Is dit die moeite werd om God te dien? Deel1 Bevraagteken God ipv self

Hierdie reeks artikels is uittreksels uit radiopreke van oorlede Prof J.C.G. (Kolie) Kotze.  Ons hoop u vind dit insiggewend en geestelik verrykend.

VERAGTERDE GELOOF BEVRAAGTEKEN GOD IN PLAAS VAN HOMSELF

Ons hemelse Vader, dit is onmoontlik om U en u Christus te ken deur u Gees sonder om te vind dat dit juis die lewe is. Lei ons langs hierdie weg dan ook dieper in die weelde van daardie kennis van u goddelike genade in u beminde Seun, ons Heiland.

Mal. 2:17; 3:6; 3:13—18: Ps. 73.

Wat kan die lewe tog die geloof — selfs egte geloof — dikwels in ons binneste skud! Die profeet Maleagi kon hiervan getuig. Hy het onder die teruggekeerde Jode uit Babel gearbei. Dit was ‘n ge-ruime tyd na die terugkeer — trouens, die tempel was reeds voltooi en die tempeldiens herstel. Die profeet bestraf juis sy volk ten opsigte van die tempeldiens. Die ywer wat in die begin bestaan het, was reeds aan die afneem en die eens gloeiende entoesiasme vir die herbou van Jerusalem het verflou. Geestelike afval het ingetree. Gemengde huwelike met heidense vroue was algemeen (Mal. 2:11) en die tiendes vir die skathuis het opgedroog (Mal. 3:8—10).Die uitwendige omstandighede was ook benard. Nie alleen was daar allerlei misoeste en plae nie (3:10), maar die minder gegoedes is gewetenloos deur die rykes onderdruk en uitgebuit (3:5). In die algemeen was die gemoedstoestand van die teruggekeerdes donker en bedruk. Daar was ‘n toenemende gevaar dat Sion nie geestelik herstel sou word nie, veral vanweë die lamlendige toestand van die priesters (1:6—14). Dat dit alles die geloof van ware vromes geweldig getoets en beproef het, kan ons goed verstaan. Hulle het tog teruggekom in die geloof dat Jehova weer sy volk — en so ook Jerusalem — na 70 jaar van loutering gaan herstel. En nou sulke toestande! Hoe moes hulle dit verklaar? Dit kan tog nie
met hulle geloof in Jehova gerym word nie! Kan dit moontlik so deur God beskik wees? Die profeet hoor die vromes saam spreek: “Toe het die wat die Here vrees. met mekaar gespreek … en gesê: Dit is tevergeefs om God te dien, en wat baat dit ons om sy verordeninge te onderhou en in rouklere voor die aangesig van die Here van die leërskare te wandel?” (Mal. 2:17 en 3:16.)

Dit is ook die vertwyfelde klag van ‘n Asaf in Psalm 73. Luister na sy verhewe geloofsoortuiging van sy God: “Waarlik, God is goed vir Israel, vir die wat rein van hart is”. As iemand so ‘n verhewe geloofsoortuiging van God het en die lewe strook dan nie met sy geloof nie, ontstaan daar ‘n geweldige vertwyfeling! Dit kan geestelik baie donker word. So was dit die geval met Asaf: “Maar wat my aangaan, my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly” (Ps. 73:2—4). Hierna noem hy die welvaart, selfverheffing en kommervrye lewe van die goddeloses (Ps. 73:2— 12). Hy kom dan tot die bittere slotsom: “Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas. Die hele dag tog is ek geslaan en my tugtiging was daar elke môre” (Ps. 73:13—14).

Dit is hierdie geloofskrisis wat ons ook by die teruggekeerde gelowiges uit Babel vind (Mal. 2.17 en 3:13—18). Die probleem was tweërlei: Die een kant van die saak was dat dit niks baat om God te dien nie — al die selfvernedering, verootmoediging en oorgawe aan sy diens bring niks nie. Aan die ander kant was daar die pynlike gedagte dat die oormoediges en goddeloses mag het en voorspoed ondervind (Mal. 3:15). Hoewel hulle God versaak en op die proef gestel het, was daar vir hulle geen oordeel of straf nie. Waarlik, dit is nie die moeite werd om God te dien nie!

Hier was mense wat ‘n ontsaglike probleem met hulle God gehad het. Die geloofsoortuiging wat hulle oor God gehad het, het nie gestrook met die ellende en die sonde van hulle situasie nie! Hulle het werklik in God geglo maar nie sy teenwoordigheid beleef nie. Hulle kon nie sy hand in eie lewe en in die van die volk gewaar nie. Dit het voorgekom asof Hy of afwesig was of nie omgee nie. Die vraag het ontstaan of dit die moeite werd was om God te dien? Die werklikheid van die lewe het die fondamente onder hulle geskud. Hier het nou gebeur wat ons Meester later so duidelik oor die onvermydelike toetsinge van die geloof uitgespel het. Die verskil tussen skyn- en egte geloof het Hy so gestel: “Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots
gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aan gestorm, en dit het nie geval nie, want sv fondamente was op die rots. En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. En die reen het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot” (Matt. 7:2-4—27).

Groot afvalligheid

Wat ‘n moderne weergawe van ons eie tyd! Die toenemende klimaat van ongeloof en afval is helaas in baie gevalle selfs in die kerk! Ons wêreld is so gevul met moord, doodslag, geweld, leuen, onreg, vervolging, vervalsing, dwaling en afval. Dit laat die gelowige uitroep: “Waar is God? Gaan al hierdie dinge Hom nie aan nie?” So het ongeloof in die jongste tyd gespreek van God is dood! Ons Heiland teken self die stryd van sy Kerk in die gestalte van die weduwee teenoor die onregverdige regter: “As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Luk. 18:8).

Toestande vandag laat die gelowige nog eens die vraag van die tyd van Maleagi uitroep: “Is dit die moeite werd om God te dien?” Dit is wel moontlik om in God te glo,. maar nogtans nie sy krag en teenwoordigheid te belewe nie. Alles kan vormlik en dood voel. Nog meer — dit kan gebeur dat dinge totaal anders verloop as wat ons gedink en beplan het. Die spanning tussen ons begrip van die geloof en werklike toestande kan so intens word dat dit ons geloofsoortuigings ernstig bevraagteken. ‘n Geliefde kneg van die Here het in die duisternis van vertwyfeling aan my gesê: “Al God se beloftes het vir my ingestort.” Wat ‘n nuwe daeraad toe hy ontdek het dat nie Gods beloftes nie, maar sy eie uitleg daarvan ingestort het. Wanneer toestande die gelowige dwing, nie slegs tot meer erns met die lewe nie maar om ook weer opnuut van eie geloof en geloofsoortuiging rekenskap te gee, dan kan die haglikste situasie in ‘n verrykende ervaring omskep word.

Dit is ook waar van ons individuele lewe. So dikwels kom die Christen in situasies wat hom laat uitroep: “Is dit die moeite werd om God te dien?” Dink aan die gelowige wat deur een of ander ramp of krankheid gctref is, en dit lyk of hy tevergeefs bid; die ouers met hulle geroep tot God vir hulle kinders, en dit lyk alles tevergeefs; die vrou wat voor die Here ween vir haar afvallige en verslaafde man, en alles lyk tevergeefs! Is dit nie in sulke omstandighede waar nie, dat die beproefde geloof ‘n versoeking is om saam met Asaf en die verslae Jode van Maleagi se tyd uit te roep: “Is dit die moeite werd om God te dien?” Maak Hy sy beloftes nog waar? Is Hy in staat om te verlos en geregtigheid uit te oefen? Kan ons op Horn vertrou? Ook is daar die geval van die gelowige wat wel glo en godsdiens beoefen, maar alles voel vormlik, sielloos en dood. In sulke toestande is ons geneig om God te bevraagteken in plaas van onsself. Laat ons nie vergeet dat die beste voorskrif van ‘n geneesheer niks baat solank dit nog nie uitgevoer is nie. Die bruisende rivierwater kan die dor velde langs die oewers nie in ‘n vrugbare, groen landskap omtower as die water nie daar gebring word nie. Die oorvloedige en algenoegsame genade van God in Christus Jesus kan my nie red tensy dit deel van my lewe word nie. Om dit te kan verkry, is daar sekere geestelike wette waaraan voldoen moet word.

Die onsienlike werklikheid

Het u al in die Skrif gemerk wie die mense is wat met beklemde harte hierdie twyfelvrae stel? Is dit gelowiges of ongelowiges? Die verbysterende feit hieromtrent blyk uit Asaf se beskrywing van die goddelose: “Daar is geen kwellings by hulle nie, gesond en vet is
hulle liggaam. In die moeite van sterwelinge is hulle nie, en saam met ander mense word hulle nie geplaag nie” (Ps. 73:4—5). Hierdie mense ken geen onsienlike werklikheid nie. Selfs die gedagte aan God het vervaag en verval en hulle het Hom nie eens as hipotese vir hulle lewe nodig nie. Met ‘n God wat so vaag en onwerklik is, het ‘n mens dan ook geen probleme nie. Dit was juis die onderskeid tussen Job en sy vriende. Terwyl Job se lewende geloof in God, wat hy nooit vir ‘n oomblik verloor het nie, hom geweldige probleme in sy verhouding met God besorg het kon sy vriende genoeglik en sonder enige probleem oor God redeneer. Hy was vir hulle te vaag en teoreties om enige probleem in die konkrete lewe te kon veroorsaak. Job, daarenteen. het God as so ‘n lewenswerklikheid geken dat die lewe sonder God vir hom ondenkbaar was. Terwyl hy dus nie die gebeure van sy lewe met God kon rym nie — en hoe sou hy ook met Satan daaragter? — het hy ernstig om die sin van die lewe geroep. God het vir hom, soos vir Asaf en die tydgenote van Maleagi, ‘n ontsaglike probleem geword. Hy kon ook uitroep: “Is dit die moeite werd om God te dien? Kyk na my skades, eensaamheid, smarte en wonde! Gaan dit God nie aan
nie? Staan Hy afsydig of onmagtig hierteenoor … of wil God dit so hê in my lewe?”

Let op ‘n Paulus wat nie maar sito-sito kon berus in die doring in sy vlees nie. Met hierdie probleem was hy algeheel op God gerig, en ondanks die heerlike Christus wat hy gedien en vertrou het, het die duiwel horn met verwyte soos met vuishoue aangeval: “Waar is nou jou Christus? Waarom genees Hy jou nie?” Dit is dieselfde uittarting as wat die Heiland aan die kruis moes verduur:- “Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou verlos as Hy behae in Hom het” (Matt. 27:43).

Wat ek hier wil sê is dat dit die gelowige is wat soms in ‘n situasie of gemoedstoestand beland waarin die lewe sy geloof in God diep skud. Die rede hiervoor is dat die ware gelowige nie vir homself die lewe sonder God kan indink nie. Wanneer dit dan lyk of God nie daar is nie, of dat Hy dinge toelaat wat nie mag nie en na ons mening nie met sy liefde, almag en geregtigheid strook nie, dan ontstaan daar geloofsprobleme. Inteendeel, dit sou ‘n baie onvolwasse geloof wees wat in sulke tye nie verantwoording van homself gee nie.

Dit is presies wat die tydgenote van Maleagi beleef het. Ons lees dan ook dat gelowiges hieroor gepeins en met mekaar gepraat het (Mal. 3:16). Dit is asof hulle na mekaar gekyk het met die vraag: “Waar is onse God?” Juis omdat hulle geglo het dat God is, was dit so ‘n probleem om hulle kragtelose lewe en moeilike omstandighede met Hom in verband te bring.

‘n Lewe sonder God

Wat is in teenstelling hiermee die kenmerke van die mens wat los kan lewe in die wêreld en in sonde, sonder dat hy enige probleem met God het? Die antwoord is tog baie duidelik. Let maar net op hoe die Here Jesus die reaksie en leefwyse van die ryk dwaas skilder: al wat hy geken, erken en voor geleef het, was genoeg ruimte vir sy skatte. Vir homself het hy gesê: “Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik” (Luk. 12:19). God was vir hierdie man geen probleem nie. Oor sy lippe sou daar nie — en kon daar ook nie — die vraag kom nie: “Is dit die moeite werd om God te dien?” God het vir hom nie bestaan nie en was geen faktor in sy lewe nie! Vir hom was daar niks meer om mee te reken as net sy plase, beeste. skape, mielies, pampoene of bankrekeninge nie. Dit was al. Daar het sy lewensgrense afgesluit. Vir hom was die lewe hier deur die stoflike en tydelike dinge begrens, sonder enige verdere dimensie. Hy het van geen geestelike en onsienlike werklikheid geweet nie — of, om dit meer korrek te stel, hy wou niks daarvan weet nie.

Wat ‘n weergawe van die gees van ons ongeloof en materialisme in ons eie tyd: die miljoene wat met God geen probleem meer het nie! Dit is ‘n uitgediende legende van die primitiewe mens en is in ons tegniese ruimte-eeu nie meer ter sake nie. Ja. volgens hulle is daar ontsettend baie probleme in ons dag, maar God is nie een van hulle nie!

Gee aan uself rekenskap

U wat nog die vraag as gelowige vra, wil ek byna gelukwens. Tog – krap daar nie iets in u as u die vraag in u binneste wegsteek nie?
Onthul so ‘n vraag nie iets van die toestand van die geloof in ons harte nie? Sekerlik kwel dit ons dat dit voel of God afwesig of afsydig kan wees. Miskien voel ons dit aan in die lewe van ons volk, ons kerk, ja, ook in ons eie lewe. Dit is of ons God se kragtige en beheersende teenwoordigheid daar mis! Voel ons hierdie gebrek nog so skerp aan dat dit soos vir Asaf en die tvdgenote van Maleagi ons kwel en ons lewe tot stilstand en verantwoording roep? Hulle kon nie daarin berus nie. Ons lees dat hulle daaroor saam gepraat het (Mal. 3:16): “Wat gaan hier aan?” Hulle het daaroor probeer rekenskap gee: hulle het ‘n antwoord op die pynlike vraag probeer vind: “Is dit die moeite werd om God te dien? Het onse God ons vergeet? Het Hy verander?” Dit is onmoontlik om met so ‘n toestand eerlik te wees sonder om van God die antwoord te kry, en wat ‘n antwoord het hulle tog nie gekry nie! Gelukkig dat daar iemand soos die profeet Maleagi was, deur wie God sy antwoord so direk aan sy verslae volk kon uitspreek.

God het nie verander nie

“Is dit die moeite werd om My te dien?” God kon die vraag net sowel omkeer: “Is dit die moeite werd om met sulke gelowiges. met so ‘n volk. aan te gaan?” Luister aandagtig na God se antwoord. Hy spreek daarin ook met u en my in ‘n tyd soos hierdie. En wat was daardie antwoord?

“Ek, die Here, het nie verander nie” (Mal. 3:6). “As Ek verander het, was julle lankal verteer! Ek sou Israel totaal verwerp het. Nee, my plan met Israel sal volbring word, al is dit dan ook met slegs die oorblyfsel. Julle is van julle voorgeslagte af ‘n hard-nekkige volk, daarom het soveel in die woestyn gesterf — daarom het Ek julle ook 70 jaar lank in Babel gelouter en gesif.”

Sê die goddelike antwoord hier vir ons niks nie? Het u allerlei vrae in u hart teenoor God? Kyk dan na uself! Die onderbreking en vervreemding kan nie aan die onveranderlike God toegeskryf word nie. Wees gewaarsku — veragterde geloof bevraagteken God in plaas van homself. Israel het niemand minder gehad nie as Jehova, die lewende God van die heelal. Al sy liefde, wysheid, almag en trou was tot hulle beskikking. Dat hulle in soveel ellende beland het, was nooit sy skuld nie. Dit het by hulle aan geloof en gehoorsaamheid ontbreek om uit daardie skatte te leef.

“Julle praters,” so lui God se antwoord verder: “kyk na julle eie lewe! Kyk na julle priesters met hulle traagheid en onrein offers op my altare! Kyk na julle gemengde huwelike met heidense, afgodiese vroue en julle verwilderde jeug — vreemdelinge by die God van julle vaders. Kyk na julle leë skatkis, omdat julle My van my tiendes berowe. Kyk na julle sogenaamde rouklere terwyl julle harte en lewens onberoulik is en ver van My af voortgaan. Wie het hierdie toestand bewerk — julle of Ek? Ek is nie afwesig nie. Inteendeel, ek wag op julle.

“Meer nog — Ek staan nie buite julle lewe nie — alles is voor My aangeteken (Mal. 3:16). Julle is nog my volk. Ek is met julle onderweg na my einddoel vir Israel, maar julle dwing My, ondanks die skoling van 70 jaar in Babel, om nog eens die roede te gebruik om my doel met julle te bereik. Julie vra of dit die moeite werd is om My te dien? Is dit nie andersom nie — is dit die moeite werd om met so ‘n volk voort te gaan?”

Keer terug!

Ons weet uit die geskiedenis dat die Here die volk wou uitdelg en vir Hom ‘n nuwe volk berei (Num. 14:11—12). Dit was loutere genade dat Hy sy Messiaanse doel nog deur hulle uitgewerk het. Ag, laat ons tog nie vergeet nie: ook in ons Christelike bedeling kan so iets gebeur. Die bevoorregte mens kan daar beland waarvan gesê is: “Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wereld, en afvallig geword het — om die weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak” (Heb. 6:4—6).

Om hierdie rede sê die Here: “Keer terug na My — bekeer
julle! Stuur weg die heidense vroue, bring julle tiendes na die skat-huis, herstel julle afvalligheid as priesters en julle sal vind dat Ek nog altyd daar is! Ek wag vir julle, nie julle op My nie! Keer die vraag om. Moet My nie bevraagteken nie — bevraagteken julleself! Draai die vraag om: ‘Is dit die moeite werd dat God met mense soos ons sal aangaan? Is dit die moeite werd dat God met my sal voortgaan?’ ”

“Onthou net dat die lewe nie by die graf eindig nie. Daar is ‘n dag van die Here aan die kom. Die Messias sal kom om verlossing te bewerk. Alles sal uitloop op die groot dag van voltooiing van my heilsplan — daar sal oordeel wees vir die goddelose en verheerliking vir my volk! Dan sal die ganse aarde weet: Daar is onderskeid tussen die wat God dien en die wat Horn nie dien nie” (Mal. 3:18).

Merk u die waarheid — veragterde geloof bevraagteken graag God in plaas van homself. So het ook Asaf dit ontdek: hierdie vraag “was moeite in my oë, totdat ek in die heiligdomme van God ingegaan en op hulle einde gelet het” (Ps. 73:16—17).

Kom, vriende — wat die lewe ook al mag lewer — gaan met Asaf in die heiligdom by God. Word stil en luister daar. Gewis gaan ook u vraag daar omgekeer word: “Is dit die moeite werd om met my lewe aan te gaan sonder God?”

Ag, Here, onse God en Vader, om troos vind ons daarin dat ons Heiland, u Seun, ons in alles gelyk geword het, uitgesonderd die sonde. U verstaan ons stryd en vertwyfeling. Ons bid vandag om ‘n lewe so oortuig en so aan U oorgegee dat andere daardeur tot geloof en lewe beweeg sal word. Waar ons ‘n tyd belewe wat so vervreem is van U, onse God, daar bid ons om ‘n nuwe, kragtige lading van u goddelike Gees wat aan u Woord, u sakramente, u volk ‘n krag sal verleen wat alles eenvoudig sal meevoer, omdat U self langs hierdie weë opnuut tot ons gekom het. Laat ons U bv hernuwing beleef, al moet U ons so hard aanspreek as wat U u volk in die verlede aangespreek het. Dit was hulle redding — dit sal ook ons redding en ons rus wees. Ewig sy u Naam geprys. Amen.

Uittreksel uit “Is dit die moeite werd om God te dien? deur Prof J.C.G. Kotze