Is dit die moeite werd om God te dien Deel3

Hierdie reeks artikels is uittreksels uit radiopreke van oorlede Prof J.C.G. (Kolie) Kotze. Ons hoop u vind dit insiggewend en geestelik verrykend.

DIT IS DIE MOEITE WERD — MAAR DIT HANG VAN USELF AF

Here onse God, ons Meester het ons geleer dat dit die lewe is om U te ken! Dat ons dikwels aan die lewe twyfel, is die beskamende bewys dat ons U nie na reg ken nie. Stuur u lig dat die ons in al die waarheid lei, is ons bede in Christus.

Job. 20:19—29.
“Is dit die moeite werd om God te dien?” Kan ongeloof ‘n meer onsinnige vraag vra? Ons antwoord vanuit ‘n geloofshoek is: “Dit is die moeite werd, maar dit hang van die persoon self af.” Vra maar vir Thomas, die twyfelaar. Wanneer ons hier egter van ‘n twyfelaar praat, praat ons nie van mense vir wie twyfel ‘n liefhebbery is nie. Daar is diegene wat met twyfel speel omdat dit ‘n beskutting teen die aanklag van hulle gewete is. Hulle wil die sondige lewe van die vlees nie prysgee nie — inteendeel geniet hulle dit en dobbel daarmee! Vir sulke mense is twyfel ‘n goedkoop manier om hulle teen die gewete te beskut. Dit is trouens vir hulle ‘n kosbare besit, daarom redeneer hulle so graag oor geloofskwessies. Redenasies met die soort mense baat niks nie, daarom raai Paulus ook vir Timotheus van sulke gesprekke af (2 Tim. 2:23—26). Inteendeel sien die apostel die mense in die strik van die duiwel! Daar is egter ook twyfelaars wat alte graag wil glo, maar geen sekerheid kan kry nie. Vir hulle is die gevoel van twyfel uiters verlammend en ‘n mens is jammer vir hulle.

Die twyfelaar sak uit

Dink net watter vraagtekens moes die hart van ‘n arme Thomas gemartel het. In sy binneste was daar gedagtes van vertwyfeling en wanhoop. Alles het so in stryd met die Here Jesus se aansprake as Messias verloop! Daar was die toenemende verset en bitterheid van die owerhede van Israel en die groot afval van die skare wat Hom nie meer gevolg net nie. Alles het smartlike twyfel in Thomas se hart veroorsaak: “Is dit alles waar — is dit die moeite werd om nog voort te gaan?” By geleentheid het hy vir die Here Jesus gesê: “Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg weet?” (Joh. 14:5). Thomas was werklik besig om in die storms uit te sak!
By ‘n vorige geleentheid het hy ook baie duidelik die twyfel in sy hart verraai. In Johannes 11:1—8 lees ons dat toe die Here Jesus gevra is om die siek Lasarus te besoek, die dissipels bang was dat hulle Hom in Judea sou doodmaak. Toe Hy egter wel besluit het om te gaan, was dit Thomas wat uitroep: “Laat ons ook gaan om saam met Horn te sterwe” (Joh. 11:16). Hy het dus getwyfel of Jesus werklik die Christus is, hoewel hy Hom deur die jare tog leer liefkry het. Hy twyfel nou of dit alles die moeite werd is. maar weens sy liefde vir Christus is hy gewillig om saam met Hom te sterwe. Wat ‘n smartlike situasie! Hoe troosteloos en sonder hoop, klink die vertwyfelde gemoed nie. Alle drome het uitmekaar gespat, maar tog was hy gewillig om saam met Hom te sterwe. Vir Thomas het die pad doodgeloop. Dit is dan ook nie verbasend nie dat die dag na die kruisiging toe die dissipels saam was, ons lees: “En Thomas was nie saam met hulle toe Jesus gekom het nie” (Joh. 20:24). Hy was totaal vertwyfeld! Alles het so tevergeefs gelyk — nie die moeite werd nie! Hy het Jesus liefgekry, maar onder sulke omstandighede kon hy nie glo nie. Hy sak gevolglik uit en daag nie vir die byeenkoms op nie!
Wat ‘n weerspieëling van toestande wat so dikwels in ons eie gemoed heers. Ons preek en hou kerk, maar die massas gly voort — al dieper die afgrond in — en dan brand in ons harte die vraag: “Is dit die moeite werd om aan te gaan? Laat ons maar saam met Hom gaan sterwe!” Sommige gaan sover om te sê: “Die Christendom is dood.”

Dooie formalisme

Waarom is daar soveel vertwyfeling, uitsigloosheid en wanhoop selfs in sogenaamde Christelike kringe? Dit is vanweë die werklike
karakter van vele wat vandag as Christene wil deurgaan. Van baie mense is dit waar dat Christelike invloede van kindsdae af op hulle ingewerk het, en dat die Christelike lewe en Christendom vir hulle iets natuurliks en vanselfsprekend geword het — dit het deel van hulle kultuur geword. Qns is almal Christelik beinvloed. As gevolg daarvan lees ons sommer maar net die Bybel, of ons is by waar dit gelees en gepredik word. Ons gaan kerk toe totdat ons groot genoeg is om te sê: “Ek gaan nie meer nie!” Dan hou hulle ook op
om te bid en te lees, want hulle ken eintlik geen geestelike werklikheid nie. So ook met die Nagmaal — hulle kry daar niks meer as net brood en wyn nie.
Die twyfelaar is derhalwe iemand wat met die uitwendige vorme bekend is. Hy was onder Christelike invloede, maar het nooit tot ‘n beslissing gekom en tot die wesentlike daarvan deurgedring nie. Dit is daarom heeltemal te begrype dat hierdie mense sal vra: “Is dit die moeite werd om te bid, om Bybel te lees, om kerk toe te gaan, om gedoop te word en om Nagmaal te gebruik? Hoe kan dit die moeite werd wees om God te dien, want ek raak dan niemand of niks deur dit alles aan nie?”
Waarom vind hierdie mens die algemene Christelike gebruike en invloede nie die moeite werd nie? Hy ken God nie. Hy ken wel ‘n oorlewering aangaande God — ‘n menigte historiese feite — maar in sy hart stem hy eintlik met Thomas saam: “Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?” (Joh. 14:5). Dit sê hy ondanks alles wat hy deur die jare heen beleef het. Is dit vreemd dat die Here Jesus vir hom sê: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe … As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien. . . Hy wat My gesien het, het die Vader gesien” (Joh. 14:6—9).
Wat ‘n atmosfeer van vertwyfeling! Die dissipels is sterk deur Christus beinvloed en het Hom ook leer liefkry, maar tog is hulle in vertwyfeling platgeslaan. Om hierdie rede het die Meester hulle dieselfde nag verseker en bemoedig dat die Heilige Gees sal kom, en dat Hy hulle die wesentlike van Hom sal laat ontdek: “Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie. Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei . . . Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig” (Joh. 16:12—14). Om Christus dus werklik te ken en sodoende van alle twyfel genees te word, is baie meer as net algemene Christelike invloede nodig! ‘n Mens kan veel van die invloede — hoe goed ook al — ondervind het, en tog nog nie die wesentlike in daardie gebed, Bybel of sakrament aangeraak het nie.
Hoe kan jy Christen wees in die werklike sin van die woord as jy
nog nie die Christus in Jesus ontdek en aangeraak het nie? Hoe kan jy dan anders as om te twyfel en te vra: ‘Is dit die moeite werd?” Wie hierdie vraag vra, weet onfeilbaar dat twee dinge geestelik met hom verkeerd is. Enersyds ken hy die Here Jesus nie wesentlik nie en andersyds is sy motivering om Christen te wees verkeerd. Sy godsdiens draai om homself en die eie voordeel wat hy daaruit kan put, en nie om God se wil en verheerliking nie. Wanneer hierdie godsdiens dan lyding bring en nie eie voordeel lewer nie, is niks meer natuurlik nie as die vraag: ‘Is dit werklik die moeite werd om God te dien?”

‘n Gebrek aan vertroue

Hy wat sê dat godsdiens nie die moeite werd is nie, vertrou God nie! Toe Thomas begin twyfel of Christus werklik die Messias was, het ‘n geweldige tweestryd in sy binneste ontstaan. Deur die jare het hy die Meester liefgekry, maar nou het alles so in stryd met sy aansprake en idees van die Messias begin verloop. Hy is wel gewillig om uit liefde saam met Hom te sterwe, maar hy het vertroue verloor om met Hom te gaan lewe. Sy gesindheid het dus baie meer uit ‘n wanhoopsverhouding as uit ‘n besielde geloofsoortuiging voortgespruit. Kan u dink hoe ontsettend donker dit daardie dag op Golgota in Thomas se hart geword het? My Messias — daar sterf Hy!
Het ons nie hier ‘n tipiese weerspieëling van die smarte en duisternis in die gemoed van die twyfelaar nie? Solank dit goed en voor die wind gaan, het hy wel ‘n soort godsdiens. Eintlik is dit ‘n soort godsdiens wat hy nie nodig het nie en wat hy net as ‘n ekstra las met hom saamdra. Wanneer dit donker word en sy voete in krisissituasies onder hom uitgeslaan word, ontketen dit geweldige storms in sy gemoed. Dan word dit stikdonker. En natuurlik, hoe kan jy ‘n God in die nag vertrou wie se stem jy in die dag nie leer herken het nie? In sulke omstandighede roep hierdie naamchristen noodwendig uit: is dit die moeite werd om so ‘n Jesus te volg?”
Op die duur is so ‘n goedkoop godsdiens wat van jou niks geëis het nie ‘n bitter, durabele affêre! Hy dompel jou in ‘n ellende waaruit geen aardse mag, geneeskunde of geld jou kan uithaal nie. Jy beland saam met Thomas in die nag van vertwyfeling — hier is sterwe verkieslik bo die lewe!
Die twyfelaar sak uit op die lewensweg en vereer God nie. Thomas was wel verder gevorder as ons gewone twyfelaars, maar tog waarsku hy ons. Wat kan vertwyfeling die hart en die lewe nie verlam nie! Daardie eerste dag van die week — die opstandingsdag — was Thomas nie daar nie! So het hy die verrese Christus gemis! Kan u sien watter verlammende uitwerking twyfel op ‘n mens se lewe het? Waar die lewende kennis van God, die oortuigde sekerheid en die hartlike vertroue in Hom gemis word, kom geestelike verlamming voor en sak ons uit. Dan is ons gewoonlik nie meer aktief op ons pos in sy diens nie. Ons vereer Horn nie in daad en lojaliteit nie, want daarvoor is Hy vir ons te ver, vaag en onwerklik. Alles hang in so ‘n lewe slap — die persoon se Skrifkennis, sy gebed, sy kerkgang, sy getuienis en sy offergawes. Vanweë die onwerklikheid van God is al die dinge leeg, sinloos, kragteloos en nie die moeite werd nie.

Mense reageer verskillend

So ‘n innerlike gemoedstoestand is grootliks van ons eie reaksies afhanklik, omdat ons self besluit hoe ons op die aanbieding van Bybelse waarhede gaan reageer. Daar is baie mense wat aan presies dieselfde invloede, inligting, feite, omstandighede, blootgestel is, en tog totaal verskillend daardeur beinvloed word.
Neem hierdie geval as voorbeeld: u ontmoet heel toevallig ‘n persoon, u raak baie geinteresseerd in hom, u voel ook aangetrokke tot hom en soek doelbewustelik sy geselskap op. Die proses raak al meer sinvol namate daar ‘n groter inset van u kant af kom en u sodoende u eie begeerte en doel met die vriendskap bereik. Dit is presies wat op geestelike vlak gebeur. lemand kon byvoorbeeld lank onder godsdienstige invloede gewees het bloot net deur Bybel te lees, kerk toe te gaan en te bid, dog sonder om iets daarin te vind. Dan gebeur dit later dat hy al lesende in die Bybel God se stem aan hom persoonlik verneem. In sy gebed begin hy ‘n ongekende soeke en behoefte asof hy werklik iemand ontmoet het. So ook met die Nagmaal — heel ongewoon is dit of die brood vir hom die liggaam van Christus word en die wyn sy bloed. Dit is of hy die Meester aan hom persoonlik hoor sê: “Dit is my liggaam vir jou gebreek en my bloed vir jou uitgestort.” Dikwels gebeur dit alles in buitengewone, selfs krisisomstandighede, wat die mens laat vra en laat soek en hom sodoende ryp maak vir ‘n werklikheid buite homself.
So kan die basiese invloede en feite in mense se lewens dieselfde wees, maar totaal verskillend ervaar word. Sommige sal dit passief deurleef en as ‘n dooie, siellose roetine meemaak. Andere sal dit aktief beleef en dinamiese krag daaruit put, terwyl hulle self geheel en al daardeur verander en herskep word.

Wat is u antwoord?

Die twyfelaar vra: “Is dit die moeite werd om God te dien?” Die antwoord is: “Dit hang van jouself af wat jy daarmee en daarvan maak; ja, meer nog, wat jy in staat is om daarvan te maak.” Is u passief en afsydig, of laat u die Heilige Gees toe om aktiewe geloofsgehoorsaamheid in u hart te bewerk? Dink maar aan die menige uitsprake en die Skrif waarin u reaksie op die Woord ook in ‘n groot mate u uiteindelike belewenis daarvan bepaal: “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie” (Heb. 3:15). Christus self het dit so gestel: “Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man, wat sy huis op die rots gebou het . . . En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het” (Matt. 7:24—26). Dit is ook die slotsom van Paulus as ons hom sou vra of dit die moeite werd is om God te dien: “Werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Fil. 2:12—13). “Dit is die moeite werd om Christus te volg,” sê die apostel, “want wat my betref is die lewe Christus en die sterwe wins” (Fil. 1:21).
U vra of dit die moeite werd is om God te dien? Dit hang nie van God af nie, maar van uself, van die toestand van u eie hart en u geestelike vermoë om deel te hê aan die groot verlossing in Christus Jesus. Daar het u die verskil tussen mense — die een vind niks in die genademiddels van God nie; die ander raak God daarin aan en beleef dit as ‘n krag van God tot redding (Rom. 1:16).
Is u tevrede, dankbaar, bly en gerus met wat u in die diens van God vind, of moet die Meester in die laat stadium vir u, soos vir Thomas, sê: “Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig. Omdat jy My gesien het. Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het” (Joh. 20:27 en 29).
Gelukkig is dit selfs in ons dag nie nodig om te twyfel nie. Daar is vir ons bepaalde sin in hierdie dinge wat Thomas toe nog nie eens kon sien nie. In afwagting van die Heilige Gees het Christus
by sy vertrek aan die dissipels gesê: “Nog ‘n klein tydjie en die wêreld sien My nie meer nie: maar julle sien My, omdat Ek lewe
en julle sal lewe” (Joh. 14:19).

Onse Here en Meester, dat U aan Jerusalem gesê het: ‘Ek wou, maar julle wou nie’, skud nog telkens ons harte! U toon ons — soos in die geval van Thomas — watter groot verantwoordelikheid in u goddelike heilsplan op ons rus. Wek
dan deur u Woord en Gees baie gemoedere op — vir die eerste maal of by hernuwing — om U heelhartig te soek, te leer ken —ja, dieper te leer ken en uit die krag van u verlossing te lewe. Gebruik daartoe elke moontlike draer van u goddelike Woord, is ons gebed in Jesus Naam. Amen.