Is dit die moeite werd om God te dien Deel4 -Sinvol mens wees

Hierdie reeks artikels is uittreksels uit radiopreke van oorlede Prof J.C.G. (Kolie) Kotze. Ons hoop u vind dit insiggewend en geestelik verrykend.

DIT IS DIE MOEITE WERD — SO ALLEEN KAN ONS SINVOL MENS WEES

Onse Vader ons treur oor die ontwrigting wat sonde in ons menslike lewe kom bewerk het. Ons bid U, herskep ons opnuut na die beeld van ons Heiland en Meester. Ons bid dit in sy Naam.

Matt. 16:24—25: Fil. 1:21: 2 Tim. 3:17.
Wanneer ek praat van sinvol mens wees, dan dink ek aan twee uitstaande kenmerke van die mens in sy gevalle toestand — kenmerke wat hom ongemerk verraai. Hy is eerstens geneig om dit wat sy aansien kan verhoog, aan te gryp. Bewus of onbewus identifiseer hy homself met sulke assosiasies: “Dit is ek daardie!” Van enige negatiewe beeld wat hom kan verneder, distansieer hy egter homself: “Dit is nie ek nie!” Vandaar soveel verskonings om homself uit ‘n vernederende situasie te red. Hierdeur verraai hy ongemerk sy gevalle natuur. Geskape na die beeld van God — volgens die psalmdigter ‘n weinig minder as die engele — is die mens, of hy dit erken of nie, bewus dat hy van hierdie hoë posisie uitgeval en veragter het. Om daardie rede probeer hy immer vir die vernederende veragtering vergoed. Hy is dan ook geneig om met sy beroepsprestasies, of op enige ander wyse, daarvoor te vergoed. Alles wat aansien kan verwerf, eien hy toe en gryp dit aan: “Dit is ek daardie!”
Hieruit volg nog ‘n tweede kenmerk van die gevalle mens, indien hy in sy prestasies misluk, kan hy dodelik gefrustreerd raak. Ook as hy oud word en die prestasies en suksesse nie meer binne sy vermoë is nie, dan is hy geneig om die lewe as leeg en sinloos aan te voel. Hy sien geen verdere nut in die lewe nie en vra gemaklik die vraag: “Is dit die moeite werd om God te dien?” As hy God dan nie ken nie, voel dit of alles onder hom verkrummel en hy self in die niet verdwyn.

Die toets aan die einde

Teen hierdie agtergrond begryp ons die erns en volle implikasies van die Meester se woorde: “Elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind” (Matt. 16:24—25). Wat bly daar uiteindelik in die grenssituasie van ‘n sinlose lewe oor om te red wanneer alles waarvoor jy jou vermoei het, deur jou verslapte hande val? Aan die ander kant, wat ‘n verryking as jy by die eindpunt van jou aardse pelgrimsreis in volle besit kom van dit waarvoor jy gelewe het — Jesus Christus en sy koninkryk? Hiervan het ons die volmaakte voorbeeld van ons geliefde Meester self toe Hy uitgeput en sterwend kon uitroep: “Dit is volbring!” Ook Paulus kon na soveel stryd en lyding in afwagting van die marteldood uitroep: “Vir my is die lewe Christus . . . Om heen te gaan en met Hom te wees is vir my verreweg die beste” (Fil. 1:21—23).
Daar was ‘n tyd in sy lewe dat Paulus kon uitroep: “Vir my is die lewe Saulus van Tarsus!” Om daardie selflewe van hom uit te bou en groot te maak, het die jongman uit Tarsus met sy geleerdheid geywer en ook met alle mag die gemeente van God vervolg. Sy mikpunt was om die reputasie by die geestelike owerhede te verwerf dat hy die sekte van die dwalende, gekruisigde en misleidende Nasarener uitgeroei het. Vir hom was die lewe Saulus, maar wat het hy eintlik langs hierdie weg nagejaag? Homself, en daarom die dood! Van die Saulus, en so ook van elke mens in sy gevalle toestand, leer die Skrif dat ons dood is in die misdade totdat ons weer lewend gemaak is in Christus Jesus (Ef. 2:1—2). Almal het gesondig en dit ontbreek ons aan die heerlikheid waarin God ons geskape het — daar is geen uitsondering of onderskeid nie (Rom.3:22—26). Die dood woeker in ons sondige lewe (Rom. 6:23). Wie dus hierdie eie, sondige lewe soek, jaag die dood na. Dit is die onvermydelike oes van die mens in sy gevalle toestand, daarom is die ongeredde lewe sonder herstel tot God doelloos, sinloos, leeg en sonder hoop (Ef. 2:12).
Wie egter met Paulus op die punt kom dat hy kan sê: “Vir my is die lewe Christus,” en derhalwe Saulus as lewensdoel vervang het met Christus, so iemand sal die ware lewe, geskape na die beeld van God, terugvind. Hy word weer mens van God (2 Tim. 3:17).
So alleen keer ons na die ware en enigste sinvolle lewe terug.
Die antwoord op die vraag of dit die moeite werd is om God te dien, is ondubbelsinnig en voor die hand liggend – dit is al wat die moeite werd is! Paulus het dit ontdek, vandaar sy onuitblusbare ywer en geesdrif. Hy getuig: “Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word” (2 Kor. 4:10). Watter storms ons ook al hier mag aftakel, eintlik bespoedig dit alles net ons herstel om meer volledig mens van God te word. Ons was onlangs diep ontroerd om ‘n bekende suster wat deur ontsettende lyding gegaan het, soos ‘n glinsterende juweel in haar nuwe gestalte as mens van God te sien.

Die enigste sinvolle lewe

Die menslike lewe kan slegs sinvol wees as dit werklik aan sy doel beantwoord. Dit geld vir die sêkulere sowel as die geestelike lewe. Paulus druk hierdie doel bondig uit as hy beweer dat die evangelie een mikpunt het, naamlik dat die mens weer volkome mens van God moet wees (2 Tim. 3:17). Die menslike lewe kan dus slegs sinvol wees as dit aan die eise van sy ware identiteit voldoen. Om dit te kan vasstel, moet ons vra: “Wie het die mens sy aansien en lewe gegee en ook sy uiteindelike bestemming bepaal?” Die antwoord is dat God aan hom die lewe gegee het en dat die skepsel geroepe is om mens van God te wees met die doel om sy Skepper te dien en te verheerlik deur sy beeld te vertoon. Die mens is dus iemand met ‘n bepaalde karakter en doel. Hy is kragtens sy skepping, en ook as beelddraer van God, ‘n wese met ‘n besondere doel en roeping. Hy kan sinvol mens wees slegs deur vir God te lewe en sodoende mens van God te wees. Alles wat daarbuite val — hoe voortreflik ook al — moet in terme van sy wese en bestemming as sondig en sinloos beskou word. Dit is in die lig hiervan dat die letterlike betekenis van die Griekse woord vir sonde gesien moet word as die mis van ‘n doel!
Watter prestasies die mens dus ook al in sy gevalle toestand mag behaal, niemand het die wesentlike van sy roeping gerealiseer alvorens hy as gevalle wese in Christus by God teruggekom het nie. Vir so ‘n gemis kan geen talente, geld, mag of enigiets anders vergoed nie. Alles bly slegs die grimering van ‘n dooie! Dit verklaar die Meester se stelling dat tensy die mens gewillig is om ter wille van Christus aan sy eie lewe te sterwe, hy die ware lewe verloor.
Ons kan dit anders stel: net in soverre die mens aan sy eie lewe met die woekerende kiem van die dood daarin sterwe, sodat Christus sy lewe kan word, het hy daartoe teruggekeer om werklik mens te wees.
Ons moet die probleem gevolglik ook van die ander kant af benader: Is dit die moeite werd om God nie te dien nie? Is dit die moeite werd om die hoogste suksesse en prestasies te behaal en jou lewe sodoende slegs in die tydelike en aardse te laat opgaan? Is dit werklik die moeite werd? Christus keer ook die probleem om as Hy vra: “Wat baat dit die mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal die mens gee as losprys vir sy siel?” (Matt. 16:26).
Merk u Christus se siening van die menslike lewe? Deur sy skuld aan die wet van God is die gevalle mens enersyds in ‘n abnormaal sieklike en onmenslike toestand, en andersyds is hy vermink deur die sonde. Hy het sy geskape, menslike heerlikheid as beelddraer van God verloor (Rom 3:22—25). Nou vra die Meester: “Wat baat dit die mens dat hy gevalle wese die grootste prestasies op aarde bereik, maar sy eie identiteit as mens van God word nie herstel nie?” Die vraag van die Meester verkleineer nie die prestasies van die mens nie. Trouens, nog in sy ongevalle toestand het God hom die opdrag gegee om vrugbaar te wees, die aarde te onderwerp en daaroor te heers (Gen. 1:28). Dit was egter nie ‘n ongekwalifiseerde opdrag nie. Hy moes die werk in sy hoedanigheid as mens van God doen, en hiervoor was alles tot sy beskikking — net van die boom van die kennis van goed en kwaad mag hy nie geëet het nie (Gen. 2:16—17). Die implikasie is dat hy as mens van God nooit sy eie pad, sy eie wil en eie oordeel mag volg nie. Hy moes alles as mens van God doen — binne die grense van God se soewereine wil. Dit het die mens geweier! Hy het van hierdie soewereine begrensing weggebreek, omdat hy sy prestasies buite die sfeer van God se soewereine wil wou verwesenlik. Natuurlik word dit nie erken nie! Soos ‘n atleet wat in sy eie baan hardloop en sy eie tyd bepaal, word die gevalle mens ook buite orde verklaar. Solank hy weier om in Christus Jesus tot God terug te keer en weer die gees van die kind te ontvang, is al sy prestasies ongeldig en kan sy verminkte wese nie sy roeping vervul nie.
Dit is presies in hierdie toestand – buite die sfeer van God se wil — dat die mens immer weer vra: “Is dit die moeite werd om God te dien?” Hy misluk in die uitvoering van sy eerste opdrag om die aarde te onderwerp en daaroor te heers, omdat hy die tweede opdrag — om binne die grense van God se soewereine wil te bly — geweier het! Natuurlik is niks dan die moeite werd nie, daarom sê die Skrif: Die skepping is teen sy sin en wil aan die nietigheid onderwerp deur die sonde van die mens, en “wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God” Rom. 8:17—23); dit wil sê op die herstelde toestand van die mens as mens van God. In hierdie verband het prestasies wel hulle sin en betekenis, maar as dit al is waarin die mens se lewe opgaan, dan bly daardie lewe uit die oogpunt van God sinloos en onverwesenlik.
Die enigste sinvolle prestasies word gelewer deur mense van God — mense vir wie God eerste en sentraal is, en aan wie hulle vermoëns en gawes toegewy is. Dan is alles die moeite werd. Dit is ook die orde wat Christus stel wanneer Hy ons as sy volgelinge beveel: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matt. 6:33). Daarmee wil Hy sê: “Word eers wat jy is — mens van God — en al die ander dinge sal vir jou toegevoeg word.” Om hierdie rede kan die Christen ook wanneer hy oor die motivering vir sy geloofslewe uitgevra word, antwoord: “Ek is Christen om waarlik mens te kan wees, omdat Christus alleen my gebroke verhouding met God kan herstel!” Hierdie lewensverandering kan nie deur menslike bekwaamheid, dapperheid of geleerdheid bewerkstellig word nie. Die grootste taak vir die gevalle mens is derhalwe om mens van God te word en so waarlik in die omvattendste sin van die woord weer mens te wees. Dit kan alleen in Christus gebeur, want slegs Hy was na sy mensheid die ongeskonde mens — die mens sonder sonde. Net in Hom kan ons menslike lewe volkome verwesenlik word.

Goddelike identiteit

Solank die mens nog nie na sy identiteit as mens van God teruggekeer het nie, bly alles leeg, sinloos en sonder goddelike waarmerk. In hierdie tyd is die lewe onverwesentlik en derhalwe nie die moeite werd nie! Die rede hiervoor is dat die mens in die diepste nood en behoefte van sy verminkte wese as mens van God nog nie gehelp, herstel of bevredig is nie. Dit is waarom sonde hamartia genoem word: die mis van ‘n doel.
So verstaan ons ‘n menigte onverklaarbare dinge aangaande die mens, selfs die uiterlik teenstrydige feit dat die ateis ‘n soeker is – iemand in wie daar -‘n stem na ‘n mag buite en bo homself roep. Hy gee dit alles die wonderlikste en geleerdste name, maar die feit is dat sy wese op God betrekking het, daarom soek hy erens na so ‘n beheersende, beskermende en versadigende mag. Dit word bevestig deur ‘n verhaal van prof. Hallesby oor die lewe van ‘n uitgesproke ateis. Na sy dood is klein stukkies papier tussen die rommel gevind waarop uitroepe tot God geskryf staan.
Om dieselfde rede is daar ook geen totaal ongodsdienstige volke nie. Paulus beskryf hulle gemoedstoestand treffend as hy aan die heidense geleerdes in Athene sê: “Terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook ‘n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan die onbekende God, Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle” (Hand. 17:23).
Hoe anders verklaar mens die feit dat daar so baie mense met groot prestasies en skatte is wat tog nie gelukkig is nie. Die mens met sy geestelike dimensie kan van brood alleen nie lewe nie (Matt. 4:4). daarom het hy, ondanks die volheid van lewe en kragte, tog die gevoel van leegheid, frustrasie en angs. Dit is die geroep van ‘n uitgehongerde geestelike weeskind, omdat die gemoedslewe van die mens sonder God die van ‘n weeskind is. Hy het die gevoel dat hy wees is — sonder ‘n vader!
Waar die lewe so onverwesenlik, onversadig en leeg is, word die mens deur ‘n gevoel van ontsettende angs en onsekerheid beetgepak, omdat die liefdesband met God verbreek is. Al besit hy alles van die aarde, is hy nogtans geestelik wees. Die slotsom is duidelik — die mens se lewe kry eers sin namate hy weer die Gees van die Kind Jesus ontvang het (Gal. 4:6—7). Dan eers kom sy persoon weer in harmonie met sy oorsprong, roeping en bestemming — om mens van God te wees!

Net een weg

Ons kan ‘n menigte dinge probeer om die innerlike geroep van ons wese stil te maak en vrede te verkry, maar tevergeefs! Selfs allerlei godsdienste slaag nie daarin nie. Daar was nog net een volkome mens — die Seun van God, Jesus Christus. Hy noem Homself graag “Seun van die mens”. Die mens van God kry in Hom onbelemmerde gestalte, daarom sy eis dat ons in sy mens-lewe kan deel slegs in soverre ons gewillig is om ons eie, verminkte lewe af te sterf (Luk. 9:23—26). Hoe meer van sy lewe deur die Heilige Gees in my gestalte aanneem, des te meer word ek werklik mens. Alleen so verstaan ons Christus se onverbiddelike eis van wedergeboorte. Dit is asof Hy wil sê: “Ons kan in die mensheid van die koninkryk van God net deur geboorte deel kry.” So alleen kan die
lewe van die Seun van die mens my gees en lewe word — so alleen kan ek weer werklik mens wees.
U moenie deur hierdie eise ontmoedig word en meen dat u nooit daaraan sal kan voldoen nie! Wanneer begin die kindjie om mens te word? By sy geboorte natuurlik! Daardie huilende kleinding is reeds mens, hoewel dit nog ‘n lang groeiproses mag verg om eendag mens te word. So ook met u — in u wedergebore toestand uit Christus deur die Heilige Gees, is u mens van God met die lewensbeginsel van die Seun van die mens in u. Wel moet u veel van die oue mens nog afsterwe en moet die nuwe mens in u gevoed, geoefen en gedissiplineer word. Wat Luther hieroor van die kerk gesê het, is ook waar van die individu: “Alles blink wel nog nie, maar oral word geskrop en gevrywe.” Moenie moed opgee nie. Dank God vir die mensie van God in u gebore. Versorg hom getrou met God se genademiddels van Woord, sakrament en gebed. Dit is die voedende middels van die Heilige Gees, en u sal verstom staan oor die geestelike groei en lewensvitaliteit wat dit aan u sal verleen. Weldra sal u deur die Gees van Christus tot die besef kom: as die Seun jou van binne nuut en vrygemaak het, sal jy waarlik vry wees (Joh. 8:32—36). Heerlik om so weer in Christus Jesus werklik mens te word. Hou asseblief net hierdie een feit voor oë: u kan vele prestasies in hierdie lewe bereik, maar alles wat buite Christus is, bly steeds in ‘n toestand van sonde. Waarlik sinvol mens kan u slegs in Christus wees — so alleen word u weer mens van God.
Nou eers, onse hemelse Vader, begin ons ‘n menigte van ons probleme verstaan — al ons angste, frustrasies en weesgevoelens! Nou begryp ons wat u doel met ons is om mense van God te wees — u mense te wees! Dankie onse Here God vir die kind in ons gebore! Ons wil met moederlike liefde en trou die herbore kind in ons versorg. Dankie vir u lieflike genademiddels van Woord en gebed deur die Heilige Gees aan ons gegee. Ons waardeer dit en ons wil dit voortaan op so ‘n wyse gebruik dat ons mag ontwikkel tot die volwasse mens in Christus Jesus, in sy Naam. Amen.