Solus Christus (Christus Alleen)
Nico van der Walt
Ons praat oor Solus Christus. Christus Alleen. Dis ‘n heerlike onderwerp. Hierdie solo dring daarop aan dat die soenverdienste van Jesus Christus alleen genoegsaam is vir redding. Die reformatore het dit herontdek nadat die kerk deur ‘n duisend jaar van duisternis oor hierdie saak gekom het na Augustinus. Daarmee wil ek nie sê dat daar niemand in daardie duisend jaar was wat die evangelie nie verstaan het in daardie tyd nie. Daar was mense wat dit verstaan het.Meeste van hulle het hulself losgemaak van die Rooms Katolieke sisteem en meeste van hulle was dan ook vlugtelinge vir hulle geloof. Dit is duidelik, ek het bv. ‘n geloofsbelydenis wat uit die 11de of 12de eeu dateer waar die evangelie van God se genade in Jesus Christus alleen suiwer uiteengesit word en dit kom uit een van hierdie groepe wat op daardie stadium in die klowe van die Alpe geskuil het en vir eeue daar gebly het en werklik eers uitgekom het toe hulle verneem het van die reformasie. So dwarsdeur al hierdie sogenaamde donker eeue het die Here Sy mense gehad, dit is so, maar die groot institusionele kerk, die Rooms Katolieke sisteem het hierdie waarheid heeltemal verloor en dit is dan herontdek in die 16de eeuse reformasie. Een van die wekroepe van die reformatore was, Solus Christus, Christus alleen. Dit teenoor Rome se aandrang daarop dat dit menslike verdienste plus Christus se verdienste is wat ons redding verseker. Die reformatore het natuurlik hul uitsprake en hul standpunte gebaseer op baie uitdruklik skrifuitsprake in die Bybel. Die Bybel is vol daarvan maar in die besonder het hul ook ‘n oorsig gehad oor die hele verlossingsleer van die Nuwe Testament. Hulle het dit alles verreken en hulle het besef en verstaan dat hulle met hierdie wekroep nie net sê dit is onnodig dat ons nog werke by Christus se verdienste voeg nie. Hulle het ook verstaan dat as ‘n mens poog om menslike verdienste te voeg by Christus se verdienste is dit diskwalifiserend soos ek vir julle sal aantoon. Dit is m.a.w. nie net onnodig nie. Die reformatore het dus nie net gesê vir mense wat op die trapmeul van menslike verdienste, ag klim af man, julle het nie nodig om so swaar te kry nie. Hulle moes mense waarsku dat as jy dan nog inderdaad daarop aanspraak maak dat jou eie verdienste noodsaaklik is saam met Christus dan diskwalifiseer jy jou vir die saligheid. Onmiddellik sal julle verstaan dis ‘n lewensbelangrike saak hierdie. Ons gaan daarna kyk en ons gaan dit doen aan die hand van ‘n enkele skrifgedeelte, Galasiers 1. Julle sal begryp dat ‘n mens dosyne Skrifuitsprake in hierdie verband kon gebruik. Die een in Galasiers 1 maak dit baie mooi oop vir ‘n mens. Tewens die hele Galasiers-brief het daarmee te doen. Maar kom ons lees eers Gal 1v6-10. Ek lees die Nuwe Vertaling, maar ek sal ook na die Ou Vertaling verwys. Daar sê die apostel, “Dit verbaas my dat julle so gou van God, wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ‘n ander evangelie aanneem. Daar is geen ander evangelie nie. Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring. Maar al sal een van ons of selfs ‘n engel ‘n evangelie aan julle verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het, die vloek van God sal hom tref. Ons het dit voorheen al gesê en ek sê dit nou weer, as iemand aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het, die vloek van God sal hom tref. Klink dit nou asof ek die guns van mense soek of soek ek die guns van God. Probeer ek by mense in guns kom. As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie.” So dis die gedeelte waarna ons gaan kyk.
As ‘n mens nou kyk na die Galasiersbrief, dan vind jy dat Paulus in hierdie brief anders begin as in sy ander briewe. In sy ander briewe begin hy as ‘n reël met groete en hy besing die lof van die Here, die verlossende God, Hy besing Sy genade en Sy liefde in Christus, en so meer, maar hier kry jy die indruk hy val sommer met die deur in die huis, onmiddellik en hy is ontsteld. Hy is warm onder die boordjie, as jy dit lees. Hy kom dus met ‘n baie skerp vermaning . Nou die vraag is nou hoekom is Paulus so ontsteld natuurlik. Wel, soos ons sal sien as ons ‘n bietjie verder werk wat daar in Galasiëe aan die gang is, daar onder die Christene, bedreig sy apostoliese werk , dit bedreig hulle geloof en saligheid. Dit bedreig die voortbestaan van die gemeente en ergste van alles dit bedreig die suiwerheid en die voortgaan van die evangelie. As jy aan hierdie dinge gevat het, dan was Paulus onmiddelik op sy agtervoete. Dit is dus vir ons van die allergrootste belang om hierdie stukkie lering werklik onder die knie te hê, veral ook vir goeie kerkmense. Goeie kerkmense wat baie dikwels, skokkend tog nog in hulle agterkop ‘n idee het dat hulle verdienste ‘n bydrae lewer tot hulle saligheid. So kom ons werk dus deur hierdie verse. In die eerste instansie sien ons daar dat Paulus in vers 6 sy verbasing uitspreek oor sy lesers se afvalligheid. Sien julle in vers 6, hy sê dat julle afvallig word. Nou hierdie Grieks begrip dui dit op mens se verplasing van lojaliteit soos ‘n polititkus wat van die een party na die ander party oor te loop. Of soos ‘n soldaat wat dros en by die vyand gaan aansluit. In hierdie geval is die Galasiërs besig om oor te loop na ‘n ander evangelie toe. In vers 6 lees ons daarvan. Hulle is besig om ‘n ander evangelie aan te neem. Nou as Paulus praat van ‘n ander evanglie, impliseer dit tog sekerlik dat daar ‘n ware evangelie is. Ons moet onsself dus afvra, wat is hierdie ware evangelie? Dan sê die apostel hier vir ons, dit word deur twee dinge gedefinieer. In die eerste instansie die oorsprong daarvan en tweedens die inhoud daarvan. Die oorsprong en die inhoud. Nou die ware evangelie sê hy hier, het ‘n baie spesifieke oorsprong. Dis die evangelie wat deur die apostels van die Here Jesus verkondig is. Dis hoekom hy sê selfs al sou ‘n engel uit die hemel vir julle ‘n ander evangelie bring dan moet julle dit nie aanvaar nie. Dis die geïnspireerde apostels, dis die apostels wat ‘n baie duidelike mandaat van die Here gekry het om hierdie evangelie te verkondig en uit te dra. Dis hulle wat die Nuwe Testament neergeskryf het en wat die Nuwe Testamentiese waarheid uiteengesit het en dis wat die oorsprong betref. Daarom tot vandag toe, die evangelie wat ons verkondig en die evangelie wat ons glo, is die evangelie van die apostels. Hulle is die fondament van die kerk. Wat die inhoud van die ware evangelie betref is die hele Nuwe Testament daarvan vol natuurlik. Oor en oor word beklemtoon dat daar veral drie fokuspunte is wat die inhoud van die evangelie betref. In die eerste instansie leer die Nuwe Testament male sonder tal vir ons dat sondaars deur God se genade alleen gered word. Sondaars word uit vrye genade alleen gered. Daarna het ons gekyk. Tweedens as ons praat oor die inhoud van die ware evangelie dan is dit dat sondaars gered word op grond van Christus se verdienste alleen. Derdens, sondaars word deur die geloof alleen gered. Waar ‘n evangelie verkondig word waar al drie hierdie dinge nie baie sterk beklemtoon word nie en kompromieloos op aangedring word nie, kan jy maar weet hier is ‘n vals evangelie. Die vraag is nou, waar kom hierdie Galasiers aan hierdie ander evangelie. As julle nou verder in hierdie brief sal lees in hierdie boek Galasiers sien julle in hoofstuk 3 vers 1 dan sê die apostel Paulus vir hulle hulle is betower deur die Judaiste. ‘n Mens moet nou iets van die Judaiste verstaan om hierdie brief te verstaan. Hierdie Judaiste was Joodse mense, hulle het gesê hulle was Christene. Hulle het dus gesê dat hulle Christus verkondig, maar hulle het daarop aangedring dat ‘n mens benewens vertroue op Christus ook nog nodig gehad om sekere dinge te doen. Besonderlik het hulle die Ou Testamentiese seremoniële wette op aangedring en veral die besnydenis. So wat hulle dus gesê het is, ja, ons is absoluut afhanklik van Christus se verdienste, ons word gered op grond van Christus se verdienste, ja, maar sy verdienste alleen is nie genoeg nie. Jy moet ook nog jou laat besny, jy moet ook nog die seremoniële wette handhaaf en dit het hulle ook die Christene uit die nie-Joodse volke gesê. Dit is baie belangrik dat ons sal verstaan dat die Judaiste nie die verdienste van Christus ontken het nie, hulle het Christus verkondig, maar hulle het gesê die verdienste van Christus was op sigself nie genoegsaam nie. So, by Christus se verdienste moet ook nog menslike verdienste gevoeg word. Wat hulle eintlik vir die mense gesê het en dit het daarop neergekom, ja Jesus Christus het nou Sy kant gebring en nou is dit julle beurt. Uiteindelik is dit spanwerk wat red. Christus plus die mens. Dit is hierdie mense wat baie lief was om op die apostels se spore te loop en wanneer hulle verneem dat ‘n man soos Paulus bv. vertrek het, in hierdie geval uit Galasië, dan het hulle daar inbeweeg en dan het hulle volgens hulle die nodige korrektiewe aangebring in die gemoedere van hierdie mense. Nou is dit so dat hierdie Gemeente in Galasië verward is deur hierdie Juadistisese lering en dat hul tewens begin oorweeg om agter hulle aan te gaan. As ons deur hierdie verse werk, dan sal julle sien in vers 7 sê hy dat hierdie mense die evangelie van Christus probeer verdraai. Die Griekse woord beteken om iets om te draai sodat hy agterstevoor is of sodat hy onderstebo is. Uiteraard is die woordkeuse hier in die kol. Hierdie Judaiste het gesê, eers werke, dan redding. Terwyl die evangelie van die apostels natuurlik het gesê eers redding, dan werke. M.a.w. die ware evangelie sê God red soewerein en daarna vanuit ons redding volg goeie werk. Hierdie Judaiste het dit omgedraai, eers werke dan redding. Dan sal julle sien dat in vers 7 sê hy ook, hierdie dwaalleer bring verwarring. Die selfstandige naamwoord beteken om heen en weer te skud soos jy ‘n klomp mieliepitte in ‘n skoendoos sou gooi. Jy sal daai skoendoos so skud. Dis die hele gedagte hier. M.a.w. wat hy sê is hierdie lering van die Judaiste maak julle heeltemal deurmekaar. Dit krap julle om. Dis nogal interessant in Handelinge 15 waar ons lees van die apostelskonvent en waar hulle juis hierdie probleem bespreek het, die leiers van die destydse kerk, dan gebruik hulle presies hierdie selfde woord as hulle hulle van hierdie Judaiste distansieer. Nou is dit so as jy na die kerkgeskiedenis kyk en baie van ons het ietsie hiervan ervaar, die oomblik as daar dwaallering in ‘n gemeente of kerkverband inkom, dan bring dit verwarring en dit skud mense deurmekaar. Dit bring nie net verwarring in denke nie, maar dit bring ook verwarring in verhoudinge. Die oomblik as daar dwaalleer inkom, dan is skeuring op die drumpel van so ‘n gemeente se huis, dit ruk uitmekaar uit. Die teendeel is natuurlik waar, tot die mate wat ‘n gemeente homogeen is in sy oortuigings oor die waarheid, in so ‘n mate is daar gemeenskap in daardie gemeente en onderlinge liefde. Nou Paulus is hewig ontsteld wat daar aan gang is hier in Galasiers en twee keer roep hy dan die vloek van God uit oor hierdie mense, vers 8 en vers 9. Ek meen dis baie betekenisvol dat hy dit twee keer doen. Daarmee wil hy vir die Galasiërs sê julle moet verstaan ek doen dit doelbewus. Dit is nie maar ‘n onbewaakte ding wat my ontglip in ‘n onbewaakte oomblik nie. Nee. Ek sê dit en ek dink goed daaroor na, voor ek dit sê, die vloek van God sal hulle tref. Nou daar is so twee en ‘n half eeue voor Christus ‘n Griekse vertaling van die Ou Testament gedoen. Ons noem dit die setuaginta. In die septuagina word dieselfde woord wat Paulus hier gebruik, anatema, word dit gebruik vir die banvloek. Nou ek dink julle sal weet dat die banvloek in die Ou Testament was, ‘n mens kry dit veral met die intog wanneer Israel die beloofde land moet inneem, dan gee die Here hulle die opdrag om in ‘n stad in te gaan en alles wat lewe van ‘n kant af dood te maak. Nie net die mense nie, nie net die mans nie, die vrouens, die kinders, die oumense, almal moet dood. Nie net die mense nie, ook die diere, van ‘n kant af en hierdie praktyk is genoem die banvloek. Nou gebruik die septuagina, die Griekse vertaling van die Ou Testament presies hierdie woord, anatema om die banvloek te vertaal. Nou wat Paulus hier sê en onthou Paulus was ‘n rasegte Jood, hy het sy Hebreeus geken, die banvloek van God sal hulle tref. Dis asof Paulus hier nie die minste moontlikheid daar stel dat hierdie mense gered kan word nie. Wat hom betref is hulle onder die oordele van die Here. Hy het geen geduld met hulle nie en met hulle sal hy geen maar geen gemeenskap hê nie. Die vraag is hoekom voel die apostel so sterk hieroor. Wel, in die eerste instansie, die eer van Christus is op die spel. Die Judaiste se boodskap impliseer tog dat Christus se werk onvoldoende was en dat mense dit moet aanvul. Ons lees in 1 Tim 1 v12 daar word gepraat van die Evangelie van die heerlikheid van God. Evangelie van die heerlikheid van die goeie God staan daar uiteindelik. Wat die apostel daar bedoel is dat ons by uitnemendheid in die Evangelie, die heerlikheid en die goedheid van God sien. Daar sien ons al die wesenstrekke van Sy karakter in die Evangelie. Ons sien Sy liefde. Ons sien Sy geregtigheid wat daarop aangedring het dat elke sonde gestraf word aan Christus. God was vir geen oomblik gewillig dat enige sonde van enige mens, bloot maar onder die mat ingevee word nie. Elke sonde moes ten volle betaal word. Ons sien Sy wysheid. Hoe die Here God hierdie, as’t ware hierdie dilemma, opgelos het. Sy liefde vir sondaars, maar terselfdertyd Sy aandrange van Sy geregtigheid, dat sonde gestraf word. Uiteindelik sien ons dus Sy wysheid daarin, dat op Golgotta op die kruis, is die liefde van God en Sy geregtigheid in ‘n intieme omhelsing. Soos wat ons vorder in ons geloof, soos wat ons meer en meer verstaan. Soos wat ons dit meer en meer toeëien, soos wat ons ryper word hierin, so raak ons meer en meer lief vir die Evangelie en so sien ons ook al hoe meer die wondere en die heerlikheid van God. Dit is so, om aan die Evangelie van God se vrye genade in Christus, te peuter is ‘n veragtelike belediging vir God. Dit is erger as om bv. met een van jou garage kwaste ‘n Rembrand skildery te probeer dokter. Ons durf nie die Evangelie verwater nie, ons durf nie die evangelie verstel nie. Soos wat die apostels dit gebring het, die maatstaf van oorsprong, so moet ons dit verkondig, die maatstaf van inhoud. Paulus het nie omgegee of die Evangelie wat Hy verkondig ‘n aanstoot was vir die Jode van sy dag nie of vir die godsdienstiges nie, want die Evangelie van God se vrye genade in Christus, wat deur geloof alleen omhels moes word, is ‘n belediging vir godsdienstiges. Vir die Jode bv. wat gedink het dat hulle vroomheid die basis is vir hulle redding. Hy het effektief vir hulle gesê dit beteken ‘n ronde nul, al julle vroomheid voor die Here God. Word soos die tollenaar, bely julle totale afhanklikheid van die Here en dan sal julle gered word, maar nie voor die tyd nie. Dis ‘n belediging vir die godsdienstiges en tot vandag toe sukkel godsdienstiges, vromes met hierdie ware Evangelie. Dis nie net ‘n belediging vir die godsdienstiges, dis ook onsin vir die ongelowiges. ‘n Ongelowige, indien hy hoegenaamd dink oor die hiernamaals en oor ‘n Godheid, dan sal hy sonder uitsondering vir jou sê dis diegene wat goed genoeg is, wat gered sal word. Daarom al die godsdienste wat jy onder die heidene kry, reg rondom die aarde deur al die eeue,was altyd godsdienste van menslike verdienste. Elke godsdiens het sy eie trapleer van moraliteit en verdienste waarteen jy moet opklim, maar sonder uitsondering is dit menslike verdienste. Daarom ‘n heiden kan hierdie werk nie verstaan nie en jy het ‘n verligtende werk van die Heilige Gees nodig om dit te verstaan. Hoekom voel die apostels so sterk oor die saak? Wel, in die eerste instansie, die eer van God is op die spel maar tweedens die heil van mense, of die verlossing van mense is op die spel. Die Judaiste se dwaling was veel meer as net ‘n denkfout, dit was veel meer as net ‘n teologiese mistasting, dit was fatale kettery. Ek wil dit baie sterk beklemtoon, dit was fatale kettery. Ons leef in ‘n tyd van geweldige verdraagsaamheid en op sigself is dit sekerlik nie verkeerd om verdraagsaam te wees nie, maar as verdraagsaamheid omsit in akkommodering, dan word dit iets waarvan ons ons moet distansieer. Daar is tog geen twyfel daaroor dat die apostels weer en weer hulle sterk uitgespreek het teen dwaalleer, soos in hierdie geval nie. Jy sien wat die apostel Paulus hier verstaan is dat as ‘n mens jou rug draai op die evangelie van God se vrye genade in Christus alleen, deur die geloof alleen, dan draai jy jou rug op die God van genade. Ek wil dit weer sê, dat ons dit verstaan, draai jou rug op die evangelie van God se genade dan draai jy jou rug op die God van genade. Kyk wat sê hy daar in vers 6, hy sê: “Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus afvallig word.” Die God wat julle geroep het. Julle is besig om julle rug op Hom te draai. Nou moet ons na Galasiers 5 toe blaai om hierdie spyer behoorlik in te slaan. In Galasiers 5 v 2-4 staan daar woorde wat van die allergrootste belang is in hierdie verband. “Kyk”, sê Paulus, “ek Paulus sê vir julle, as julle jul laat besny, m.a.w. die besnydenis waarop die Judaiste aandring, dis waaroor dit hier gaan, as julle jul laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie. Hy bedoel nie hier dat julle Christus nie behoorlik sal verstaan nie, wat hy hier bedoel is dat Christus se soenverdienste nie effektief sal wees in jul lewe nie. Hy sal vir julle geen betekenis hê nie. Hy gaan aan, “Ek sê dit weer nadruklik vir elkeen wat hom laat besny, hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou. Julle wat van jul sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek. Julle het die genade van God verbeur.” Julle het julle band met Christus verbreek, sien julle dit, julle het die genade van God verbeur. Wat hy hier sê in Galasiërs 5 is dat enigeen wat dink hy sal homself aanvaarbaar maak vir God deur hom te laat besny, so ‘n persoon sal nie gered word nie. Ek wil dit weer sê. Ons moenie hierdie punt mis nie. Dis ‘n gewigtig punt. As jy m.a.w. dink jou gehoorsaamheid, jou goeie werke, jou godsdienstigheid bydra en jy doelbewus poog om daarmee by te dra tot jou redding dan diskwalifiseer jy jouself vir redding. Vir so ‘n persoon het Christus geen betekenis nie. So ‘n persoon het sy band met Christus verbreek en hy het die genade van God verbeur. Daar kan tog geen twyfel wees dat so ‘n persoon nie gered word nie. Hoe op aarde word jy gered as jy die genade van God verbeur het? Hoe op aarde word jy gered as jy jou band met Christus verbreek het? Dis hoekom die apostel Paulus hier sê hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou. Wat bedoel hy daarmee? Wat hy daarmee bedoel is dit, dis makliker om volledig op grond van jou eie godsdienstige moraliteit gered te word, as wat dit is om gered te word deur Christus plus werke. So wat hy wil sê is as jy dus nog dink jou werke lewer ‘n bydrae tot jou redding, dan beter jy maar die wet van God volmaak onderhou, dan mag jy dalk nog gered word. Maar deur God se genade plus menslike verdienste sal jy nooit maar nooit tot in alle ewigheid gered word nie. God weier om op hierdie manier Sy eer te deel met mense. Dis die hele gedagte. Julle sal met my saamstem dat hierdie waarheid is ‘n versoberende waarheid. Die van julle wat al bv. EE3 gedoen het sal weet dat in die EE3-kursus of in die EE3-aanslag is daar sekere diagnostiese vrae. Een van die eerste vrae wat ‘n mens vir so ‘n persoon vra, is sê vir my as jy vannag sou sterf en jy kom in die hemel aan en daar word vir jy gevra op grond waarvoor moet jy in die hemel toegelaat word. Wat sal jou antwoord wees? Dit is ‘n diagnostiese vraag wat wil vasstel presies wat in hierdie persoon met wie jy werk se gemoed aangaan. As so ‘n persoon sou sê, wel ek dink nie ek het te ‘n slegte lewe gelei nie, of ek was 15 jaar ‘n ouderling gewees of ek gee gereeld my tiende, of wat die geval mag wees . Dan is dit vir jou ‘n baie duidelike aanduiding dat hierdie persoon nie gered is nie en dat hierdie persoon nog nie die Evangelie verstaan nie. Dat hy dsu ‘n voorwerp is van evangelisering. Dit is skokkend hoeveel goeie mense wat al dekades in die kerk sit, wat elke Sondag die bank warm sit, vir jou so ‘n antwoord gee. Ek is getrou aan my vrou, ek gee my tiende. Ek het nie vyande nie, of wat ookal. Wat hierdie Skrifgedeelte vir ons sê is daar is dus duisende, ek wil sê tienduisende mense, goeie, goeie godsdienstige kerkmense wat nie gered is nie, omdat in hul gemoedere hulle nog die idee het dat hul eie vroomheid, hul eie godsdienstigheid ‘n bydrae lewer tot die verdienste van Christus en dus ‘n bydrae tot hul eie redding. Dis ‘n skrikwekkende waarheid.
Wat sê dit nou vir ons? In die eerste instansie sê dit vir ons daar is net een evangelie. In vers 6 en 7 as ons teruggaan na Galasiërs 1 toe; gebruik Paulus twee betekenisvolle woorde, hul word altwee in die Afrikaanse Bybel vertaal met die woordjie, ander. Hy sê in vers 6 hy sê dat hulle afvallig word en ‘n ander evangelie aanneem en dan sê hy in vers 7 daar is geen ander evangelie nie. Wat nou betekenisvol is, is dat hy hier twee verskillende Griekse woorde gebruik. Die eerste Griekse woord dui op iets anders van ‘n totaal ander aard. Jy sou sê daardie ding is ‘n stoel en hierdie ding is ‘n klavier. Hulle is anders. Dis twee totaal verskillende goed, jy vergelyk nie pere en appels nie, jul ken die uitdrukking; dit het niks met mekaar te doen nie. Jy moet eintlik die uitdrukking maak, jy vergelyk nie pere en bakstene nie, of wat die geval mag wees. Dit is twee verskillende goed van ‘n ander aard. Die tweede woordjie wat hy gebruik in die Grieks, wat ook vertaal word met ander, dui op iets anders, maar van dieselfde aard. Ek is ‘n mens en jy is ‘n mens, maar ek is een mens, maar jy is ‘n ander mens. Maar ons is altwee mense. Wat hy dan vir hulle sê hy sê julle is besig om afvallig te word en ‘n ander evangelie van ‘n totaal ander aard aan te neem. Hy sê maar ek wil hê julle moet weet daar is nie ‘n ander evangelie, daar is nie ‘n alternatief nie. Daar is nie ‘n evangelie wat ‘n alternatiewe pad na die hemel toe vir ons aandui nie. Ons moet kompromieloos hierop staan. As ons hierdie tipe van uitsprake van die Nuwe Testament oorboord gooi waar laat dit ons? Uiteindelik is ons uitgelewer aan die relativisme van ons dag en is ons op die see van ‘n duisend menslike opinies. Daar is niks meer vas in ons lewe nie. Daarom het ons nie net te doen met ‘n saak wat van die allergrootste belang is, ‘n saak waarvoor ons bereid moet wees om te sterf, as dit daarop aankom. Daar is nie ‘n alternatiewe evangelie nie. Die Engels vertalings probeer hierdie verskil uitbring, die NAS praat bv. in die eerste geval van “a different gospel” bedoelende daarmee dat dit ‘n gans andere tipe van boodskap wat hierdie mense het. Maar sê hy, “There is not another gospel”, bedoelende daarmee iets van ‘n ander soort nie net ‘n alternatief nie. So wat hy hier tuisbring is dat die Judaistiese evangelie nie ‘n aanvaarbare alternatief is nie. Dit verskil wesenlik van die ware evangelie. Die engiste ene. So ‘n mens kan nie die ware evangelie aanpas, sonder om dit te verniet nie, met katastrofiese gevolge. Nou dink ‘n mens bv. aan baie van die evangelies wat verkondig word in ons dag, hoeveel evangelies is daar nie wat eintlik sterker konsentreer op werk, op raak nie en smaak nie en moet en dit aanbied as ‘n vereiste vir redding. Sommige van julle, soos ekself, het al baie intiem met sulke prediking te doen gehad. Ek dink julle dink waaraan ek dink. Ek moet vir julle sê, ek raak koud in my binneste, as ek die implikasies hiervan verstaan. Dit is aan die orde van die dag dat predikers in kerke ‘n evangelie preek wat by mense die indruk laat dat hulle goed genoeg moet wees, dat hulle sekere dinge eers moet doen of dat as hulle sekere ander dinge doen kan hulle nie gered wees nie. Ek dink hierdie hele gedeelte en veral ook die Galasiërs-brief dring by ons aan dat ons eers die predikers moet toets, as dit dan so gewigtig is soos ek dit beklemtoon, dat moet ons eers predikers toets. Onthou altyd as jy ‘n prediker toets die status van ‘n boodskapper waarmerk nie die evangelie wat hy verkondig nie. M.a.w. omdat hy so ‘n belangrike man is, so ‘n begaafde man is, so ‘n bekende man is, dit opsigself waarborg nie dat die evangelie wat hy verkondig die waarheid is nie. Nee. Die evangelie wat verkondig word waarmerk die boodskapper. Slegs hulle wat hierdie evangelie van God se vrye genade, deur Christus alleen, deur die geloof alleen verkondig, die evangelie van die apostels, slegs hulle is predikers aan wie ons ons ore moet uitleen. Wat die ander predikers betref, moet ons hardloop so vinnig soos ons bene ons kan dra, want nie alleen is hulle onder die banvloek van God nie, maar as jy jou ore vir hulle uitleen, voor jy jou oë uitvee, is jy self onder die banvloek van God.
Tweedens, wat sê dit vir ons? God is die alleen Redder of glad nie. Die sestiende eeuse reformasie het hierdie goed glashelder besef, glashelder verstaan en daarom kompromielooos verkondig. Vandaar hierdie drie fokuspunte waarna ons kyk. Die latynse wekroepe, Sola Gratia, genade alleen, Solus Christus en Sola Fide. Sola, hierdie vierletter Latynse woordjie beteken alleenlik, of alleen, slegs. In ‘n sekere sin het die hele reformasie rondom hierdie woordjie gedraai. Dis waarop daar aangedring is. Ook nog natuurlik Sola Scriptura. Maar sola, sola, sola. Daarom die enigste ware evangelie is ‘n sola-evangelie en of ons nou geklassifiseer word as fundamentalisties, of geklassifiseer word as fanaties, of wat ook al, maar hierop moet ons staan. Die enigste evangelie is die sola-envangelie. Ons mag dit nooit vergeet nie. Elke keer wat God ‘n sondaar red, nou praat ek van waarlik red, sal daar geen menslike bydrae by wees nie. Nie moraliteit nie, nie godsdiens nie, nie seremonies nie, nie ordentlikheid nie, nie wysheid nie, nie geleerdheid nie, nie finansiele bydraes nie, nie dienswerk nie, niks nie. Christus alleen, geloof alleen, genade alleen.
‘n Man wat vir my altyd aanspreek in die Nuwe Testament, is die man Kornelius. Ons lees van hom in Handelinge hoofstuk 10. Nou kyk nou net hier in vers 2, van Handelinge hoofstuk 10. Kom ons lees maar vers 1 ook. “In Seserea was daar ‘n man met die naam Kornelius, ‘n kaptein in die Italiese regiment.” So hierdie man is ‘n Romein, na alle waarskynlik het hy die Joodse geloof aangeneem en nou is hy ‘n baie vroom man. “Hy was godsdienstig (let op) en godvresend, hy en sy hele huisgesin. Hy het baie gedoen om die armes onder die Joodse volk te help en het gereeld tot God gebid.” Wat sien ons hier dus? Hy is godsdienstig en godvresend. Hy is ‘n wonderlike pa en hoof van sy huis want sy hele huisgesin en nie net sy huisgesin nie, maar ook sy slawe, want die oikos is, almal wat in sy huis is. Hulle dien almal die Here onder sy invloed. Hy is ‘n man wat barmhartigheid betoon het, hy help die armes onder die Jode. Hy was ‘n uitdeler by uitnemendheid. Hy het geen geld ontsien, geen tyd ontsien, geen energie ontsien om hierdie mense te help nie en hy het gereeld tot God gebid. Die Ou Vertaling sê hy was altyddeur in gebed tot God. Kyk as jy ooit ‘n vroom man gekry het, dan is dit hierdie Kornelius. Laat hom maar by enige gemeente inskakel en binne ses maande is hy ‘n ouderling. Maar Korneluis was nie gered nie. In al sy godsdienstigheid was hy steeds onder die toorn van God. Blaai saam met my na Handelinge hoofstuk 11v14 toe. Hier kry ons nou Petrus, julle onthou mos die geskiedenis, Petrus het toe die laken uit die hemel sien sak en toe het daar van Kornelius se slawe daar aangekom en hy is toe saam hulle soontoe en daar het hy die evangelie verkondig aan Kornelius. Dan kom Kornelius tot geloof en hul word gedoop daar, ontvang die Heilige Gees. Dan kom Petrus terug in Jerusalem en doen hy verantwoording daar waarom hy ‘n Romein gedoop het. Dis nou die vroeë, vroeë dae daar, waarom hy ‘n Romein gedoop het. Dan staan daar in vers 13 en Petrus haal nou vir Kornelius aan, hy sê: “Hy (dis Kornelius) het vir ons vertel (sê Petrus) hoe hy die engel in sy huis sien staan het, wat vir hom gesê het: ‘Stuur iemand na Joppe toe en laat vir Simon daar haal wat ook Petrus genoem word. Hy het ‘n boodskap vir jou waardeur jy gered sal word, jy en jou hele huisgesin.”’ Waardeur jy gered sal word, jy en jou hele huisgesin. So julle kan dus sien dat dit tog baie duidelik, onmiskenbaar impliseer dat Kornelius ten spyte van al sy vroomheid en godsdienstigheid en gebede nie ‘n gerede man was nie. Wat was die voorwaarde vir redding. Wel nommer een moes Petrus na hom toe gaan, om wat te doen? Om die evangelie van God se vrye genade in Christus alleen wat deur die geloof alleen omhels word, hierdie evangelie aan hom te verkondig. Nommer twee moes hy dit aanneem en daarom het hy hom laat doop en eers toe is hy gered.
Daarom is dit baie belangrik dat ek en jy onsself sal afvra, vertrou ons Jesus Christus alleen, Sy verdienste alleen. Is daar nie in ons agterkoppe dalk nog ‘n stukkie vertroue in ons eie moraliteit, ons eie seremonies, ons kerkgang of wat ook al nie? Tweedens moet ons onsself afvra, besef ek genoegsaam hoe lewensbelangrik is dit. Ons het nie hier met ‘n opsionele saak te doen nie, ons het nie hier met ‘n sekondêre saak te doen nie. Ons het hier te doen met ‘n saak wat jou ewige toekoms absoluut intiem raak. Derdens en laastens, die ware evangelie sal altyd te kampe hê met die verwyt dat dit te maklik is. Dis waarop Paulus is vers 10 sinspeel. Ek is nou terug by Galasieërs 1. Hy sê daar: “Klink dit nou asof ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God?” Jy sien wat waarskynlik hier gebeur het is dat die Judaiste daar in Galasieë aangekom het en vir die mense gesê het, ag daai Paulus, hy soek net julle guns. Hy probeer net julle guns wen deur vir julle so ‘n goedkoop evangelie te verkondig, so ‘n maklike evangelie. Galasieërs julle hoef niks te doen nie, glo net en dan is julle gered. Dis maar net om gewild te wees by julle. Maar het die Judaiste waarskynlik gesê ons moet ongelukkig vir julle sê dis nie so eenvoudig om gered te word nie, kan julle dink dat dit so eenvoudig kan wees? Dis mos voor die handliggend dat dit nie so eenvoudig kan wees nie. Hoe kan julle so dwaas wees het om daardie man te glo? Dink jy vir een oomblik jy kan die ewige saligheid beërf deur niks te doen nie! Nou kom die apostel Paulus en hy het verneem dat dit hul beskuldiging is. Dan sê hy, “Klink dit nou asof ek die guns van mense soek”, as ek so reguit praat en nie doekies omdraai nie. Ons moet dit baie duidelik verstaan, die Evangelie van die Nuwe Testament is ‘n gratis evangelie, maar dis nie ‘n goedkoop Evangelie nie. Dis tog baie duidelik. Dis ‘n gratis Evangelie, in die sin, dat as sondaars ontvang ons dit sonder enige verdienste by God. As jy nou verder sal blaai, in Galasiërs 5v1 bv. dan sê Paulus vir die Galasieërs, “Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie.” Watter slawejuk? Wel, menslike verdienste. Die verdienste van godsdienstigheid, al hierdie raak nie, smaak nie, mag nie, moet nie, moet, wat ook al. Staan vas in die vryheid waarmee julle vry gemaak is. Dit is vir hom belangrik hierdie. Dit is weereens nie net ‘n oproep van hom, ag moenie julle laat kniehalter met ‘n klomp godsdienstige goed nie. Nee, dit is vir hom lewensbelangrik dat hulle sal vas staan in hierdie vryheid, want as hulle hul laat intrek in godsdienstigheid, soos ons netnou gesien het en dit sê hy net in die volgende verse, dan verbeur hulle die saligheid. Maar wat ons nou moet verstaan, wat die ware Evangelie vir ons sê is wanneer ‘n persoon tot die geloof kom wanneer die Here God vir daardie persoon die gawe van geloof gee, gee Hy altyd sonder uitsondering daarmee saam vir ook vir hom die innerlike hartsherskepping van die wedergeboorte. Hierdie wedergebore hart wek in jou ‘n hartstog om God te behaag, wek in jou ‘n hartstog om heilig te lewe voor die Here. Dis hoekom Johannes in sy eerste brief, hy sê daar in hoofstuk 5 in vers 13 wat hy sê: “Hierdie dinge het ek vir julle geskryf sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het.” Dan gaan hy aan en gee hy vir hulle ‘n hele aantal merktekens van wedergeboorte en daarby is ons volledig betrokke. Hierdie merktekens is radikaal, onder meer sê hy daar: “Elkeen wat uit God gebore is, doen nie sonde nie.” Hy bedoel daarmee, as jy na die Grieks gaan kyk, hy hou nie aan om sonde te doen nie, hy lê nie in die sonde nie. Trouens, sê hy in een van die ander merktekens, elkeen wat uit God gebore is doen die geregtigheid, ek haal aan uit die Ou Vertaling, doen dit wat reg is in God se oë. Let op dis elkeen wat uit God gebore is, dis die wedergeboorte. Dis die innerlike herskepping van ons harte wat dit bewerkstellig. Vanuit hierdie nuwe hart kan dit nie anders nie. Ek wil reg doen in God se oë en ek wil klaarkry met sonde en daarom altyd maar weer wanneer daar ware geloof is, in die vrye evangelie van God, Sy vrye genade, op grond van Christus alleen, deur die geloof alleen. Wanneer daar hierdie ware geloof is, wat deur die Gees in jou gewerk word, gaan dit altyd, sonder uitsondering, gepaard met ‘n innerlik herskeppingswerk. Hierdie innerlike herskeppingswerk bring dan mee in jou lewe, geregtigheid, heiligheid, toewyding, goeie werke en so meer. Ons moet dus verstaan God se genade is gratis, maar dis nie goedkoop nie. Hierdie innerlike herskepping bring ook by jou allerlei aandrange om soms ‘n lewe te lei van ware diensbaarheid waar jy jou kruis opneem en jouself verloën en dit het soms radikale implikasies vir ons lewens. Dit is net so dat die sola-evangelie nooit ooit die deur oopmaak vir losbandingheid nie. Dit kan nie. As ‘n persoon dus sê dat hy tot bekering gekom het maar hy lewe nog ‘n lewe van sonde en losbandigheid, dan is dit maar net ‘n bewys dat sy bekering nie eg was nie. Die reformatore het dit verstaan, hulle het ‘n uitspraak gehad, “sola fide justofikas set non fide sola est”?. Sola wat beteken, alleen. Fide is geloof, justifikas beteken om te regverdig. Net geloof regverdig. “Set beteken maar. Non-fide sola est, nie geloof wat alleen is nie. M.a.w. geloof wat alleen is en alleen bly en nie tot uitdrukking kom in goeie werke en gehoorsaamheid en geregtigheid nie, so ‘n geloof regverdig nie. Dit is presies wat Jakobus in hoofstuk 2 sê. Die geloof sonder die werke is dood. Daar is baie soorte geloof, maar die geloof wat red is die geloof wat in goeie werke tot uitdrukking kom. Ons verwerp ‘n goedkoop evangelie, maar ons verkondig ‘n gratis evangelie. Die gratis evangelie is die evangelie wat die tollenaar omhels het. Here wees my, dié sondaar genadig. Dis die evangelie wat vir sondaars sê, is jy bankrot in jouself? Is jy aan die einde van jouself? Het jy aan die einde van jou godsdienstige tou gekom? Het jy net nie meer antwoorde nie? Is jy raadop? Is jy radeloos? Kom dan. Jesus Christus het gesê Ek sal hom wat na my toe kom nooit, maar nooit verwerp nie. Mag die Here ons help om hierdie ware evangelie, hierdie sola-evangelie tot in sy diepte te verstaan en mag Hy ons help om dit nooit te vergeet nie.
– – – o0o – – –