Soli Deo Gloria (Die eer van God alleen) Ef. 1:3-14
Nico van der Walt
Ons kyk na Soli Deo Gloria, Die eer van God alleen. Met die oog daarop lees Ef. 1:3-14. in the Ou Afrikaanse Vertaling want die Nuwe Afrikaanse Vertaling het op strategiese punte, dink ek, dit mis.
Efesieër 1:3 “Geseënd is die God en Vader van ons Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemel in Christus, soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld, om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat hy ons voorbeskik het om ons as Sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus na die welbehae van Sy wil, tot lof van die heerlikheid van Sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde”. (OAV)
Let op hierdie woorde: “Tot lof van die heerlikheid van Sy genade”. Dis hoekom Hy dit doen. Dis op hierdie punt wat ek tog dink die Nuwe Vertaling mis dit so bietjie. Die Nuwe Vertaling sê: “Daarom moet ons God prys vir Sy groot genade”. Natuurlik moet ons God prys, maar ek dink wat die Griekse teks hier wil sê is dat die Here God al hierdie dinge doen ter wille van die lof van die heerlikheid van Sy genade. Die NIV-Bybel sê Hy doen dit alles “to the praise of His glorious grace”. Dit is die selfde as die Ou Afrikaanse Vertaling.
Ek gaan aan in vers 7: “In Hom het ons die verlossing deur Sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van Sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand, deurdat Hy aan ons die verborgenheid van Sy wil bekend gemaak het na die welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het, om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemel is sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van Sy wil, sodat ons kan wees, hier het ons weer ‘n soortgelyke uitdrukking, tot lof van sy heerlikheid. Hier is ‘n doelsin: “Sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds vantevore op Christus gehoop het en wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos (hier het ons ‘n derde keer die uitspraak) tot lof van sy heerlikheid”. (OAV)
Dis waaroor dit gaan, “tot lof van sy heerlikheid”. Dit is natuurlik wat “Soli Deo Gloria” beteken, die eer van God alleen. Nou die vyfde sola sê vir ons dat God alles wat Hy doen, doen ter wille van die eer van Sy heilige naam. Alles wat Hy doen – “Soli Deo Gloria”. Alles, alles, ter wille van God se eer.
Nou alle denkende mense het deur die eeue maar geworstel met die vraag: Is daar sin in my lewe? Hoekom is ek hier? Is daar sin in die geskiedenis? Waarheen is alles op pad en is my lewe daarby betrokke, of is ek maar die produk van ‘n toevalligheid? Is ek verantwoordelik in die hele saak of is ek maar net soos ‘n kurkprop op die see – stormagtige see van menslike wel en weë? Dis die vraag van alle denkende mense deur die eeue. Dis die vraag wat dan ook aanleiding gegee het tot die bekering van baie mense deur die eeue. Dit is sekerlik ondenkbaar dat die allerhoogste God van die hemel en die aarde, die Een wat onbeperk is in sy wysheid, in sy kennis, in sy vermoë iets so groot soos die skepping en die verloop van die geskiedenis sou aanpak sonder dat Hy daarmee ‘n doel gehad het en ‘n plan gehad het. Dat daar so ‘n plan in plek is in God se gemoed en voornemings word in die allerduidelikste taal deur die Bybel geleer.
Dit is natuurlik so, selfs ons as mense as ons enigsins ‘n groterige projek aanpak, dan beplan ons. ‘n Mens pak net eenvoudig nie ‘n groot projek aan sonder om jouself af te vra; waar wil ek uitkom? Wat wil ek bereik nie en hoe gaan ek daar uitkom? Ons kan dus aanvaar dat die allerhoogste God van die hemel en aarde inderdaad so ‘n plan gehad het en op ‘n werkswyse besluit het en dis presies wat die Skrif ons leer. As ‘n mens dan nou na die geskape werklikheid kyk om jou, as jy deur jou teleskope kan kyk na die heelal, jy kan deur jou mikroskope na die mikrokosmos kyk. Wat sien jy? Onbeskryflike en geniale ontwerp, sisteem, logika. Mens sien dit orals. Dit bevestig net natuurlik dat die Skepper van alle dinge planmatig gewerk het, tot so ‘n mate is dit natuurlik in die kosmos, kom ons sê maar, ordelik daar gestel dat ons tot die mate wat ons dit verstaan en tot die mate wat ons dit matematies kan vasvat in staat is om baie dinge te antisipeer en wonderlike ontwerpe te doen. Ons kan selfs ‘n vuurpyl afskiet sodat hy op die regte punt op die regte oomblik bv. op die maan gaan land, of wat die geval mag wees, sateliet, of wat die geval mag wees. Daar is dus wonderlike orde, daar is sisteem, daar is planmatigheid, daar is ontwerp in die kosmos. Niemand maar niemand kan dit ontken nie. God se Woord leer dat hierdie planmatigheid nie net te doen het met die skepping nie, maar inderdaad ook met die voortgang van die skepping of die instandhouding van die skepping. So leer die Skrif ons ook dat die hele geskiedenis deur God georden word, volgens sy wil. Dit beteken dus dat die Bybelse beskouing van die geskiedenis is dat dit nie ‘n sikliese karakter in die eerste instansie het nie, maar ‘n linieëre karakter. Dis op pad iewers heen, daar is ‘n einddoel met die geskiedenis. Wat meer is, die Bybel leer ons dat elke mens se lewensloop en wat met hom gebeur ingeweef is in die uitwerk van hierdie raadsplan. Dis dus tot die fynste besonderhede dat God alles uitgewerk het en alles beheer. As ‘n mens dink bv. in Matteus 10:29: “Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie en tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie, van julle, selfs die hare op jul kop almal getel”. (NAV) Sê die Bybel vir ons. Dit is natuurlik die Here Jesus se manier om te beklemtoon dat God tot in die fynste, fynste besonderhede heers. Die Bybel leer ons ook dat sonde en die tragiese gevolge van sonde ingeweef is in die uitwerk van God se raadsplan. ‘n Mees tramatiese voorbeeld is die kruisiging. Die boek Handeling leer ons in die duidelikste taal dat die kruisiging inbegrepe was in God se ewige raadsplan. Ek lees vir ons Handelinge 2:23. Daar word gepraat van die Here Jesus, dan word daar gesê: “Hom, wat deur die (let op) bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring”. (OAV) Of, Handelinge 3:17-18: “Nou weet ek, broers, dat julle net soos julle leiers in onkunde gehandel het. Tog het God reeds vroeër by monde van al die profete aangekondig dat die Christus sou lei. Soos hy dit nou laat gebeur” (NAV)
Uiteraard, as God dit voor die tyd al deur die profete aangekondig het dat Christus sou ly beteken dit tog dat Hy dit beplan het en dat Hy dit vasgelê het. Die ander uitspraak is in Handelinge 4:26-28: “Die konings van die aarde het in opstand gekom en die heersers het saamgespan teen die Here en teen sy Gesalfde. Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen U heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, (luister hierna) en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het”. (NAV) Hierdie is natuurlik die vroeë gemeente wat in gebed is. So hulle praat met hulle Vader in die hemel en hulle sê vir hom: “Hierdie mense; Herodes, Pontius Pilatus, die Jode en die Heidene, hulle het alles gedoen, (let op die woordjie alles ook) hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik het en besluit het. Wat ons dus moet verstaan is dat Herodus en Pilatus en die Jode en die heidene almal verantwoordelike mense was en dat hulle sodanig skuldig is voor God en dat hulle die prys daarvoor sal betaal, maar dit hef nie die feit op dat hulle presies gedoen het wat God vooraf bestem het sou gebeur nie. Lukas 22:22 stel dit so: “Met die Seun van die mens sal dit gaan soos dit voorbeskik is, maar weë die man deur wie Hy verraai word!” (NAV) U kan dus onmiddellik sien hier dat hoewel ons hier te doen het met God se voorbeskikking, God se verordeningswil, is die mense wat daarby betrokke is nie sonder hulle verantwoordelikheid en aanspreeklikheid voor God nie. Tewens, die Here Jesus sê hier: “Weë die man deur wie Hy verraai sou word en dit was natuurlik Judas Iskariot. As dit geld vir die kruisiging, volg dit onomkombaar dat dit ook geld vir die sondeval, want die kruisiging was tog daar om die effekte van die sondeval op te hef. As die kruisiging dus in God se ewige raadsplan voor die grondlegging van die aarde vasgelê is impliseer dit onomkombaar dat selfs die sondeval vasgelê is in God se raadsplan. Ook ander Skrifgedeeltes impliseer hierdie diepsinnige waarheid. Ek haal vir ons aan uit 1 Petrus 1:19, 20: “Julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem”. (NAV)
Is Christus hiervoor bestem? Wanneer? Reeds voor die skepping van die wêreld. Uiteraard hierdie is diepsinnige waarhede en ons kan nie dieper hier indring nie as dit wat God besluit het om aan ons te openbaar nie. Ons kan net soveel sê, maar ek dink daar is genoeg in die Bybel aan ons geopenbaar om te sê dat die Here God ‘n ewige raadsplan het en dat dit ondermeer dan ook sonde en die kruisiging van sy Seun insluit. Natuurlik dan nou die verlossingsplan. Die vraag is, wat behels God se plan? Het ons ‘n idee waaroor dit gaan? Sekerlik. In ‘n sekere sin is dit die sentrale tema van die Bybel. Wat vind ‘n mens dan as jy nou die Bybel lees. Wel, jy vind dat soos J. I. Packer dit stel op ‘n plek dat “God is die hoofkarakter nie die mens nie”. Dit gaan oor God in die eerste instansie dit gaan ook nie in die Bybel in die eerste instansie oor die mens se redding nie, dit gaan oor God se eer en wat God wil bereik. Ja, die evangelie natuurlik, die evangelie lê aan die hart van God se plan, maar wat ons moet verstaan is dat die evangelie het nie in die eerste instansie te doen met die redding van arme sondaars nie. Die evangelie het in die eerste instansie te doen met die verheerliking van die verlossende God, dis waarmee die evangelie primêr te doen het, met Sy eer. Wat ons wel duidelik moet sê is dat hierdie dinge nie geskied sonder die mens se verantwoordelike en bewustelike en inspannende betrokkenheid nie. In God se alwysheid en almag het Hy dit so bewerkstellig dat mense verantwoordelike wesens is en dat hulle optrede en hulle besluite en hulle begeertes alles inbegrepe is in die uitwerk van Sy raadsplan, dis alles ingeweef, geïntegreerd ingeweef. Hoe dit presies werk weet ons nie. Dis vir ons te hoog, maar dit kan ons sê dat die mens se verantwoordelikheid nie in die minste opgehef word deur God se soewereiniteit en deur God se plan nie. ‘n Mens kan sê in ‘n sekere sin dat die Here God tot ‘n baie groot mate sy raadsplan uitwerk deur die lompe gehoorsaamheid van sy kinders en deur die dwase rebellie van sy vyande. Nou vervleg met hierdie hooftema as ons die vraag vra: “Wat lees ons dan in die Bybel?” is die boodskap dat die sondegevalle mens uit pas is met God. Deurgans vind ons dus die oproep tot die gevalle mens, kom in pas met wat God besig is om te doen. Dis ‘n oproep dus tot bekering, en die oproep tot bekering is basies ‘kom sit jou skouer aan, ek sê dit met respek, God se wiel. Kom gooi jou gewig hierin. Werk saam met Hom, werk in dieselfde rigting as Hy, gee alles wat jy is en het, vir Sy verheerliking dus. Wat meer is, hiermee samehangend word dit dus vir ons gesê dat hierdie genade; reddende genade van God in mense se lewens as Hy hulle uithaal uit hulle eiesinnige trekkery na ‘n anderkant toe as God se wil en hulle oorbring en hulle verenig met Sy Seun sodat hulle saam met Hom werk sodat dit hulle hartstog word om saam met Hom te werk dan is die beklemtoning dit geskied in Christus. In Hom en in Hom alleen werk God Sy plan uit. Besonderlik in Hom as die hoof van God se nuwe mensheid, as die nuwe Adam, of dan die laaste Adam soos 1 Korintieërs 15 dit stel. Uiteindelik is dit so dat ons deur die geloof met Christus verenig word wat dus beteken dat ons slegs deur die geloof regtig in pas kan wees met God se plan. So het God dit besluit, sodat Hy dit verordineer. Daarom speel geloof ‘n kardinaal belangrike rol in die uitwerk van God se raadsplan. Hy wil hê ons moet Hom vertrou. Hy wil hê selfs in ons Christelike lewe as ons onsself gee vir die Here dat ons maar altyd weer op die water sal loop, as ek dit so kan uitdruk. Bloot op grond van Sy beloftes, bloot op grond van wat Hy gesê het en wat Hy beveel het; dit is aan die wese, aan die hart van die egte Christelike lewe.
Dit bring ons nou by die onderwerp van God se soewereiniteit. God se soewereine heerskappy; nie net in die geskiedenis nie, maar ook in individue se lewe is ‘n onderliggende uitgangspunt van die hele Bybel, deurgaans. Die oomblik as jy dit aanvaar word dit ‘n lopersleutel wat vir jou die res van die Bybel oopsluit, sodat jy die Bybel kan verstaan. Nou kom ek probeer vir julle die soewereiniteit van God definieer. God se soewereiniteit dui op Sy reg en vermoë om as skepper, onderhouer en dus onbetwisbare eienaar die ganse heelal en al Sy skepsele; let op, in die hemel sowel as op die aarde te regeer net soos Hy wil, sonder enige aanspreeklikheid hoegenaamd, aan enigiemand anders. God hoef aan niemand verantwoording te doen nie, Hy is God. Daar is niemand hoër as Hy nie, daar is niemand naas Hom nie, en Hy maak en doen soos Hy goed dink. Hy is die eienaar van alles, Hy het dit gemaak. Dit is belangrik om te onthou dat God beskik oor alle kennis en oor alle mag. Niks kan hom stuit nie. Hoe kan ons Hom stuit? Nie een van ons kan hom stuit nie. Niks kan Hom pla nie, niks kan Hom verras nie, Hy gaan onverstoorbaar voort, Hy is God. As jy enigsins twyfel oor God se almag om te doen wat Hy wil doen, gaan net op ‘n wolklose aand en kyk na die hemel, kyk na die sterre, vra jouself af, “Wat is dit wat jy daar sien? Wie het dit gemaak?” Hoe duislingwekkend groot en almagtig en alwys is Hy nie. Dis een rede waarom ons as gelowiges ons verheug in die sterrekundige navorsing en die ruimtenavorsing, want hoe meer opnames gemaak word, hoe meer; die Hubble teleskoop, hy het nou nuwe lense gekry, en hoe verder hy die heelal in tuur, hoe meer raak ons onder die indruk van God se almag, God se grootheid. Hy is tienmiljoen maal en meer groter as wat ek en jy ooit kan dink, ooit kan verstaan. Daarom kan Hy doen wat Hy wil doen. Maar dit beteken nie dat God se soewereiniteit bloot ‘n blinde krag is nie. Dit is gekoppel aan en dit funksioneer altyd in harmonie met al Sy ander attribute. Sy heiligheid, Sy wysheid, Sy liefde, Sy alwetendheid, Sy almag, Sy onveranderlikheid, en so meer. Daarom bedreig hierdie soewereiniteit van God my nie. Trouens, ek het baie vreudge daarin, ek het geweldige sekuriteit daarin, want ek vertrou Sy verbondstrou, ek maak staat op Sy liefde, ek is oortuig van Sy liefde, van Sy barmharigheid, van Sy goedheid, van Sy wysheid. Ek vertrou God baie meer as wat ek myself vertrou, daarom bedreig dit ons as gelowiges nie. Ek kan dink dat ‘n ongelowige geweldig bedreig raak as hy hierdie dinge hoor oor God en dat hy in opstand kom daarteen. As daar een van die dinge is waarteen die ongelowiges meer skop as enige iets anders met betrekking tot die selfopenbaring van God in die Bybel, dan is dit Sy soewereiniteit, want dit bedreig hulle. Dit bedreig hulle oneindig baie want hulle weet net hulle kan niks daaraan doen nie, maar vir ons wat voorwerpe is van Sy liefde is dit ‘n saak van groot blydskap en dankbaarheid en sekuriteit. Laat ons dus vrede maak daarmee, laat ons dit eenvoudig aanvaar dis onomkombaar so as Skepper is God my eienaar, en as hy dan nog my herskepper is dan is Hy des te meer my eienaar. Hy het die reg en Hy het die vermoë om in my lewe te doen net wat Hy wil. Die Bybel se beeld, natuurlik, bekende beeld in hierdie verband, is dat Hy is die potterbakker en ek is die klei. God regeer tot in die fynste besonderhede. Dit is ‘n waarheid wat ons moet raakvat, wat ons moet verstaan. Tot in die fynste besonderhede. Baie mense sal sê goed, ek aanvaar dat God soewerein regeer oor die groot gebeure in die geskiedenis, die meeste van ons kan daarmee vrede hê, maar wat van die kleinste en die fynste besonderhede. Kom ek illustreer dit vir julle aan die hand van ‘n vrou wat swanger raak. Elke geboorte is die resultaat van ‘n bepaalde vroulike eiersel, wat deur ‘n manlike spermsel bevrug raak, maar by ‘n gegewe geleentheid is daar miljoene der miljoene van hierdie spermselle teenwoordig. Elkeen van hierdie spermselle is in elk geval in beginsel in staat om daardie eiersel te bevrug, maar my genetiese samestelling of daardie baba wat verwek word se genetiese samestelling hang af van watter spermsel die eiersel bevrug. As dit ‘n ander spermsel is dan is daar een of ander subtiele genetiese verskil. ‘n Ander persoon met ‘n ander genetika word gebore. Uiteindelik dus in ‘n ongelooflike proses van presisie, ekzaktheid, word so ‘n bevrugte eiersel dan d.m.v. chromosome en gene van ‘n chemiese bloudruk voorsien wat die ontwikkeling van daardie eiersel vorentoe grootliks bepaal. Dit maak van daardie mens wat daar verwek is die unieke, unieke, unieke wese wat hy of sy is. Geskape volgens God se soewereine wil. Wat dit nog meer duiselingwekkend maak is die feit dat dit geld vir my voorsate ook. Wat ek daarmee bedoel is dit, as my grootoupagrootjie besluit het om nie met sy verloofde te trou nie maar met ‘n ander jeugliefde, dan was ek nie daar nie en niemand sou my gemis het nie.
Dis duiselingwekkend hierdie goed. Dit beteken dus, geneties vir my om die man te wees wat ek is, was dit nodig dat regdeur tot by die skepping elke keer ‘n bepaalde spermsel, ‘n bepaalde eiersel moes bevrug, anders kon ek nie wees nie. Nou staan dit so vas soos die berge dat God is volledig in beheer van alles tot in die fynste besonderhede of hy is nie in beheer van wat hier gebeur nie. Die ander logiese moontlikheid is natuurlik dat hierdie bevrugtingsproses toevallig is. Bloot toevallig. Dan sou dit beteken dat die Here God met krisisbestuur die gang van hierdie wêreld sou moes probeer beredder en stuur soos Hy wou, want as die Here God nie die geringste van dinge beheer nie, kan Hy ook nie die groot dinge beheer nie. Ek gebruik altyd die voorbeeld hier van Adolf Hitler. Kom ons dink nou maar aan die betrokke geleentheid toe Adolf Hitler verwek is, as een van die ander van die miljoene spermselle wat daar teenwoordig was, daardie gegewe moment, eerste by die eiersel uitgekom het dan was dit dalk nie Adolf Hitler wat gebore is nie maar Adolfiena Hitler. Dan het ons bes moontlik nie ‘n tweede wêreld oorlog gehad nie. Dan het die ganse geskiedenis van die 20 ste eeu en van die wêreld daarna anders verloop. So uiteindelik staan ons eenvoudig voor hierdie alternatief, voor hierdie keuse. Logies of God is die alleen regeerder en Hy regeer tot in die infinidesimale detail van ‘n ontvangenis in die moederskoot, m.a.w. watter spermsel by die eiersel uitkom eerste, of Hy regeer nie. Dan moet ons eenvoudig maar buig voor die god van toeval. Dis een van hierdie twee lyk dit vir my. Ek sien nie ‘n ander alternatief nie. Dit gaan ons verstand te bowe natuurlik en in die finale analise is dit ‘n kwessie van geloof. ‘n Mens aanvaar of die Skrifgetuienis wat hierdie tipe ding betref, kinderlik gelowig of soos ek gesê het jy buig jou knieë voor die god van toeval en die noodlot; daar is nie ‘n ander keuse nie. Laat ons onthou wie ons is, ons is skepselle, ons is nietig, ons is gering en laat ons onthou wie God is.
Nou is dit so dat die Here God in Sy soewereine alwysheid besluit het om die mens as ‘n denkende, verantwoordelik wese met ‘n wil te skape. Hoewel die sondeval die mens ernstig gebuig het, hoewel die radikale verdorwenheid van die mens ‘n realiteit is wat ons maar te goed ken, proefondervindelik, is dit so dat dit nie die mens se verantwoordelikheid ophef nie. Hier lê die verskil tussen die Bybelse leer met betrekking tot die soewereiniteit van God enersyds en die leer van die fatalisme andersyds. Fatalisme ontken die mens se verantwoordelikheid, maar dis nie wat die Bybel ons leer nie. Die Bybel leer ons, die mens is verantwoordelik, ook die gevalle mens is verantwoordelik. So die Woord van God leer ons twee waarhede wat ons beswaarlik met mekaar logies kan versoen. Altwee hierdie waarhede word met dieselfde gewigtigheid geleer in die Bybel. God is soewerein en Hy is volkome soewerein tot in die fynste besonderhede; dit eendersyds, en andersyds, die mens is verantwoordelik. Die oomblik as ons in ons denke of in die teologie of in die prediking een van hierdie twee waarhede verwaarloos of oorbeklemtoon ten koste van die ander, dan trek ons teologie skeef en dan het dit liederlike pastorale en leerstellige implikasies. Dit is dus baie, baie nodig dat ons altwee hierdie dinge sal vashou.
Natuurlik ons as Christene het ‘n addisionele verantwoordelikheid want ons verstaan die dinge en ons is herskep en ons is dus toegerus om die Here God te behaag en te gehoorsaam. Daarom sien ons ons lewe as ‘n stuk rentmeesterskap; ons is baie bewus daarvan ons sal voor die Here moet gaan verantwoording doen oor wat ons met ons lewens gedoen het, wat ons met ons gawes gedoen het, met ons tyd en met dit wat Hy ons gegee het. Ons moet gaan verantwoording doen. Wat God se soewereiniteit betref, beklemtoon die Bybel vir ons drie areas waar die soewereiniteit van God by uitnemendheid funksioneer. In die eerste instansie Sy barmhartigheid geld vir alle mense. Sommige mense sterf jonk, ander word oud, sommige mense leef arm, ander leef ryk. Sommige is intelligent, ander is dom, sommige kry swaar ander het ‘n wonderlike gemalike lewe, ens. Die een area waar God soewerein regeer, dis ‘n beklemtoning in die Bybel. Die ander natuurlik en dit is waarskynlik die sterkste beklemtoning dat God soewerein is in Sy betoning van genade. Die meeste mense waarskynlik kry wat hulle verdien en wat hulle kies, ‘n toekoms in die ewigheid sonder God, maar sommige mense in die Here God se soewereine genade ontvang wat hulle nie verdien nie. Hulle ontvang tewens die teenoorgestelde wat hulle verdien, hulle ontvang genade, hulle ontvang redding. Die derde area is God se soewereiniteit in die roeping van die mens tot diens. Hy gee vir ons verskillende gawes, Hy lei ons op verskillende paaie, Hy gebruik elkeen van ons op ‘n unieke wyse. Die beklemtoning van die Nuwe Testament is tog baie sterk op die verskeidenheid binne die gemeente van die Here.
Dit bring ons by die onderwerp waaroor ons dit eindelik het hier. God se finale doel met dit alles is Sy eer. Dit word tog dwarsdeur die Bybel ondubbelsinning geleer; die Here God doen alles ter wille van Sy selfverheerliking. Dis Sy doel met alles. Voor die tyd, in die tyd, na die tyd. Uit Hom, deur Hom, tot Hom is alle dinge. Wat ons dus moet verstaan is dat die Here God ter wille van Homself bestaan. Hy bestaan nie ter wille van ons nie, ons bestaan ter wille van Hom. Nou het sommige mense ‘n probleem daarmee want ons is tog gewoond daaraan dat as ‘n mens sou lewe vir sy eie eer dan is dit een van die afstootlikste dinge wat in so ‘n mens se lewe waargeneem kan word. Dit raak dus vir ons problematies om te dink dat die Here God, Hy wat absoluut heilig is bloot ter wille van Sy eie eer leef. Nou is dit so dat God God is en nie ‘n skepsel nie. In Sy geval is dit dus anders. Daar is niemand hoër as Hy ter wille van wie se eer Hy kan lewe nie. Daarom is dit onvermydelik dat Hy ter wille van Homself sal lewe en let op, Hy dien sy eer met uitnemendheid met die betoning van Sy liefde en Sy genade. Hy dien Sy eie eer met uitnemendheid deur die evangelie wat verkondig word. Die feit dat dit vir elke sondaar moontlik is om deur iets so basies, iets so eenvoudig soos die geloof alleen gered te word. Nou as ons praat oor die heerlikheid van God moet ons miskien net ‘n paar dinge verstaan. Die woord ‘heerlikheid” veral die Hebreeuse woord het oorspronklik gewig beteken. Dit beteken dus as dit beskrywend is van ‘n persoon dat so ‘n persoon gewigtig is, dat hy dus ‘n man van status en aansien is en dit word inderdaad dan ook gebruik van Jakob en van Josef. Jakob se rydom, Josef se mag; hulle was manne van gewig gewees. Op God het hierdie woord op twee maniere betrekking. In die eerste instansie verheerlik Hy Homself in Sy handele. Ons sien bv. Sy majesteit en Sy heerlikheid in Sy skepping, ons sien dit in Sy Goddelike verskyning in die Ou Testament, dink maar aan Sy verskyning in Jesaja of Esegiël en so meer. Ons sien dit in Jesus Christus by uitnemendheid toe die Here God in Christus verskyn, dan sien ons Sy heerlikheid daar (2 Kor. 4:6). Ons sien dit in Sy magtige dade in die geskiedenis, ons sien die attribute wat in aksie is in ons lewe.
So in die eerste instansie dus, God verheerlik Homself, maar tweedens, as dit gaan oor die verheerliking van God is dit so dat Hy ook die mens roep om Hom te verheerlik. Ons doen dit en ons noem dit maar “ons godsdiensbeoefening”. Ons lewe van gehoorsaamheid en dankbaarheid en toewyding en liefde. Ons doen dit in reaksie op Sy selfopenbaring. Wanneer ons Hom loof wanneer ons Hom gehoorsaam, wanneer ons Hom vertrou, wanneer ons in Hom glo, wanneer ons Jesus Christus as Here bely, wanneer ons dus in liefdevolle dankbare vererende onderwerping voor Hom lewe, dan verheerlik ons Hom, en dis hoe ons Hom groot maak. Nou kan ons verstaan wat dit beteken as God Sy eie eer soek. Kom ons probeer dit vasvat in ‘n enkele definisie. God wil tot in ewigheid die gewig en die heerlikheid van Sy karakter en dade aan Sy rasionele skepsele toon, sodat hulle Hom kan ken en gevolglik ewig sal verheerlik met vererende, dankbare, lojale liefde, lof, vertroue, en gehoorsaamheid. Dis waaroor dit vir God gaan, dis waarheen Hy oppad is met alles. Nou op geen wyse word hierdie alles oorheersende doel van God naamlik om Homself te verheerlik meer uitnemend bereik as in Sy verlossingsplan nie, want hierin, in Sy verlossingsplan sien ons van Sy attribute gedemonstreer, sien ons van Sy attribute in aksie wat ons op geen ander wyse sou ken nie. Bv. as Adam nooit in sonde geval het nie. Ek het netnou gesê dat dit geïmpliseer word deur die Bybel dat selfs die sondeval deel is of deel was van God se ewige raadsplan. Wat sou ons geweet het van God se genade, want genade per definisie word betoon aan sondaars. Jy moet ‘n sondaar wees voor jy genade kan verkry. Genade is juis om te ontvang die teendeel wat jy verdien. So geld dit ook vir God se toorn. Wat sou Adam geweet het van God se toorn wat ook een van Sy attribute is as hy nie in sonde geval het nie. Onmiddellik sal julle nou sien hier gaan ‘n skrefie oop vir ons om iets van die sin van die sondeval te verstaan. Ek gee onmiddellik toe dis net ‘n skrefie waardeur ons kan loer, maar ten minste help dit ons om iets te verstaan van waarom die Here God in Sy alwysheid en in Sy ewige raadsplan die sondeval toegelaat het. Kom ek verwys julle na een of twee uitsprake van die apostel Paulus waar hy dit duidelik stel dat die Here God Homself verheerlik in die redding van sondaars en waar hy dit duidelik stel dat Hy Sy attribute ten toon stel daarin. Die eerste is Romeine 9:20-23: “Mens wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer. Hoe kan die maaksel vir sy Maker sê waarom het jy my so gemaak? Het die pottebakker nie die reg om met dieselfde klomp klei iets anders en alledaags te maak nie? En as God dieselfde wou doen, (let nou op) Hy wou Sy toorn laat sien en Sy mag bekend maak, en daarom het Hy die voorwerpe van Sy toorn, die mense wat reg was om verdelg te word met groot geduld verdra. En so sou Hy ook die rykdom van Sy heerlikheid bekend maak oor die voorwerpe van Sy ontferming, die mense wat Hy vantevore voorberei het om aan Sy heerlikheid deel te hê.
Sien julle hoe beklemtoon Hy hier dat die Here God se attribute, die uitnemendhede van Sy karakter duidelik sigbaar word in die verlossingsplan; Sy genade, Sy toorn, Sy almag, Sy geduld, die rykdom van Sy heerlikheid. Of Efesieërs 2:7 is ook besonders insiggewend. God se groot verlossing in Christus waarvan hy skryf in Efesiërs 2:4-6 het ‘n besondere doel. Dan haal ek aan: “Sodat (doelsin) God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot Sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.
Wat ons dus moet begryp, sonder die sondeval sou ons niks verstaan het van God se genade nie, van Sy barmhartigheid nie, van Sy geduld nie, van Sy liefde nie, van Sy verbondstrou nie. In ‘n sekere sin kan ons dus sê dit was nodig dat die sondeval plaasvind, nie net sodat Jesus Christus kan sterf nie, maar dat ons ook in hierdie wonderlike verlossingswerk van die Here van Sy heel kosbaarste attribute in aksie kon sien. En ek en jy ken hierdie attribute nie net teoreties nie, maar ook proefondervindelik soveel beter as Adam en Eva. In elk geval, voor die sondeval het hulle niks daarvan geweet nie, en hulle kon noodwendig nie iets daarvan weet nie. So verheerlik die Here God Hom. Dit geld nie net vir die mens nie, dit geld ook vir die engelewêreld volgens die Nuwe Testament. Kom ek verwys julle vinning na twee baie interessante en insiggewende Skrifplasings of Skrifuitsprake. Daar staan in Efesieërs 3:10 en 11: “Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het (sien julle, van ewigheid af voorgeneem het) om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring.”
1 Petrus 1:12 is amper komies in die rykdom van die Grieks hierso. Daar skryf die apostel Petrus dat die engele begerig is om insig te kry in God se groot verlossingsdade. Dan sê hy daar hulle leun intens geïnteresseerd en stipstarend vooroor. Dis ‘n saamgestelde Griekse woord wat hy daar gebruik. Hulle kyk m.a.w. na die kerk. Die ou Puriteine het al gesê dat die Here God het verordineer dat die kerk die universiteit van die engele sou wees. Want jy sien, die engele, die uitverkore engele, die heilige engele, wat weet hulle van God se genade want hulle het nie in sonde geval nie, hulle ken nie sonde nie. Al wat hulle van God se genade kan weet is wat hulle in die kerk sien en wat hulle in jou en my lewe sien. Dis die hele gedagte daar.
Kom ons sluit dus af, want sekerlik het dit enorme implikasies vir jou en vir my. Ek kan maar net enkele woorde daaroor sê, maar julle kan nou begryp dit behoort ‘n mens se hele lewe te beheers; hierdie waarhede. Die vraag is dus, is jou en my lewe werklik in pas met God se plan. Is ons in pas met wat die Here besig is om te doen. Is ons m.a.w. besig om met alles waaroor ons beskik ons self te gee vir die verheerliking van God. Word ek en jy oor die volle spektrum van ons lewe en van ons bestaan gedring deur hierdie hartstog om die Here God te verheerlik. Tot die mate wat ons dit verstaan, en tot die mate wat dit die hartstog van ons lewens word, tot daardie mate beheers dit ons hele lewe, sewe dae ‘n week. Dis hoekom die reformatore weer beklemtoon het, oor en oor, ons is nie net Sondag Christene nie, ons is sewe dae ‘n week Christene, vier-en-twintig uur ‘n dag Christene, twee-en-vyftig weke ‘n jaar Christene. Of ons met vakansie is, of ons rugby speel, of ons werk, of ons slaap, of ons siek is, maak nie saak wat nie, altyd maar weer, die eer van God, die eer van God. En wat van die mense wat verkies om hierdie hoë en verhewe roeping te ignoreer, wel, hulle Skepper respekteer hulle keuse. As dit jou keuse sou wees om sonder God te lewe dan sal die Here God dit respekteer en jy sal tot aller ewigheid sonder God wees. As jy ‘n lewe sonder die Here kies, dit is wat jy sal kry. Maar diegene wat hulle lewens in pas bring met God se raad, hulle het ‘n sinvolle lewensdoel, die eer van God. Hulle het ‘n vreugdevolle lewensreël, die wet van God, hulle het ‘n onfeilbare vriend in lewe en dood, die Seun van God.
Hulle het ‘n wonderlike troos in beproewing, die wete dat God besig is om hulle na die Seun se beeld te vorm, en hulle het onwankelbare sekuriteit, want hulle het God se beloftes dat hulle tot in alle ewigheid sal lewe. Kortom, hulle het die ware lewe en hulle het dit vir alle ewigheid. Dit is dus die vraag wat ons onsself moet afvra. Is my lewe in pas, hartstogtelik in pas met dit waarmee die lewende God van hemel en aarde, die soewereine Een wat nie net oor die geskiedenis en die eeue regeer nie, maar tot in die fynste infinidesimale detail regeer, is ek besig om saam met Hom te werk of werk ek teen Hom. En laat ons dit dus onthou, God sal Homself in elke mens se lewe verheerlik. En Hy sal dit doen, of in jou en my ewige saligheid, of in jou en my ewige verdoemenis. Mag die Here ons help om hierdie dinge nie net vanaand en more te oordink nie, maar mag Hy ons help sodat hierdie waarhede werklik beheersend word in ons ganse lewe.