Sola Fide (Geloof alleen)
Prediker Nico van der Walt
Lees Openbaring hoofstuk 12 vers 9: “Want die groot draak, die slang van ouds wat die duiwel en die satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uitgegooi. Hy is op die aarde gegooi en sy engele saam met hom. En toe het ek ‘n stem in die hemel gehoor wat hard uitroep ‘Nou het ons God die redding gebring, nou is Sy mag en koningskap hier en die gesag van Sy gesalfde. Die aanklaer van ons medegelowiges (die ou vertaling sê gewoon net – en so sê die Grieks: ‘…die aanklaer van ons broeders…’) is uit die hemel uitgegooi. Hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het. Hulle het self die oorwinning oor hom behaal, danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het en hulle het nie hulle lewens so liefgehad, dat hulle onwillig was om vir Hom te sterf nie.” Let veral op vers 11 – lees dit uit die ou vertaling: En hulle het hom (dit is nou die satan) oorwin deur drie dinge: Eerstens deur die bloed van die Lam, tweedens deur die woord van hulle getuienis, en derdens hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.” Nou, ons sal ‘n bietjie later terugkom na hierdie vers toe in die lig van ons lering.Ek wil net begin met twee toets vrae. Die eerste vraag is dit. As jy as ware Christen kon besluit het of kon kies waar jy wil bly – ek gee vir julle twee alternatiewe: No 1 – in Adam se paradys voor die sondeval, met sy sondelose bestaan en wondelike gemeenskap met God (dis die een moonlikheid). Of, aan die ander kant – in ons huidige wêreld met sy sonde, sy geweld en sy ellende en hartseer. Wat sou dit wees? Waar sou jy kies, waar sou jy wou bly? Of aan die een kant Adam se paradys voor die sondeval sonder sonde en wonderlike gemeenskap met God, of aan die aander kant hierdie wêreld (hierdie Gauteng) met sy geweld, met sy ellende en sy sonde en sy hartseer. Wat sou jy kies? Dis die eerste vraag. Die tweede vraag: As jy inderdaad ‘n Christen is, wat is die diepste grond vir jou redding? Ek gee vir julle drie alternatiewe, jy kies maar net een. Ek maak dit vir julle baie maklik. Ek sê: As jy inderdaad ‘n Christen is, wat is die diepste grond vir jou redding? Die eerste moontlikheid is onderhouding van God se wet, tweedens geloof in Christus, derdens enigiets anders.. So, as jy met die eerste twee opsies nie tevrede is nie, dan kies jy net no 3. Dis die twee vrae.
As ons na die Bybel gaan kyk, word dit weer en weer gesê dat die Vader voor die grondlegging van die aarde vir Hom vanuit hierdie gevalle mensheid ‘n geweldige groot getal mense uitgekies het om te red. Hulle sou dus kry, nie wat hulle verdien nie, maar die teendeel daarvan: hulle sou genade ontvang. Die res van die mense sou gewoon gelos word om te kry wat hulle verdien en wat hulle kies. Dan leer die Bybel ons dat die Vader hierdie mense aan Sy Seun toevertrou het. Jy kan nou maar Johannes 6 en Johannes 10 en Johannes 17 gaan lees en dan kry jy dit oor en oor dat die Vader hierdie mense vir die Seun gegee het en dat die Seun baie bewus daarvan was dat Hy gekom het ter wille van hierdie uitverkorenes, hierdie mense wat die Vader aan Hom toevertrou het. Sy taak was om alles te doen wat nodig was vir hulle redding. Hierdie werk wat Jesus Christus gedoen het vir hierdie wonderlik, onuitspreeklik begenadigde mense, is ‘n werk wat in die Nuwe Testament op verskillende maniere beskryf word. Daar word dus verskeie idees, of verskeie woorde gebruik (verskillende uitdrukkings) om hierdie werk van die Here Jesus Christus namens die mense wat die Vader aan Hom toevertrou het, om dit te beskryf. ‘n Mens dink bv. aan ‘n woord soos Hy’t Homself geoffer’, mens dink bv. aan die woord ‘Sy verlossingswerk’, mens dink aan die idee van ‘Sy versoeningswerk’, of ‘Sy Middelaarswerk’. Dis alles verskillende begrippe. Die vraag ontstaan nou: ‘Is daar moontlik ‘n allesinsluitende idee, of ‘n onderliggende idee, of ‘n samebindende idee wat al hierdie verskillende perspektiewe op die Middelaarswerk van ons Here Jesus Christus belig, wat dit saambind.’ Dan is die antwoord daarop: ‘Ja, dit is die gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus.’ Hy het gekom en Homself in algehele gehoorsaamheid aan Sy Vader geoffer. Dis ten diepste wat gebeur, en ek sal dit nou-nou vir julle probeer aantoon hoekom ek dit sê. Hy het Homself in algehele gehoorsaamheid aan Sy Vader geoffer en dit het die Vader se geregtigheid bevredig, sodat Hy volgens absolute regsbeginsels hierdie mense kon vryspreek van hulle sonde. So, ons kan dit so stel: Jesus Christus stel die regsbasis – let op hierdie woord ‘die regsbasis’ of ‘die juridiese basis’. Ons gaan praat oor die juridiese basis van ons redding. Hy stel die regsbasis vir die redding van sondaars daar, deur as Hoëpriester, Homself in totale gehoorsaamheid aan Sy Vader te offer as die ewige Lam van God. Totale gehoorsaamheid: dis die sleutelwoorde wat ek wil hê julle moet vasvat – Hy was totaal gehoorsaam aan Sy Vader. Dit was dus die gehoorsaamheidsoffer, en niks minder nie, van die Seun Jesus Christus wat die Vader in Sy Heiligheid en in Sy geregtigheid en in Sy toorn bevredig het en as sodanig met sodaars versoen. Dit is presies wat die Hebreërs skrywer vir ons sê in hoofstuk 10. Nou daar haal die Hebreërs skrywer aan uit Psalm 40. Hebreërs 10: “Daarom sê Christus met Sy koms in die wêreld: ‘Dit is nie diere-offer en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U my gegee het. Brandoffers en sonde-offers het U nie behaag nie.’ En toe het ek gesê: ‘Kyk, Ek het gekom, o God, om U wil te doen. In die boekrol is dit van My geskrywe.’ Nou kennelik verwys Psalm 40 hier na woorde wat die Seun vir ons hemelse Vader gesê het. Hy sê dan vir Sy hemelse Vader: ‘U wou nie diere-offers gehad het nie – dit kan U nooit tevrede stel nie. U wou nie graanoffers hê nie. Watter offer soek U? U soek die liggaam wat U My gegee het as offer.’ Die liggaam en dit onmiddelik wil vir ons sê dit is Sy lewe en Sy liggaam en Sy persoon in Sy vernederde staat, of beter gestel nog, in Sy hoedanigheid as volkome mens, wat geoffer moet word aan die Vader. Dit is wat die Vader wil hê. En dan sê Hy daar: ‘Kyk dis in die boekrol van My geskrywe.” Dit is waarskynlik beeldspraak vir die verlossingsverbond wat voor die grondlegging van die aarde in plek geplaas is. Dit is ‘n verbond tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Dis dus ‘n verbond in die Goddelike Drie-eenheid om God te verheerlik deur die verlossing van sondaars vanuit ‘n gevalle mensheid. In hierdie verlossingsproses sou elkeen van die drie Persone dus Sy eie unieke rol hê. Die Vader sou uitverkies, die Seun sou die regsbasis kom daar stel vir hierdie verlossing en dan ook die verlossingsproses oorsien, en die Heilige Gees sou kom en hierdie verlossing verwerklik deur die geskiedenis in die lewens van hierdie mense. Dan gaan die Hebreërs skrywer aan, hy sê (nou lewer hy kommentaar) eers sê hy: ‘Diere-offers en graanoffers, brandoffers en sonde-offers wou U nie hê nie en het U nie behaag nie, hoewel hierdie offers deur die wet voorgeskrywe word.’ Daarna sê Hy (en dit is die Seun wat dit sê): ‘Kyk, Ek het gekom om U wil te doen.’ Hy skaf dus die eerste offer af, om ‘n ander offer in plek daarvan te stel. Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus Sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd, eens en vir altyd. Nou is dit baie betekenisvol dat die bekendste en duidelikste Messiaanse belofte in die Ou Testament die Messias voorhou as die dienskeg van God, of die kneg van die Here. Ek verwys natuurlik na die bekende Knegliedere in Jesaja, daar is ten minste vier van hulle en ek dink ons ken hulle almal, veral die baie bekende Jesaja 53. Om dit alles mooi te verstaan, moet ons die gevalle mens se probleem verstaan. Voor die sondeval, let op, voor die sondeval, was die mens in ‘n werkverbond met God. Julle sal sien ons praat van ten minste drie verbonde. Daar is die verlossingsverbond, dis die verbond tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees om hulleself te verheerlik in die verlossing van sondaars deur die geskiedenis, dis die verlossingsverbond, dan is daar die werkverbond en dan natuurlik is daar die genadeverbond wat God sluit met Abraham en sy nageslag, met sondegevalle menseom hulle te verlos. Hierdie genadeverbond sê vir hulle: ‘Glo in die Verlosser, glo in Hom alleen en julle sal gered word sonder die werke. Die genadeverbond is nie ‘n werkeverbond nie. Nou wil ek iets sê oor die werkeverbond. Ek wil sê dat die mens in ‘n werkverbond met God was voor die sondeval. Adam het kennis en geregtigheid en vryheid gehad, maar hy moes nog die ewige lewe verdien. Dit is waarom die boom van kennis van goed en kwaad voor hom gestel is. Hy moes hierdie ewige lewe verdien deur persoonlike en volmaakte gehoorsaamheid aan God. Waarskynlik was daar ‘n proeftydperk en indien hy hierdie proeftydperk sou deurstaan het en gehoorsaam sou gebly het, sou hy uiteindelik die loon ontvang het, naamlik die boom van die lewe dat hy daarvan kon eet. Julle sal onthou na die sondeval, word die hekke van die paradys gesluit, sodat die mens nie sal ingaan en eet van die boom van die lewe nie. Hierdie boom van die lewe kom weer na die oppervlak, ons kry dit in Esegiël 47, waar daar vooruit gekyk word na die wonderlike Messiaanse regering en tydperk en dan kry ons die boom van die lewe veral weer in Openbaring. Openbaring 2: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe.” Ook weer aan die einde van die Openbaringboek kry ons dit. Julle sal onthou daar is die rivier met die boom van die lewe weerskante van die rivier wat sy vrugte dra, elke maand en daarvan kan geëet word. Baie duidelik dus, is die boom van die lewe weer ter sprake iewers vorentoe vir ons in die, kom ons noem dit maar die eskatologiese toekomswanneer ons verlossing sy finale loop gekry het, ons verlossing in Christus. In ‘n neutedop kan ons sê dat die werkverbond met Adam oorspronklik hierop neergekom het. Wees gehoorsaam en beërf die ewige lewe, wees ongehoorsaam en sterf vir ewig. Dit was die werksverbond. Ons weet dat Adam misluk het en Adam was die verbondshoof van die mensheid en as sodanig het die ganse mensheid saam met hom in sonde geval, dit is tog die boodskap van Romeine 5. So sy ganse nageslag wat uit sy lendene gebore sou word, dra steeds die verskriklike gevolge van hierdie sondeval. Hierdie gevalle mensheid het ‘n dubbele probleem voor God. In die eerste instansie is daar die gevalle mens se skuld voor God, hy is in die skuld by die Here vanweë al sy sonde. Tweedens is sy probleem sy onvermoë om aan God se standaarde te voldoen. Dis ‘n dubbele probleem, sê ek, ‘n dubbele dilemma. In die eerste instansie, hy is in die skuld by God oor sy mislukking en sy rebellie en hierdie sondeskuld moet gestraf word, dit moet vereffen word, as ek dit so kan uitdruk. Die geregtigheid van God, let op die woord: die geregtigheid van God. Ek het gesê ons praat oor die juridiese basis van ons verlossing en dis baie belangrik dat ons sal verstaan dat God ‘n God van geregtigheid is en dit wil vir ons sê dat Hy alles korrek doen volgens die beginsels van Sy koningkryk en Sy persoonlikheid. So, die geregtigheid van God vereis dat hierdie skuld betaal moet word. Toe hierdie werkverbond destyds in plek geplaas is, was die betaling van hierdie skuld baie eksplisiet uitgespel. Dit sou die ewige dood wees, die ewige dood. Dink nou vir ‘n oomblik daaraan, self al sou hierdie skuld van die gevalle mens opgehef word, waar laat dit die gevalle mens? As jy ‘n klomp skuld het en jou skuld is betaal, wat is jou saldo by die bank? Dis nul. J het ‘n oortrokke rekening van sê nou maar R500 000 en dan kom een of ander weldoener of jou pa in die Boland verkoop een van sy plase en hy sê: ‘My seun, ek sal jou help.’ Hy betaal R500 000 op jou rekening in, wat is jou saldo? Dis tog nul, is dit nie? Nou in Adam se geval sou dit as daar bloot werk gemaak is met sy sondeskuld, sou dit hom weer op die vlak gebring het waar Adam voor die sondeval was. Verstaan julle dit? Dan sou hy nog steeds die ewige lewe moes verdien. Kyk, dis soos as jy sou wou emigreer Switserland toe. Ek weet nou nie wat die voorwaardes is nie, maar kom ons spekuleer nou maar daaroor. Gestel nou maar die Switserse regering sal sê: ‘Wel,meneer as jy wil emigreer hiernatoe. Nommer een wil ons ‘n polisie verslag hê dat jy geen skuld het, dat jy geen kriminele rekord het nie. Jy moet dus vry wees om Suid-Afrika te verlaat. Tweedens ons wil seker maak dat jy nie ‘n armlastig gaan word hier in Switserland nie en daarom wil ons hê jy moet ten minste ‘n miljoen Switserse Frank in ‘n Switserse rekening hê. Dan kan jy emigreer, dan is ons seker jy gaan nie vir ons ‘n las word nie. So, julle kan dus sien daar is twee dinge nodig. Noommer een jy moenie skuld hê nie, daar moenie ‘n uitstaande juridiese swaard oor jou kop hang nie, maar aan die ander kant moet jy dus ‘n miljoen Switserse Frank hê om te kwalifiseer om in Switserland in te gaan. Net so, dink nou weer in terme van die werkverbond, God het vir Adam gesê: ‘Jy moet oor ‘n tydperk deur gehoorsaamheid toon dat jy, in terme van die werkverbond, die ewige lewe verdien het en hy moes dus werk vir hierdie ewige lewe. Nou sê ek, vanweë sy sonde is ons almal saam met hom in die skuld gedompel, nie net as gevolg van die erfskuld nie, maar ook as gevolg van ons eie sonde wat ons skuld al hoe meer gemaak het. Dis nou een ding dat hierdie skuld betaal is, maar dan laat dit ons nou weer op die vlak waar Adam was voor die tyd, want Adam moes toe nou eers daardie geregtigheidskapitaal opbou voordat hy kon kwalifiseer vir die ewige lewe. Dan is ons nou weer daar waar Adam was. En as Adam dit nie kon maak nie, hoe op aarde sou ons dit kon maak as sondaars? Jy sien, dis ons dilemma. Daarom wil die Bybel vir ons sê die Here Jesus Christus het hierdie dubbele dilemma of dubbele probleem kom aanspreek. Hoe doen Hy dit? Wel, ek het reeds vir ons gesê, deur Sy gehoorsaamheid, deur volmaakte gehoorsaamheid doen Hy dit. Hy kom, die Here Jesus, as die, 1 Korintiërs
15 noem Hom die tweede mens, die laaste Adam. Dit is dus duidelik dat die Here God, as Hy hierdie mense wil red wat Hy aan Sy Seun toevertrou het, dat Hy met ‘n nuwe mensheid begin. Hierdie nuwe mensheid het ‘n eie ‘Adam’ as ek dit so kan uitdruk, het weer ‘n Adam, ‘n Hoof. Weereens word hierdie hoof in ‘n werkverbond met God gestel om hierdie saligheid te verdien. Wat ons dus moet verstaan, is dat nog nooit het God se vereiste vir die beërwing van die ewige lewe verander nie. Wat is die vereiste? Volmaakte gehoorsaamheid aan Sy wil. Ek wil hê dit moet julle baie goed vasvat, volmaakte gehoorsaamheid. Dis nog steeds, in terme van God se geregtigheid, die ononderhandelbare voorwaarde vir die verkryging van die ewige lewe.
Die Here God kon natuurlik die gevalle mens in sy sondeverlorenheid gelos het. Niemand sou vir Hom kon sê: ‘Hoekom doen U dit?’ nie, want Hy het die gevalle engele, die demoneryk, in hulle sonde gelos en daar is geen, maar geen verlossingsplan vir hulle in plek geplaas nie en nie een van ons sal daaraan dink om ‘n vinger na God te wys en te sê: ‘Dis onregverdig’ nie. Dit sou Sy onbetwisbare reg gewees het om ook die gevalle mens in sy verlorenheid te los. Maar, en mag ek net sê, Die Here God sou dus kon besluit in Sy soewereiniteit om niemand te red nie, of Hy sou kon besluit om almal te red. Maar Hy het nie een van hierdie twee dinge besluit nie. Hy het besluit om sommige te red. Watter persentasie van die totaal? Die weet ons nie. Ons weet wel dat Hy vir Abraham gesê het: ‘Jou nageslag sal wees soos die sterre van die hemel, sand van die see.’ Geweldig baie. Daarom stel Hy hierdie verlossingsplan in werking. Nou weet ons dat die laaste Adam volmaak getrou gebly het aan Sy Vader. Nou kan julle onmiddelik sien hoe belangrik was die versoekinge in die woestyn. Soos wat satan aanvanklik na Eva en daarna na Adam toe gekom het en hulle versoek het, so het Hy ook na die laaste Adam toe gekom en Hom versoek. Maar waar die eerste Adam misluk het, het die laaste Adam triomfantlik uit die stryd getree. Hy was volmaak getrou en Hy was volmaak getrou tot die einde toe. Hiervan getuig die Vader deur Hom uit die dood op te wek. Jesus Christus se opwekking, liggaamlik, histories, persoonlik uit die graf, was die Vader se proklammering: ‘Hierdie man het volmaak voor My gelewe, Hy verdien nie die dood nie, Hy het die ewige lewe ontvang.’ Die vraag is: ‘Hoekom moes Hy sterf?’ Wel die rede was, Hy het vir ons sonde geword. Al ons sondeskuld is op Hom gestapel en Hy het gesterf toe Hy dit betaal het. Hy moes sterf. En Hy moes as die mens Christus Jesus sterf, want die mens moes hierdie sondeskuld betaal en die vereffening van hierdie skuld was die dood. So, Hy moes sterf, maar die Vader wek Hom dan op. Nou dit het duiselingwekkende implikasies. Nou kan julle onmiddelik sien waarom ons nie kan rondspeel met die opstanding soos sommige teoloë vandag so maklik doen nie. Maklik sê hulle: ‘Nee, wat dit is maar sommer net in die gemoedere en in die herinneringe van die vroeë kerk dat Hy opgestaan het.’ Dis die grootste onsin. Ek kan nie glo dat teoloë sulke goed sê nie. Dit sê net vir my hulle verstaan geen snars van die evangelie nie en hulle het oënskynlik nog nooit 1 Kor 15 gelees waar die Apostel Paulus glashelder duidelik aantoon, as Jesus Christus nie opgestaan het nie, is alles te vergeefs. Dis die evangelie wat ons verkondig. En as Hy nie opgestaan het nie, sal ons nie opstaan nie. Want as Hy nie opgestaan het nie, is dit ‘n teken dat Hy ook misluk het in die oë van die Vader.
Dit bring ons nou by ‘n onderwerp wat vir ons van die allergrootste belang is, ‘n onderwerp waarvan Martin Luther gesê het: ‘Die kerk staan of val by hierdie leerstelling.’ Dit is wesenlik belangrik dat elke Christen dit onder die knie sal hê. Ek praat van regverdiging deur die geloof alleen. Elke mens wat op hierdie aarde leef se grootste enkele probleem is dat hy deel is van ‘n gevalle mensheid, die gevalle mensheid in Adam. Dis sy grootste probleem en hy kan eenvoudig nie daar uitkom nie. Dis ‘n gevalle mensheid onder God se toorn. Rom 1:18 en die volgende sê dit tog vir ons. Daar toon Paulus aan tot en met Rom 3:20 spandeer hy ‘n beduidende deel van die Romeine boek om aan te toon dat alle mense sonder uitsondering totaal skuldig is voor God. Wat is die oplossing? Daar is net een manier, hy moet uit die gevalle mensdom uit kom en hy moet deel word van die nuwe mensdom. Hy moet los kom van Adam en hy moet deel raak van die laaste Adam, Jesus Christus. Hy moet deel raak van die nuwe mensheid waarvan Jesus Christus die hoof is. Nou die vraag is: Hoe op aarde kan dit gebeur? Deur goeie werke? Wel baie mense dink so. Al die godsdienste van hierdie wêreld getuig daarvan. Elke godsdiens het sy eie stel reëls wat jy moet gehoorsaam om los te kom en om as’t ware uit te styg bokant hierdie verdorwenheid van die mensheid en ek sluit daarby ‘churchianity’ in. ‘n Groot deel van die institusionele kerk veral in die westerse wêreld, vir eeue lank, maar vandag ook nog, verkondig werke. Daar is, ek dink hy’s nou ‘n dosent by die kweekskool op Stellenboch, ‘n Dr. Cilliers en hy het sy proefskrif gedoen, sy navorsing, hy het ‘n stuk of – ag ek is nou nie presies seker van die feite nie, maar kom ons sê 200 radiopreke geanaliseer om te kyk wat word gepreek in Suid-Afrika. Ek meen dit was seker almal Afrikaanse preke, maar ek is ook nie daarvan seker nie, maar maak nie saak nie. Hy het gevind dat, ook van hierdie persentasie is ek nie seker nie, maar dit kan hier in die orde van 90% van daardie preke was moralisties van aard. Dit het m.a.w. vir mense gesê: ‘leef so, doen dit, jy mag nie dit doen nie’ en 10% van die preke het die evangelie verkondig. M.a.w. ‘n groot en beduidende deel van die prediking in ons dag plaas kerkmense op die trapmeul van menslike verdienste. Dit is onbeskryflik tragies. As ons dink aan die lering uit Galasiërs uit: ‘As jy jou nog laat besny, dan het jy jou band met Christus verbreek’. Onthou julle? Dit laat my my hart vashou. Wat sê dit van die redding van goeie, vroom, godsdienstige kerkmense? Onthou julle vir Cornelius? Daarom sê ek is dit van die allergrootste belang dat ons regverdiging deur die geloof baie goed verstaan. Ek sê: ‘Hoe kan ‘n mens uitkom uit die gevalle mensheid? Hoe kan jy deel word van die nuwe mensheid?’ Deur goeie werke? Wel, al sê die godsdienste van die wêreld, insluitende ‘churchianity’ so, is dit nie wat die Nuwe Testament vir ons sê nie. Trouens die Ou Testament sê dit al: ‘Deur geloof alleen’. Die antwoord is so eenvoudig, dat dit godsdienstige mense beledig. M.a.w. hulle reaksies sal wees: ‘Wil jy vir my sê dat al my vroomheid en al my inspanning om uit te styg bokant my sondeverdorwenheid, dat dit niks beteken nie?’ En dan is die antwoord: ‘Ja, dit beteken ‘n ronde nul, tewens dit is eintlik diskwalifiserend in terme van Galasiërs se boodskap, Galasiërs 5.’ En natuurlik ongelowiges lag hieroor en sê: ‘Wat? Deur te glo? Dis mos absurd!’ Maar dit is presies wat die Nuwe Testament vir ons leer, deur te glo. Die evangelie beier dit dus uit, klokhelder: Deur geloof alleen word ‘n sondaar met Christus verenig. Dis die evangelie. Let op, beide begrippe is kardinaal belangrik – ‘geloof’ en ‘alleen’. Dis nie geloof plus werke nie, dis geloof alleen, want die oomblik as jy werke byvoeg dan is dit diskwalifiserend. As julle julle wil laat besny, het julle julle band met Christus verbreek. Geloof alleen. Dit beteken dus dat in die gelowige se hart en oortuigings en denke moet hy weet dat hy weet dat hy 100%, nie 99% nie, 100% op grond van Jesus Christus se verdienste en gehoorsaamheid gered word. Nou om regverdiging deur die geloof te verstaan, moet ons twee begrippe verstaan wat ek net vinnig vir julle wil noem. Die eerste begrip is plaasvervanging. Almal van ons ken hierdie begrip. As jy argumentsonthalwe jou tuin groei toe van die onkruid, maar jy is te besig en jy het nie tyd om te skoffel nie. Wat doen jy? Jy stel ‘n plaasvervanger aan, jy betaal hom R70 vir die dag laat hy op sy sitvlak sit en onkruid uittrek. ‘n Plaasvervanger moet die werk doen wat eintlik jou werk is, maar hy moet dit so doen dat jy nie meer nodig het om dit te doen nie. Dis plaasvervanger. Nou die hele Bybel verkondig vir ons die beginsel van plaasvervanging deur strafdraende bloedvergieting. In die offerdiens is Ou Testamentiese Israel se sondes bedek voor die Here. Dit lê aan die hart, hierdie begrip van plaasvervanging aan die hart van God se verlossingsplan. Ons sien dit, soos ek sê, in die Ou Testamentiese offerdiens en uiteindelik kom Jesus Christus as die groot Lam van God en Hy offer Homself as God se groot Hoëpriester. Plaasvervanging. Dit beteken dus, Hy doen dit in ons plek, die straf wat jou en my toegekom het, dit dra Hy en in die proses sterf Hy. Hy tree plaasvervangend vir die nuwe mensheid op. Die die een begrip. Die ander begrip is die begrip ‘toerekening’ wat miskien ‘n bietjie moeiliker is om te verstaan. Dis ‘n boekhou begrip, of ‘n rekeningkunde begrip. Dit dui op die inskrywing in ‘n rekeninge boek en ons sou dit vandag kon vertaal met ‘debiteer’ of ‘krediteer’. So sentraal is hierdie begrip, toerekening in bv. die apostel Paulus se denke, dat hy dit in Rom 4 elf keer gebruik, jy kan dit gaan tel daar. Ek is nie seker of die nuwe vertaling dit 11 keer het nie, maar ek dink waarskynlik so, maar vat die ou vertaling en onderstreep dit en tel dit, dan kom jy by 11 uit. Toerekening. Dit dui dus op ‘debiteer’ of ‘krediteer’. Nou sal julle met my saamstem dat as ons praat van ‘n juridiese basis vir ons verlossing, die juridiese en die boekhoukundige lê tog bymekaar. Die twee goed loop tog saam. Laat ek dus nou vir julle verduidelik aan die hand van hierdie twee begrippe hoe regverdigmaking of regverdiging dus ‘n dubbelkuur is. Hoe dit die sondaar se dubbele dilemma oplos. Enersyds word die probleem van skuld aangespreek. Wanneer ‘n sondaar glo en dan bedoel ek nou waarlik glo en geloof maar geloof is om met jou hele gewig aan Jesus Christus te hang, om jou hele lewe en jou dood en jou ewigheid aan Christus toe te vertrou. Om aan Hom te hang soos ‘n drenkeling aan ‘n lewensboei, om te weet Hy en Hy alleen is die antwoord op jou nood en om daarop te vertrou. Dis die geloof waarvan ek praat. Wanneer ‘n sondaar dus vanuit sy eie godsdienstige bankrotskap sy toevlug neem tot Jesus Christus en aan Hom hang, wanneer hy dus glo, dan word sy sondeskuld aan Jesus Christus toegereken.
Dan word Jesus Christus m.a.w. gedebiteer met sy skuld. Uiteindelik geld dit natuurlik vir almal wat deur die eeue sou glo, sowel in die Ou Testament as in die Nuwe Testamentiese tyd en uiteindelik dan word Jesus Christus as’t ware sonde vir ons en dan betaal Hy hierdie totale skuld eens en vir altyd op Golgota. Andersyds word die probleem van onvermoë aangespreek dat ons nie in staat is om aan God se standaarde te voldoen nie. Ons is nie in staat om, as ek nou kan terug keer na die beeld van netnou, om ‘n miljoen Switserse Frank in ‘n Switserse bankrekening te deponeer nie, ons is nie in staat nie, daar’ s nie ‘n manier nie. Miskien is sommige van julle wel in staat daartoe, maar die idee is dat jy nie in staat is nie, ek is nie in staat nie. Dit is dus die probleem van onvermoë en dit is die ander kant van die saak wanneer ‘n sondaar glo, soos ek netnou gesê het. Dan word Jesus Christus se volmaakte geregtigheid, Jesus Christus se volmaakte gehoorsaamheid aan daardie sondaar toegereken, daardie sondaar word gekrediteer daarmee. Kan ek net weer ‘n eenvoudige voorbeeld gebruik? Ek het netnou gesê hipoteties, ek het argumentsonthalwe by ABSA Voortrekkersweg ‘n oortrokke bankrekening van
R500 000. Dit maak my klaar. Ek kan nie meer slaap in die nag nie. My maagseer bloei elke tweede dag. Ek is radeloos. Ek is die kant toe, ek is daardie kant toe, maar daar is geen manier nie. Ek kan my huis verkoop, my kar verkoop, my vrou en kinders as slawe verkoop en dan kom ek nog nie daar uit nie. Wat moet ek doen? Maar Johan, soos ons almal weet, is ‘n baie welvarende argitek en ‘n man met ‘n goeie hart. Dan hoor hy van my dilemma en op ‘n subtiele manier vind hy uit wat is my bankrekening nommer en môre-oggend gaan deponeer jy R500 000 op my rekening. Maar jy sê nie vir my nie, soos ‘n goeie Christen doen jy dit anoniem. Ek weet nie daarvan nie. Môre-aand kry ek nie geslaap nie, so bekommerd is ek. Die volgende nag kan ek nie slaap nie, ek lyk soos ‘n wandelende spook. Ek is radeloos van die bekommernis. Soos dit nou maar gaan met ‘n man wat so ‘n oortrokke rekening het, jy maak nie jou bankstate oop nie. Wie van julle het dit al agtergekom? Maar jy sien nie kans om daardie bankstaat oop te maak nie en hulle stapel op, op, op. Die briewe wat kom, gooi jy maar weg. Jy sien nie kans om hulle oop te skeur nie. Sommige van julle sal dalk so ietsie verstaan hiervan. Dan nou uiteindelik na 2 weke sê my vrou vir my: ‘Nou moet jy iets doen.’ Dan besluit ek, ek sal maar die bul by die horings pak, ek sal bank toe gaan en op my knieë by die bestuurder gaan pleit. Wel, hulle moet my dan nou maar toesluit. Kom daar aan in vrees en bewing en die bankbestuurder spring op en hy sê: ‘Meneer van der Walt ek is so dankbaar jou probleem is opgelos.’ Ek sê: ‘Wat?’ ‘Ja’, sê hy. Op sy rekenaar druk gou vir my ‘n bankstaatjie uit. Hy sê: ‘Mnr van der Walt, jy skuld die bank nie ‘n sent nie!’ Ek sê: ‘Wat?’ ‘Ja’, hy sê: ‘twee weke terug was daar ‘n deposito van ‘n R500 000 op jou rekening!’ Onmiddelik toe maak ek my sommetjie, dan besef ek, wel, ek skuld die bank niks nie, maar die bank skuld my ook niks nie. Intussen het Johan lank weer nagedink oor my ellende en hy besef die arme drommel is so treurig, volgende maand is hy maar weer oortrokke, R5 000. Die maand daarna R10 000 en die maand daarna R15 000. En dan besluit hy: ‘Ag, hy’s tog ‘n goeie man en hy bedoel goed en hy doen goeie werk. Kom ek gaan betaal nog ‘n bedrag in op sy rekening laat hy die res van sy lewe, kennelik is daar nie meer soveel jare oor nie, die res van sy lewe darem sorgvry die evangelie kan verkondig.’ Dan gaan hy en hy betaal sê nou maar ‘n miljoen rand in op my rekening. Nou kan ek darem so ‘n ou rentetjie verdien elke maand en dan kan ek darem nou aangaan. Nou gaan ek weer bank toe, want ek is bekommerd oor daardie R5 000 per maand wat ek weer in die moeilikheid gaan beland. Maar wat doen hulle? As ek instap dan spring selfs die bankbestuurder op en hy kom haal my by die deur. En hy sê vir sy sekretaresse: ‘Juffrou, bring gou vir mnr van der Walt tee!’ Ek sê: ‘Wat het nou gebeur?’ Hy sê: ‘Man, iemand het ‘n miljoen rand op jou rekening gedeponeer.’ Maar kan julle sien? Nou is ek in krediet en nou is ek in besigheid.
Nou toegepas hierop, Jesus Christus het nie net ons skuld kom betaal nie, hy het ook daardie miljoen rand gedeponeer op ons rekening. Hy het ook daardie miljoen Switserse frank gaan deponeer in die Switserse bank, as ek die ander beeld kan gebruik. Ek is gekrediteer met Sy volmaakte gehoorsaamheid. Let op en dit moet julle nou vat, dit alles gebeur in God se boeke. Nie in my boeke nie, in God se boeke, buite my. Net soos wat Johan se depositos in die bank se boeke gebeur het. Ek was nie eers noodwendig bewus daarvan nie. Maar die feit bly staan, toe hy daardie eerste R500 000 gedeponeer het, was ek nie meer in die moeilikheid nie, hoewel ek nog gedink het ek is in die moeilikheid. Wat ek net daarmee wil beklemtoon is, hierdie inskrywings vind in God se boeke plaas. Die Here God werk met jou en my, Hy kyk na jou en my in terme van jou en my saldo in Sy boeke. Nou kan julle sien, in ‘n sekere sin het dit ‘n ronde nul te maak met hoe ek vaar hier as Christen. Ek sê nie dis onbelangrik nie. Ons praat nou oor regverdigmaking. Heiligmaking volg wel hier uit. Maar ons praat nou net oor regverdigmaking. Ons praat oor die juridiese basis vir ons verlossing. Dit het ‘n ronde nul te maak met hoe ek vaar, hoe ek presteer, hoe toegewyd ek is. Al wat nodig is, is dat ek my volle, ongekwalifiseerde vertroue in die diens van Jesus Christus stel – in Hom as my Middelaar en Plaasvervanger.
Nou kan julle sien hoe Jesus Christus se werk ‘n dubbelkuur is, dit spreek die probleem van my skuld aan, dit spreek ook die probleem van my onvermoë aan, want in God se boeke het ek nou die status van ‘n man wat nooit gesondig het nie, want my skuld is betaal. Nooit gesondig nie. As God die boeke oopmaak, Nico van der Walt, geen skuld nie, geen sonde nie, nooit gesondig nie, die status van ‘n man wat nooit gesondig het nie. Daar is ‘n verskil tussen die geskiedenis van ‘n man en die status van ‘n man. Maar die status van ‘n man wat nooit gesondig het nie en dit red my van die ewige verdoemenis. Maar benewens dit en dis die tweede deel van hierdie kuur, Jesus Christus se geregtigheid, Sy volkome wetsgehoorsaamheid aan die Vader, word aan my toegereken en in God se boeke het ek die status van ‘n man wat die wet van God volmaak onderhou het. Dis vreeslik eenvoudig om dit te verstaan, maar baie Christene het dit nog nooit gehoor nie. As jy dit nog nooit gehoor het nie, vat dit ‘n tydjie nogal om dit te verwerk, veral as jy die afgelope jare op die trapmeul van menslike en godsdienstige verdienste was. Veral as jy lank onder moralistiese prediking gesit het en wettiese prediking. Dan is dit nie ‘n ding wat sommer, hierdie vernuwing van jou denke, wat sommer binne ‘n uur gebeur nie. Maar ek wil hê julle moet dit bepeins en deurdink en deurdink. Ek wil vir julle in al die integriteit waaroor ek beskik, die versekering gee, wat ek vir julle sê is nie Nico van der Walt se teologiese wieletjie nie wat hy self ontwerp het nie. Dit is die historiese Christelike geloof. Gaan kyk maar na die belydenisskrifte van die kerk deur die eeue. Gaan kyk maar na die lering van die Reformatore en die Puriteine. Gaan kyk maar, en jy sal presies dit vind, want dis waar ek dit gevind het.
Goed, dit bring ons net by ‘n paar punte van toepassing uit. In die eerste instansie wil ek dit weer beklemtoon, dis uiters belangrik om te onthou regverdiging is ‘n juridiese gebeurtenis. Dit gebeur in God se boeke, dit gebeur buite my. Redding is in die eerste instansie objektief en nie subjektief nie. Dis natuurlik nog ‘n probleem, ons is so geneig om onmiddellik subjektiwisties te dink oor ons verlossing, onmiddellik te dink oor my emosies en hoe voel ek, voel ek gered. Hoe ek en jy voel oor ons redding het eintlik niks te doen daarmee nie. Al wat nodig is, vanuit jou bankrotskap vlug jy in Christus in, vanuit jou geestelike drenkelingskap gryp jy aan die lewensboei van en jy hang aan Hom vir tyd en ewigheid. Het julle al in die ‘comics’ gesien, hier loop ‘n ou op ‘n berg en dan word dit donker en dan val hy van ‘n krans af en hy val van ‘n krans af, dis skemer. Dan val hy en hy val en hy val. Dis verskriklik hoog, dis ‘n paar duisend meter. Dan so halfpad af dan groei daar so boom uit, uit die krans uit. Dan gryp hy daardie boom vas en dan hang hy daar. Dan kyk hy op en dan word dit so klein boontoe en hy besef hy sal nooit teen hierdie krans kan opklim nie. Dan kyk hy af ondertoe en dan word dit so klein ondertoe, daar onder loop die rivier so breed soos ‘n vuurhoutjie. Dan hou hy aan daardie tak vas. Soos wat daardie man aan daardie tak vashou, so hou reddende geloof aan Jesus Christus vas. Maar dit is al wat nodig is vir redding. Wanneer dit waar is in ‘n sondaar se lewe, dan vind die inskrywing in God se boeke plaas. Natuurlik moet ons onsself voortdurend spieël in die standaarde van God se Woord om te sien, nie of ons dit maak nie. Om te sien, nie of ons aan God se standaarde kan voldoen nie. Maar, wat wil ons sien as ons onsself toets in die spieël van en volgens die maatstawwe van God se Woord? Ons wil sien of ons ware geloof het. Dis al. Nou sê die Nuwe Testament vir ons: ‘Hoe weet jy jy’t ware geloof?’ Wat sê Jakobus? Goeie werke. Maar jy sien die goeie werke is nie die basis vir jou redding nie. Die goeie werke is die uitvloeisel vanuit ware geloof, want wat Jakobus vir ons sê en elders in die Nuwe Testament dat reddende geloof is iets baie spesifieks. Ondermeer het dit hierdie unieke karaktertrek dat dit altyd maar weer uitmond in goeie werke en gehoorsaamheid, uit dankbaarheid vir wat jy ontvang het in Christus. Want jy sien, wanneer die Here God vir ons ware geloof gee, gee Hy altyd daarmee saam die gawe van innerlike herskepping, ofte wel die wedergeboorte en ‘n herskepte hart kan nie anders as om ‘n hartstog te hê om God te behaag nie. So, as jy wil weet, het jy ware geloof, daardie geloof wat red? Wat sê Jakobus? Kyk of die werke voorkom, kyk na die vrug. Maar nooit red die vrug nie. Die vrug is bloot die bewys dat jy die ware geloof het. Maar uiteindelik is dit die vraag: Het ek die ware geloof? Maar ons moet oppas. Terwyl dit noodsaaklik is dat ons onsself toets, moet ons oppas dat ons nie in ‘n ongesonde tipe introspeksie verval nie. Het julle al gesien ‘n klein babatjie, as hy nou begin groter word en jy bad hom, dan kom daar ‘n punt waar hy sy naeltjie ontdek en dan raak hy besig met sy naeltjie. In Engels praat hulle van ‘navel gazing’. En baie Christene is so. Jy raak so besig met jou eie anatomie, as dit nie jou naeltjie is nie, is dit iets anders. Jy raak so besig met jouself, dat jy baie gou totaal moedeloos is. Maak nie saak hoe lank jy op die pad van die Here is nie, jy raak moedeloos as jy na jouself kyk. Die antwoord is, jy nael jou oë vas op Jesus Christus. Hy is die Hoof van die nuwe mensheid. Hy is die antwoord op jou dilemma. Daarom wil ek dit so sterk beklemtoon, redding is in die eerste instansie objektief van aard. Ja, die subjektiewe is teenwoordig, heiligmaking volg, maar in die eerste instansie objektief. Daar kom tye in ons lewens wat dit vir ‘n ou voel: ‘Wel, ek is te vrot om ‘n Christen te wees!’ Wat doen jy dan? Tel jou kop op en nael jou oë vas op Christus. Onthou wat Hy vir jou gedoen het. Jy word nie gered op grond van jou prestasie nie of jou ‘performance’ nie.
So die essensie van saligmakende geloof is om volledig, en nie gedeeltelik nie, staat te maak op jou plaasvervanger se middelaarswerk, namens jou, buite jou. Dis jou status in God se boeke wat jou saligheid al dan nie bepaal. Onthou julle ‘n mens lees in Numeri 21 dat die volk daar tydens die uittog op ‘n stadium ernstig gesondig het, en dat die Here dan ‘n klomp slange uitstuur en hierdie slange pik hulle en daar sterf duisende van hulle. En dan roep hulle die Here aan, en dan sê die Here vir Moses: ‘Maak ‘n koperslang en sit dit op ‘n paal en elkeen wat na hierdie slang kyk, sal gesond word. Soos wat die mense gekyk het en die Here vertrou het, Hy het die belofte gemaak, dit sal sekerlik gebeur en soos wat hulle na die koperslang gekyk het, het hulle gesond geword. Maar daar was sekerlik ‘n klomp van hulle wat met hulle toerniket verbande gesê het: ‘Ag man nonsens, hoe kan jy genees word van slang byt deur na ‘n koperslang te kyk?’ En hulle het probeer om met hulle toerniket verbande, met hulle pypolie wat hulle aansmeer, ander het gesuig en gesuig. Hulle is almal dood. Die antwoord was: ‘Kyk na die slang.’ Nou kom die Here Jesus die aand wat Nikodemus na Hom toe kom, dan praat Hy met hom oor die wedergeboorte en dan sê Hy: ‘Soos wat Moses die slang in die woestyn op’n paal gesit het, ek gebruik sommer my eie woorde, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.’ Om te glo, is om te kyk. Om in Christus te glo, is om op te kyk na die gekruisigde en jou oë in afhanklike vertroue op Hom en op Hom alleen vas te nael. Let nou op; Christus se versoeningswerk is finaal, dis afgehandel, dis eens en vir altyd, soos ons gelees het daar in Hebreërs. Die oomblik as jy waarlik glo en jou geloof van so ‘n aard is dat jy vanuit jou hart oortuig is dis die antwoord en dus van so ‘n aard is dat dit ‘n permanente vertroue bly, maar die oomblik as jy waarlik glo, word die inskrywing in God se boeke gemaak. Dan is jou status in God se boeke die status van jou Plaasvervanger en nie van jouself nie. Dit impliseer natuurlik dat ek en jy tot in ewigheid in God se boeke nie ‘n heerliker status sal hê as wat ons nou het nie, want jou status in God se boeke is dìe van Jesus Christus wat volmaak is. Dink daaraan. Ja, ons heerlikmaking lê voor. Ons moet opstaan uit die dood uit. Al daardie dinge moet nog gebeur, maar in God se boeke het ek reeds die status wat ek tot in alle ewigheid sal hê. Nooit ooit sal dit heerliker wees nie, want die status wat ek nou het en die status wat ek tot in alle ewigheid sal hê, is die status van Jesus Christus toe die Vader verklaar het: ‘Hy het die toets volmaak deurstaan in terme van die werkverbond’ en Hom opgewek het. Dis die een ding wat ons moet onthou. Verlustig jou daarin, en in die proses verlustig jy jou in Christus. Tweedens, nie ‘n enkele persoon in die liggaam van Christus het meer status in God se boeke as ‘n ander nie en nie ‘n enkele persoon het minder status in God se boeke as ‘n ander nie. Want die van ons wat in God se boeke figureer, het almal dieselfde status, die status van Jesus Christus. Ja, dit is so, party van ons het miskien verder gevorder op die pad van Heiligmaking. Party van ons word dalk deur die Here meer gebruik om andere na Hom toe te lei of om wonderlike dienswerk te doen, wat die geval mag wees. Maar in Sy boeke het niemand ‘n hoë, ‘n meerdere of ‘n mindere status nie. Dis die eerste punt. Die tweede punt, as jy deur die geloof met Christus verenig is, en m.a.w. Sy status in God se boeke geniet, is daar nie ‘n enkele lettertjie van die wet wat teen jou opgeroep kan word om teen jou te getuig nie, nie ‘n enkele letter van die wet nie. Stel jou ‘n gesprek voor tussen die wet en ‘n ware Christen, nie ‘n sondaar nie, ‘n ware Christen. Die wet vra jou: ‘Het jy my gebooie onderhou?’ Wat moet jou antwoord wees? ‘Helaas, nee! Ek het hulle almal male sonder tal verbreek.’ Die wet: ‘Wel, het jy die straf vir ongehoorsaamheid betaal?’ Wat is jou antwoord? ‘ Nee, nie self nie, maar Christus het dit vir my betaal.’ Die wet: ‘En die voorwaardes vir die ewige lewe, het jy die toets geslaag?’ Christen: ‘Nee, ek sal dit nooit kan doen nie, ek sal dit nooit kan regkry nie, nooit kan haal nie, maar Christus het dit vir my gedoen en ek is daarmee gekrediteer in God se boeke.’ Hier kom die gesprek tot ‘n einde. Die laaste woord is gespreek. Dit bring ons nou by Openbaring hoofstuk 12, wat ons netnou gelees het, hulle het hom oorwin. Hoe? Deur die bloed van die Lam, deur die woord van hulle getuienis, deur die feit dat hulle hulle lewe tot die dood toe nie lief gehad het nie. Wat bedoel dit? Hulle het hom oorwin nommer een deur die bloed van die Lam. M.a.w. hier kom die aanklaer van die broeders en hy sê vir jou: ‘Louw! Jy is te sleg om ‘n Christen te wees! Kyk nou weer wat het jy vanmôre aangevang! Kyk wat het jy gesê! Kyk wat het jy gedink!’ Wat is jou antwoord? Jy plaas hom elke keer skaakmat daarmee. ‘Die bloed van die Lam! Jesus Christus het gesterf en my skuld betaal. Jesus Christus was gehoorsaam aan die Vader en ek is gekrediteer met Sy geregtigheid.’ En die duiwel het geen antwoord hierop nie. Maar die vraag is nou: ‘Is jy seker dit geld, Louw? Is jy seker? Daar is baie mense wat vals geloof het. Die Bybel waarku ons oor en oor.’ Dan is die tweede antwoord: ‘Deur die woord van my getuienis’. Hierdie geloof van ons is nie ‘n ‘flash in the pan’ nie, dis nie iets wat ek nou net vinnig uitgedink het en nou net bytrek om jou soort van skaakmat te plaas nie. Nee. Hierdie geloof het ek reeds al vir soveel jare en die Here het deur hierdie jarw oor en oor, male sonder tal bewys dat Hy my as Sy kind aangeneem het. Hy sorg vir my, Hy lei my, Hy beskerm my, Hy bekragtig my. Hy is vir my ‘n God. Dis die woord van my getuienis.’ Ja, maar nou ja goed, daar’s baie vroom mense met wie dit goed gaan. Dit gaan nie net met Christene goed nie.’ En dan is my antwoord: ‘So lief het ek die Here en so ‘n hartstog het ek vir die evangelie dat ek waarlik bereid is om my lewe daarvoor neer te lê.’ So die tweede ding en die derde ding bevestig die egtheid van jou geloof, sodat jy daarmee kan sê dat die eerste ding, die bloed van die Lam, inderdaad funksioneel is in jou lewe.
Nou moet ons die toets gou merk. In die eerste instansie: kom ons vat die tweede vraag eerste. Wat is die diepste grond vir jou redding? Wat is die diepste grond vir jou redding as ware Christen? Ek het drie alternatiewe gegee: Geloof in Christus, wetsgehoorsaamheid, enigiets anders. Ek gaan nou nie vir julle vra om vir my te sê wat julle geantwoord het nie, maar ek sal julle sê wat ek geantwoord het: Wetsgehoorsaamheid. Wetsgehoorsaamheid. Nie myne nie, Jesus Christus s’n. Dis die diepste grond vir jou redding. Dis nie my wetsgehoorsaamheid nie. Nee, maar Jesus Christus se wetsgehoorsaamheid. As ek sou sê ‘geloof’, dan maak ek iets in my die grond vir my redding en dan’s ek in die moeilikheid. Geloof is nooit die grond van my redding nie. Geloof is bloot, die ou Puriteine het gesê dis die bene waarmee ek in Christus in vlug, dis die arms waarmee ek Gos se genade aanbod vasgryp, omhels. Maar dis nooit die basis vir my redding nie. Wetsgehoorsaamheid. Dit bring ons by die tweede een. Waar sou jy wou bly? Wel, die keuse is baie voor die hand liggend. ‘Ja’ sê jy, ‘dis baie voor die hand liggend.’ Wel, jy sien Adam se paradys was ‘n volmaakte plek gewees met die ewige lewe as werklik ‘n moontlikheid, ‘n werklike moontlikheid. Die Christen se huidige wêreld is ‘n baie onvolmaakte plek, maar as ek en jy vanaand met Christus verenig is, is die ewige lewe nie vir ons ‘n moontlikheid nie, dis ‘n onvervreembare, onomkeerbare realiteit. So Adam kan sy paradys maar hou. Ek is baie gelukkig in Christus hier in Gauteng, want ek het absolute onwankelbare sekuriteit. Ek het reeds die ewige lewe, want soos ek hier voor julle staan is ek ‘n man wat ‘n status het in God se boeke, ‘n saldo in God se boeke. En wat sê my saldo? Nooit gesondig nie, die wet volmaak onderhou. Ek vertrou hierdie lering sal julle so lewensveranderend vind, soos ek dit gevind het. Dit is regverdigmaking deur die geloof – dit is hierdie leerstuk waarvan Martin Luther gesê het: ‘Die kerk staan of val hierby.’ Mag die Here ons help om dit te verstaan.