Nico vd Walt het oorgegaan tot die Ewige lewe met Christus op 2 Julie 2024 op 79 jarige ouderdom.
Nico en Martin Holdt was goeie vriende en het dikwels saam die Woord bedien op verskillende platforms. Beide was gereformeerd en het die 1689 Baptiste Belydenis van Geloof onderskryf en beide het gestaan by die Vyf Solas van die Reformaseie en soos Paulus het hulle hul “voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.” (1 Kor 2:2)
Nico was saam met ander ook een van die stigterslede van die Sola 5 beweging wat enersdenkende hoofsaaklik uit Gereformeerde Baptiste kringe saamgesnoer het uit Namibia, Suid Afrika, Zambia, Zimbabwe, Malawi, Mozambique, Swaziland en Botswana.
Hy het twee Gereformeerde Baptiste gemeentes geplant een in die Vaaldriehoek en die Antipas Gemeente in Pretoria. Hy was ook instrumenteel tot die planting van ‘n gemeente in Citrusdal in die Kaap
Waarvoor hy gelewe en wat vir hom sentraal was kan die beste deur homself weergegee word en ek haal aan uit wat hy geskryf het op sy webblad https://imagodei.co.za/oor-ons/bekendstelling
Ek glo dat ‘n deel van die kerk wat tot ‘n mindere of meerdere mate identifiseer met die Reformasie van die sestiende eeu, grootliks koers verloor het en in sekere gevalle selfs reddende geloof versaak het — ook hier in ons land. Groot getalle lidmate en selfs predikante sit in hierdie kerke sonder om hulle ooit te verantwoord oor wat hulle regtig en ononderhandelbaar glo. …. Dis vandag nodiger as ooit om jou “geloofseendjies in ‘n ry te hê”; om dus te weet wat jy werklik glo en waarom jy dit glo en hoe belangrik dit is. Ernstige en diepsinnige geloofsvrae móét eenvoudig gevra word.
Bowenal moet jy jouself biddend en met ‘n oop Bybel voor jou afvra of jy werklik, ek bedoel wérklik verenig is met Christus! Jy durf jouself nie bloot verlaat op die soetsappige en mensgesentreerde susprediking van só baie kansels nie.
Ek is in Middelburg Kaap gebore, maar word van agtjarige ouderdom af wonderlik gelukkig groot in die Noordoos-Kaapse dorp, Aliwal-Noord. Daar matrikuleer ek aan die plaaslike hoërskool. Na militêre diens studeer ek aan die Universiteit van Stellenbosch waar ek as Siviele Ingenieur kwalifiseer. Daarna is ek betrokke by etlike groot waterprojekte (onder meer die Bolandprojek, die Oranjerivierprojek en die Kuneneprojek).
Op agt-en-twintig kom ek tot lewensveranderende en Christusgesentreerde bekering en niks was ooit weer dieselfde nie. Mettertyd voltooi ek my teologiese studie aan die PU vir CHO. Tydens my studies was ek ook vir vier-en-‘n-half jaar dosent in ingenieurswese aan die universiteit.
Sedert 1983 is ek voltyds besig met pastorale en lerende evangeliebediening — dus met gemeentewerk. Na jare in die Vaaldriehoek was ek vir tien jaar predikant van die Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente in Pretoria.
Ook was ek vir meer as ‘n dekade ‘n dosent by die Lynnwoodrif Bybelskool in Pretoria.
Ek is getroud met Soniah du Toit, ‘n universiteitsliefde, wat op ‘n besproeiingsplaas naby Hartswater in die Noord-Kaap groot geword het. Ons het vier volwasse dogters, twee wonderlike skoonseuns, en sewe kleinkinders (‘n dogter, haar man en gesin bly permanent in die VSA).”
Hy skryf die volgende oor sy laaste skof in Randburg:
“Ek bring elke week baie ure agter my rekenaar deur in ‘n poging om dekades se preke, seminare, bybelskoollesings en ander skryfwerk ordentlik en netjies op skrif te kry met die oog op publikasie (hierdie webwerf is deel daarvan). Dis ‘n enorme taak.
Ek het geen akademiese aspirasies as sodanig nie. My roeping is om Bybelwaarheid — as ‘n reël dalk ietwat meer gespierd as wat in meeste kerke gepreek word — op ‘n bevatlike wyse vir dinkende Christene deur te gee (eintlik behoort daar nie so iets soos ‘n nie-dinkende Christen te wees nie — daar is eenvoudig té veel op die spel!).
Aan aftree dink ek nie. Ek het destyds enkelhartig aangetree, en ek hoop ek sal eendag al werkende optree.
Wonderlike genade, maar nie ‘n sondagskoolpiekniek nie
Bogemelde is nie ál wat waar is van my lewe nie. Dis ook nie die belangrikste nie.So deel van my soos my skaduwee is God se genade in Christus wat ek al vir baie jare beleef — vanaf die eerste dag van my redding (natuurlik ook al voor die tyd).
My geloofspad tot hier was en is steeds nie ‘n vrolike trippelgang deur plate lenteblommetjies nie. Ja, my navolging van die Here Jesus — uiteraard loop ek en Soniah tree vir tree saam — was en is ‘n heerlike voorreg. Maar soos met alle avonture is daar nie net opwinding nie; daar is ook, presies soos Jesus gesê het, ‘n kruis om te dra.
My pad is bergpad!
Daar is die ekstase van asemrowende uitsigte, weer en weer. En daar is afdraendes (pynlik moes ek leer, méér gevaarlik as die opdraendes). Maar dikwels is die nóú paadjie maar erg steil. Mens is immers op pad na die kruin toe.
Opdraendes? Meedoënloos is my worstelinge met sonde. Laat ander maar oor hulleself praat, maar ék moet op drie fronte baklei: die suigkragte van ‘n gevalle wêreld, die vurige pyle van die duiwel, en ergste van alles die afgronde van my vlees. Oorblywende sonde is vir my nie bloot ‘n akademiese konsep nie. Waarlik, ek verstaan Luther se gesegde aan eie lyf: simul iustus et peccator (terselfdertyd regverdig en sondaar).
Die pad boontoe — onderweg na gelykvormigheid aan die beeld van Christus — vra sy pond vleis!
Kortom, die gebrokenheid van my dissipelskap hier en nou laat my male sonder tal kreun voor my hemelse Vader, die driemaal heilige. Ek verloor té veel rondtes, máár as die laaste ghong lui, gaan my hand vir seker gelig word!
Verreweg die mees belangrike en fundamentele van my bestaan is dat ek 47 jaar gelede (as ek hier skryf) in Jesus Christus ingevlug het en steeds vir lewe en dood in Hom bly skuil. God se evangeliebeloftes in Hom as Groot Profeet het ek vir myself toegeëien; ek het myself aan Hom as Groot Hoëpriester toevertrou; ek het myself ongekwalifiseerd aan Hom as Groot Koning toegewy. Al beleef ek dus nog té veel stamelings, strompelings en struikelings, is en bly ek op die vóórvoet.
Dit weet ek sonder ‘n sweem van twyfel: die godsvrug wat daar ook al in my lewe mag wees, is te danke aan die feit dat God in my werk om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae (Fil 2:12-13).
Die wenlint wag!
Vir my persoonlik kan ek die volgende oor hom sê:
Ek het in 2002 in Suid Afrika aangekom uit Swaziland en het dadelik aanklank gevind in die Godgesentreerde en Christus gefokusde prediking van Nico. Hy het die bybelse waarhede vir my logies verstaanbaar en lewend duidelik gemaak en die Here het dit gebruik om my en my vrou se fondasies in die Woord van God stewig te vestig. Al sy preke is nou in mp3 formaat beskikbaar op hierdie webwerf onder PREKE
Hy was instrumenteel tot die vestiging van ‘n boektafel in Antipas. Hy het dan ook gereeld een of meer boeke vanaf die kansel geadverteer. Op die manier het hy my bekend gestel aan boeke soos die “Sovereignity of God” en “The attributes of God” deur AW Pink wat ‘n onuitwisbare verstaan van wie God is, by my tuisgebring het.
Hy het my ook bekend gestel aan skrywers soos JC Ryle en Martin Lloyd Jones. Dit het my aangespoor om soveel as moontlik te lees wat JC Ryle geskryf het en watter skatkis van waarheid en aansporing op my geloofspad was en is dit nie !
Ek dink nou nog dat JC Ryle se boek “Holiness” een van die beste boeke is wat ek en my vrou nog ooit gelees het. 
Ek het die twee volume lewensverhaal van Martin Lloyd Jones deur Ian Murray aangeskaf en watter belewenis en aansporing was die lees daarvan nie !

In Nico se gemeente plant in Pretoria nl. Antipas het ‘n groep van ons in Montana omgewing in n weeklikse bybelstudie gewerk deur Martin Lloyd Jones se boek “Studies in The Sermon on the Mount” en ons het almal geweldig baie daarby gebaat !
Ek en my vrou het toe MLJ se preke begin luister oor “Spiritual Depression en is tans besig met sy uitleg preke van die Efese sendbrief van Paulus. Ons leer so baie van ons eie sondige aard en die wonderlike genade aan ons bewys deur Jesus Christus en wat ons alles in Hom ontvang het. Wat n belewenis !



Nico was instrumenteel om in sy tyd as leraar van Antipas ‘n uitgebreide boeke en literatuur bediening in Antipas te vestig en honderde preke van Spurgeon en ander outeurs is in die gemeente gedruk en wyd en syd versprei. Ek en my vrou deel nou nog daarvan uit op straat. Nico het ook sy Epreke en Heroute laat druk (beskikbaar op hierdie webwerf) en die is ook op n gereelde basis landswyd gepos aan honderde mense op ‘n adreslys.
Sy skryfwerk is steeds hier beskikbaar https://imagodei.co.za/
Al verskil ek oor sy ou skepping siening sal ek vir Nico altyd onthou vir die wyse waarop die Here hom in ons en baie ander se geloofslewe gebruik het om ons aan Christus vas te maak. Ons gun hom om nou met Christus in heerlikheid te wees.

