets in die Ou Testament geplaas het nie. Hy het dit eenvoudig van A tot Z kinderlik gelowig aanvaar. Hy het dit gerespekteer en Hy het Sy lewe daaraan onderwerp en Hy het daarvolgens gepreek. Trouens daar is positiewe stellings van Hom, bv. dié van Matt 5v18 waar Hy sê dat daar nie ‘n letter of ‘n letterstrepie van die wet sal wegval nie; niks nie. Dit sal nie wegval nie. Kyk bv. in Johannes 10 waar Hy sê dat die Skrif nie gebreek kan word nie, sê die Ou Vertaling. ‘n Mens sien ook dat lank voordat bepaalde dinge met Hom gebeur het, het Hy dit reeds voorsien op grond van Ou Testament profesieë. Hy het die profesieë in die Ou Testament gelees en Hy het geweet wat op Hom wag. So bv. praat Hy oor Sy komende dood, Hy praat oor Sy opstanding en Hy praat daaroor op grond van wat die Ou Testament oor Hom sê. Teen die einde van Sy openbare optrede dan sê Hy vir Sy dissipels, kyk ons gaan nou Jerusalem toe en alles wat die profete oor die Seun van die Mens geskryf het sal daar bewaarheid word in Lukas 18. As Petrus Sy arrestasie wil verhoed, julle onthou mos dat Petrus wou daar sy swaard uitgepluk en keer, dan sê Jesus vir hom, in Matt 26: “…of dink jy nie Ek kan nie My Vader om hulp vra nie. Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel, maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?” Die Here Jesus het ook van ander mense om Hom verwag dat hulle die Ou Testament so glo. Wat Hom betref, het die Ou Testament, of die Skrif dan, van Sy dag, finale seggenskap in alles gehad. Sy groot klagte teen die skrifgeleerdes was, het julle dan nie gelees nie? Dit is daar, vers en kapittel. Of die Emmaus-gangers. Julle onthou mos die twee manne wat so moedeloos was toe hulle na die kruisiging teruggestap het en gesê het, “Ag ons het gehoop Hy is die Messias, maar nou is Hy gekruisig en Hy is dood.” Dan sê Jesus vir hulle, toe Hy by hulle inval en saam met hulle stap; ..”Wat ‘n gebrek aan begrip en wat ‘n traagheid van gees. Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie, moes die Christus dan nie al hierdie dinge ly om in Sy heerlikheid in te gaan nie?” M.a.w. dit staan dan in die Ou Testament. Hoe is julle so dom. Dit moes mos gebeur. Daar kan maar net een verklaring hiervoor wees, die Here Jesus het kompromieloos geglo wat die Ou Testament sê is wat God sê. Die vraag oor die Nuwe Testament, ek het reeds daarna verwys, Jesus gee sterk aanduidings, ons het nie tyd om daarna te kyk nie, in die Evangelies dat die Nuwe Testamentiese geskrifte eweseer van God sal kom en deur die Gees geïnspireer sal wees. Ons as navolgers van Jesus aanvaar die inspirasie en die gesag van die Bybel in die eerste instansie omdat Hy dit so aanvaar.

Kom ons praat net vinnig oor die Ou Testament wat oor Jesus getuig. Oor en oor kry ons dit in die Ou Testament. In Johannes 5v39 sê Hy dit, hier in hierdie teks waarna ons kyk, “…en dit is juis die Skrif wat oor My getuig.” In vandag se teologiese wêreld word dit beswaarlik meer aanvaar dat die Ou Testament oor Jesus getuig. Want sê hulle, hoe kon hulle geweet het van Jesus, dis mos logies, hulle kon mos nie van Hom geweet het nie en in elk geval is die geskrifte van die Ou Testament maar bloot menslike geskrifte oor hoe hulle hul geloof beleef het en hoe hulle gedink het oor God. Natuurlik as die Ou Testament Godgeïnspireerd is en van die Here God self af gekom het, dan is dit anders. God bepaal die toekoms. Die Ou Testament is ‘n boek van hoop en van onvervulde verwagtinge. Van begin tot einde, tuur dit vooruit altyd maar weer na die koms van Christus. As jou oë eers hiervoor oop is, sien jy dit orals in die Ou Testament. Die talle en talle beloftes wat gemaak word, selfs al aan Adam en Eva. Die saad van die vrou sal die kop van die slang verbrysel. Ek sê die talle en talle beloftes, aan Abraham, aan Moses, aan die profete gaan almal in Christus in vervulling. Dit is presies wat Paulus in 2 Kor 1v20 sê, as hy sê, ”Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom, dit is in Christus is hulle ja en in Hom is hulle amen.” ‘n Mens sien selfs in die instellings in die ou Testament, die wet bv., Paulus sê vir ons in Galasiers 3 die wet was die kinderoppasser gewees en hy sinspeel waarskynlik meer daar op die seremoniele wet, wat die volk Israel voor die koms van die Heilige Gees op die pad moes hou. Die volk dus moes verhoed om die spoor byster te raak en daarom het God vir hulle die wet gegee. Dis so met kinderopvoeding, dis algemeen, jy moet vir kleiner kinders allerlei reëls gee en soos wat die kinders groter word verval van daardie reëls, totdat hulle uiteindelik volwasse is en daardie reëls nie meer geld nie. Dan staan hulle op hulle eie voete en dit is presies wat Paulus in Galasiers 4 sê. Hy sê, “Ons is nou nie meer kinders nie, ons is nou volwasse.” Hoekom? Want die Heilige Gees het gekom. Die punt is net dat die wet is die kinderoppasser, word daar gesê, wat die volk na Christus toe moes lei. Toe Jesus Christus gekom het en Sy versoeningswerk afgehandel het was dit moontlik dat die Heilige Gees kom en toe was die volk van die Here volwasse. Nou woon die Gees in ons en ons het nuwe harte ontvang en dis nie meer nodig dat ons reël op reël en gebod op gebod het nie, want ons word geregeer vanuit ons herskepte harte deur die inwonende Heilige Gees. Of die offerstelsel bv. Die offerstelsel het op ‘n duisend maniere vooruitgekyk en in die besonder het dit gekyk na die versoeningswerk wat die Here Jesus gaan kom verrig dat Hy Homself sal offer as die strafdraende plaasvervanger in die plek van die mense vir wie Hy gekom het. Of die ampte. Vat nou maar die profete, hulle profesieë is boordevol Messiaans, jy kry dit oor en oor. Vat die priesters, hulle werk het vooruitgewys na die Groot Hoë Priester wat Homself sou kom offer. Of die konings, wat ‘n voorafskaduing was van die Messias se volmaakte regering van vrede en geregtigheid. So kan ons eenvoudig aangaan. Daar is talle en talle profesieë, oor en oor. Baie betekenisvol dat toe Jesus saam met die Emmausgangers gestap het daardie aand, dan verduidelik Hy vir hulle die Evangelie vanuit die Ou Testament en daar staan in Luk 24v27, “Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het vir hulle uitgelê.” Onthou julle Fillipus, wat die Etiopier, wat daar op die wa gery het, na die Here toe lei, Fillipus het by hierdie Skrifgedeelte, en dis Jesaja 53 duidelik daar begin en die Evangelie oor Jesus aan hom verkondig. Dit was dus vir Fillipus moontlik om hierdie Etopiër na die Here toe te lei, op ‘n evangeliese wyse, sonder die Nuwe Testamentiese openbaring. Hy doen dit vanuit die Ou Testament en ek en jy behoort dit ook te kan doen. As ‘n mens bv. Jesaja 53 lees dan voel dit vir jou jy lees Nuwe Testament. As Christus die hart is van die Ou Testament, is Hy dit uiteraard des te meer van die Nuwe Testament. In die Evangelies lees ons oor Hom. Hy is die hoofkarakter, daar is tog geen twyfel daaroor nie. Handelinge beskryf hoe Hy voortgaan om te werk deur Sy Heilige Gees en deur Sy dissipels. Die apostoliese briewe ontvou die betekenis van Christus se Persoon en van Sy werk en van die openbaring wat deur Hom gekom het. Die Openbaring boek praat oor Koning Jesus se triomf in hierdie wêreld, ens. Dit bly eenvoudig vir my ondenkbaar dat iemand wat enigsins ‘n respek vir die gesag van die Woord het, kan sê dat daar niks van Jesus Christus in die Ou Testament is nie. Let op, die oomblik wat jy dit sê, dan trek jy nie net ‘n swart dik, minagtende streep deur die Ou Testament nie, jy trek dit ook deur die Nuwe Testament, want die Nuwe Testament sê oor en oor dat die Ou Testament oor Jesus getuig. Dit wat die gesag en die oorsprong van die Skrif betref.
Kom ons kyk net laastens na die regte en verkeerde gebruik van die Bybel, of die funksie van die Bybel. Die Skrifgeleerdes, sê Jesus, maak van die Bybel ‘n doel opsigself en nie ‘n middel tot ‘n groter doel nie. Kyk daar staan, “Julle ondersoek die Skrifte omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het.” Hulle het gedink deur bloot, kom ons sê, die Skrifte te ondersoek, dit opsigself is genoegsame verdienste en meriete om op grond daarvan die ewige lewe te kry. Dan sê Jesus vir hulle, nee, die Bybel is nie ‘n doel opsigself nie, die Bybel is ‘n middel tot ‘n doel. Wat is hierdie uiteindelik doel, naamlik kennis van die Seun van God en in die Seun en deur die Seun van God self. Dit is waaroor dit gaan. Dit is hoekom Hy sê die Skrif getuig oor Hom. So die doel van die Skrif, as dit dan oor Hom getuig, is om ons wanneer ons die Skrif bestudeer na Christus toe te neem. Die Jode was baie ernstig oor hulle bybelstudie, as ek dit so kan uitdruk, geweldig. Hulle het met groot ywer en drif die Skrifte bestudeer. Hulle het dit as ‘n baie groot voorreg beskou dat die Godsopenbaring aan hulle toevertrou is en uiteindelik het hulle met pynlike akkuraatheid, noukeurig wanneer hulle bv. die geskrifte van die Ou Testament oorgeskryf het, elke woord en elke letter getel om seker te maak al die letters is daar. As daar dan ‘n kopie gemaak is, want dit is met die hand oorgeskryf, dan het hulle weer die letters gaan tel. Hulle het bv. die middelste woord van elke boek gaan opspoor en dan het hulle weer getel en verdeel en weer van voor af die helfte getel om te kyk of hulle weer by dieselfde letter uitkom. So was hulle dan baie, baie gesteld daarom op elke jota en tittel van die Ou Testament in plek te hou. Nou dis nie verkeerd nie. Dis tewens prysenswaardig, want hulle het hierdie hoë respek gehad vir die Woord. Maar Jesus sê, “Julle probleem is julle dink dat julle daarin opsigself die ewige lewe, dat dit opsigself die verdienste is vir julle saligheid.” Hulle het uit die oog verloor, m.a.w. dat die Skrifte gegee is om ‘n wegwyser na Christus toe te wees. Wat ons moet verstaan wat die Here Jesus hier vir ons sê, is dat die Bybel, ten spyte daarvan dat ons ‘n geweldige hoë agting moet hê vir die Woord van God, nie opsigself reddende krag het nie. Daar is baie uitsprake in die Nuwe Testament wat die indruk by ons kan wek dat die Bybel wel reddende krag het. Dink maar aan Handelinge 20v 32 waar Paulus daar in Efese sê vir die ouderlinge van Efese, “Nou vertrou ek julle aan God toe en aan die Woord van Sy genade. Die Woord is magtig om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het.” Rom 1v16, die bekende uitspraak, “Ek skaam my nie oor die Evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding.” Jakobus 1v18, “Omdat dit Sy wil was het God ons deur Sy Woord van die waarheid tot lewe gebring.” 1 Pet 1, “Julle is wedergebore deur die lewende Woord van God.” Hoe kry ons die kloutjie by die oor? Wel, die antwoord is in die teks. Al het die Skrif nie reddende krag in homself nie, speel dit tog ‘n onmisbare rol in die proses van redding, want dit lewer getuienis oor Jesus Christus self. Dit is asof die Bybel dus kom en ‘n kollig of ‘n skerp lig laat skyn op Jesus Christus en in die proses die leser en die student na Jesus Christus toe vat en die redding is in Jesus Christus. Lewe is alleen by Jesus Christus verkrygbaar. Dit is presies wat Johannes sê bv. aan die einde van sy Evangelie. Hy skryf daar, die doel waarom hy die Evangelie geskryf het, is dit, hy sê, “Hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God en sodat julle deur te glo in Sy Naam, die lewe kan hê.” Hy sê m.a.w. ek het my Evangelie geskryf en my Evangelie fokus op Jesus Christus en my doel is dat julle deur my Evangelie te lees Jesus Christus sal raaksien en in Hom sal glo en sodoende die ewige lewe sal hê. U kan ook maar kyk na 2 Tim 3v15.

Net by wyse van afsluiting drie toepassings. Wat sê dit vir ons? Ek het reeds die stellings gemaak rondom die teenwoordigheid van Jesus Christus in die Ou Testament, ens. Ek gaan nie meer sê daaroor nie. Kom ons benader dit so. Die eerste ding wat ek sê is om ‘n Bybel te hê is op sigself nie genoeg nie. Dit moet bestudeer word. Dit is verstommend hoe bygelowig mense oor die Bybel is. Party mense sal met die Bybel onder hulle kopkussing slaap. Ander ouens in wie se lewens daar beswaarlik sprake is van dissipelskap sal altyd ‘n Bybel op sy lessenaar hê, of meer gewild natuurlik ‘n Bybel op die talfeltjie langs jou bed. Dis min of meer soos Israel destyds toe hulle die verbondsark laat haal het toe hulle begin slae gekry het daar in die oorlog teen die Fillistyne. As die verbondsark net hier is, maar dit is bygeloof. Ons moet Bybelse aanbidders wees, nie Bybelaanbidders nie. Dit is ‘n baie subtiele onderskeid wat ons moet maak maar dit is baie belangrik wat Jesus hier vir hulle sê. Vir baie mense is die Bybel net van simboliese waarde, net ‘n vertoonstuk. Vroeër, as ‘n staatspresident beëdig word, dan sit hy sy hand op ‘n Bybel. Nou leef ons in ‘n sêkulere staat en dit word nie meer gedoen nie. Ons as Christene hoef natuurlik nie hieroor bekommerd te wees nie, inteendeel ons moet eintlik daaroor dankbaar wees, want dit was eintlik van die vroegste tye af net ‘n stuk bygeloof wat die Here vertoorn het. Nee, ons moet verstaan die Bybel het inhoud. Hierdie inhoud moet bestudeer word en hierdie inhoud het deur die eeue van die grootste intellekte wat ooit geleef het lewenslank besig gehou. Ons geloof het inhoud. Ons moet dit verstaan, ons moet greep kry daarop. Ons moet dit lees. Ons moet dit bedink. Ons moet die verbande raaksien. Ons moet daaroor praat.

Die tweede toepassingspunt is dit, om die Bybel te bestudeer op sigself is nie genoeg nie, dit moet oor Jesus Christus gaan. Daar is tienduisende Bybelstudente in ons dag wat hierdie lewensbelangrike les van die Here Jesus hier vergeet. Bestudering van die Bybel met enige ander doel as om God en Christus beter te leer ken en beter te dien en meer te verheerlik, is ernstig onder verdenking en bes moontlik ook futiel. Hoeveel Bybelstudente is daar nie wat allerlei troeteltemas het nie. Sommige van julle het hulle miskien al teëgekom. Party mense stel net in die Bybel belang oor wat dit oor die huwelik leer, of oor kinderopvoeding. Nou ons het ook in ons gemeente kursussse oor kinderopvoeding en kursusse oor die huwelik, dis belangrik dat ons daarna kyk. Maar vir party mense is dit oënskynlik al wat die Bybel leer. Meer tipies nog is dat jy sekere mense kry wat net na die Bybel toe gaan oor die eindtye, wat dit oor die eindtye leer. Ek het ‘n vriend gehad wat op ‘n stadium so vasgegryp is deur die Antichris en dis al waaroor hy kon praat. Ek moes eendag vir hom sê, man ek is oor jou bekommerd want ek hoor nooit meer dat jy oor Jesus Christus praat nie, jy praat meer oor die Antichris as enigiets anders en die dinge wat daarmee saamgaan. Of moraliteit, dit gaan net oor moraliteit of wat die geval mag wees. So ons moet oppas dat ons nie opgaan in allerlei troeteltemas nie. Jy kry mense wat die Bybel bestudeer en al die kodes daarin ondersoek. So ‘n paar jaar terug was daar ‘n boek, the Bible code, onthou julle dit? Dan sal mense vreeslik opgewonde raak daaroor, maar hulle kom nie by Jesus Christus uit nie. Hoeveel geleerdes is daar nie wat teologie ter wille van teologie beoefen nie, sonder ‘n innerlike aandrang om God beter te ken in Christus. Teologie as bloot maar wetenskapbeoefening, teologiese opleiding wat bloot maar teoloë oplei en nie daaroor begaan is om pastors en predikers te lewer wat die kerk van die Here kan opbou en wat die Evangelie kan uitdra nie Ek sê al hierdie tipe van teologiese aktiwiteite is Bybels gesproke ernstig onder verdenking. As ‘n mens nou gaan terugkyk in die geskiedenis van die kerk dan sien jy dat dit uit daai kringe is wat die Skrifkritiek gekom het. Dit is uit daai kringe wat daar eindelose ellende vir die Kerk altyd maar gekom het, deur die jare van teologiese fakulteite wat bloot begaan is daaroor om sogenaamde bybelwetenskap te beoefen. Nee, waaroor is daar so iets soos teologiese opleiding, om predikers en pastors op te lei, om sendelinge op te lei, ter wille van die koms van Koninkryk. Dan is dit legitiem. Betreffende die opvoeding van ons kinders, is daar te veel ouers wat by hulle kinders die idee kweek dat dit in die Bybel bloot gaan oor moraliteit. ‘n Kindjie van Jesus praat nie so nie. Wat doen ons dan, ons maak van kleins af Fariseers groot wat die idee het dat as jy goed genoeg lewe dan is jy ‘n Christen. Nee, ons moet ons kinders van kleins af die fundamentele absolutes van die Skrif leer en daardie waarhede wat hulle uiteindelik na Christus toe vat. Wie is God? Wat is die probleem van die mens? Hoe los God die mens se probleem op, in en deur Christus.
My derde en laaste toepassing is dit, om die Bybel Christosentries te verstaan is op sigself nie genoeg nie. Dit moet gehoorsaam word. Geloof sonder die werke is dood, natuurlik die eerste werk van die geloof is dat ‘n mens na Christus toe vlug en by Hom skuil. Die Jode het ‘n dubbele fout gemaak. In hulle ongeloof het hulle Jesus Christus in die Skrifte misgekyk en in hulle blindheid staan daar in vers 39 het hulle gedink en dis goed dat hule gedink het, maar hulle het verkeerd gedink. Jy hoor so dikwels dat mense sê, wel hy is darem opreg, maar soos ‘n mens in Engels kan reageer daarop, ‘you can be sincerely wrong’. Jy kan baie opreg wees, maar baie verkeerd wees. Dan natuurlik in hulle halstarrigheid het hulle geweier om na Hom toe te gaan ten einde die lewe te kry, hulle wou nie, volgens vers 40 en daamee sê die Here Jesus dat die groot probleem van die mens is tweërlei. In die eerste instansie is ons rede, ons dink verkeerd in ons pad om by die Here uit te kom en so was dit met die Skrifgeleerdes van destyds. In die tweede instansie, ons wil. Prediking is daarop ingestel om mense se denke rondom God en rondom Christus reg te stel. Uiteindelik kan prediking op sigself niemand se hart verander nie, want jy moet wil. Ons weet dit is ‘n genadewerk van die Gees in ‘n mens, maar die punt is sonder hierdie innerlike wil en begeerte gebeur daar niks nie. Ons moet sorg dat ons reg dink, ons moet sorg dat ons begeertes ook in ons toewyding aan die Here is.
Kom ek sluit dus af met hierdie slotwoord. Die Bybel is soos ‘n foto van sy verloofde wat ‘n soldaat op die slagveld in sy sak dra. Die foto is vir hom baie kosbaar, julle sal met my saamstem, die foto is net kosbaar omdat dit hom herinner aan sy geliefde. Of dis soos ‘n verkyker. Jy kyk daardeur, jy kyk nie daarna nie. ‘n Man gaan koop ‘n verkyker. Nou moet ek sê verkykers kan baie mooi goed wees. Jy sal dalk vir ‘n uur of twee of ‘n dag na die verkyker sit en kyk. Maar as jy na drie maande nog net na die verkyker kyk, dan lyk dit vir my moet hulle jou Weskoppies toe vat. Jy koop hom om deur hom te kyk. Of soos ‘n doktersvoorskrif. ‘n Doktersvoorskrif is uiters belangrik. Daarsonder kan jy nie die medikasie kry nie, maar dit is nie ‘n doel opsigself nie. Dis ‘n middel tot ‘n groter doel . Net so ook die Bybel. Daarom moet ons onsself toets. Nommer een, bestudeer ons die Bybel. Nommer twee, is ons Christusgesentreerd in ons omgang met die Bybel en nommer drie gehoorsaam ons die Here Jesus Christus, volg ons in Sy voetspore. Wat ek so sterk beklemtoon het, een van die eerste dinge wat ons as Jesus se navolgers moet doen, is om die Bybel te glo soos Hy dit geglo het.

– – – o0o – – –