Die man se verantwoordelikheid in die huwelik – Deel 2

Skrywer: Nico van der Walt
Hier vervolg die transkripsie van die preek, gelewer deur Nico van der Walt, rakende

“Die verantwoordelikheid van die man in die huwelik.” Deel 2.
Kom ons praat bietjie oor die dade:

Dit is interessant dat die apostel Paulus vir ons ‘n klompie riglyne gee as ons versigtig deur die teks lees. Kom ons praat eers oor die wat van die liefde. Kyk na Ef. 5. Julle sal sien waarmee ek nou gaan werk. Ek gaan die Ou Vertaling lees want dit is meer letterlik, vers 25 tot 27 “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die Woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees”. Hier is 5 werkwoorde wat baie belangrik is. Liefgehad, oorgegee, om te heilig, om te gereinig het en voor Hom te stel.

In die eerste instansie.

Die woord om te heilig.. Die Nuwe Vertaling praat van om die kerk aan God te wy. Dit is wat Christus gedoen het, maar dan gaan hy voort om te sê dat die mans moet presies so doen met hulle vrouens. Om te heilig, dit is iets meer geestelik van aard. Dit beteken om ‘af te sonder’, of ‘eenkant neer te sit’. Kom ek gaan net ‘n tree of twee terug voor ek aangaan met die werkwoorde. Eers sê vers 25 en 26b: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het, (26b) … en gereinig het…” En dan sê vers 26a “om dit te heilig”. Dis ‘n doelsin, m.a.w. hy het lief, hy gee oor. Hy reinig met die doel om te heilig. Wat is die doel van heilig; om die gemeente te verheerlik. So in die eerste instansie, liefhê, oorgee, reinig, met die doel om te heilig en Hy heilig met die doel om te verheerlik. Wat die apostel Paulus hier sê is dat die somtotaal van die Here Jesus se bediening, natuurlik in die eerste instansie om God, Sy Vader te verheerlik, maar dan wat sy direkte gerigtheid betref, is in die belang van die gemeente. In die gemeente wil Hy Sy Vader verheerlik. Daarom konsentreer Hy op die gemeente.

Ons leef in ‘n wêreld waarin daar geweldig baie individualisme is en losloper Christene en elkeen dink dat hy die Here in sy hoekie, in sy studeerkamer kan dien. Dis al wat saak maak. Ek wil vir u sê, Nuwe Testamenties, nee. Die Here stel ‘n geweldige premie daarop dat ons Hom in groepsverband of in gemeenteverband sal dien volgens die Nuwe Testament. Daar is geen twyfel daaroor nie. Hy het sy redes daarvoor. Tot die mate wat jy insig ontwikkel in die Nuwe Testament tot daardie mate sien jy dit al hoe meer. Jesus Christus se hele bediening is gerig op die gemeente. Kyk maar net na al die “mekaar”-tekste.
Presies net so, moet die man ingestel wees teenoor sy vrou. Hy is die herder en die priester van die vrou in die besonder. Vir die herder gaan dit tog oor die welsyn van die kudde, is dit nie so nie? Jesus Christus is ons groot Opperherder en vir Hom gaan dit oor die welstand van die gemeente. Net so die man ten opsigte van die vrou. Dis om te heilig. Dis om hierdie vrou, en Christus die gemeente, eenkant neer te sit vir spesiale aandag, vir eksklusiewe aandag. Jou hele gerigtheid is op haar. Dis die hele gedagte.

Kom ons gaan na die tweede begrip toe. Christus voed of versorg die gemeente. Dit kry ons in vers 29. Die Ou Vertaling sê: ”want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit net soos die Here die gemeente”. Die Here koester en voed die gemeente. Die toepassing, net so moet die man die vrou voed, net so moet die man die vrou koester.

As ons praat van voed, dan gaan dit oor die materiële. Hy moet alles voorsien wat nodig is. Let op, nie alles wat sy wil hê nie. Ons kan nie daarvan wegkom nie, dat hy die broodwinner is, volgens die Skrif. Dit is God se ordes. Daarmee wil ek nie sê dat vrouens nie mag werk nie.Hier is meer van julle vroue wat julle profesies, julle werk opgegee het ter wille van julle mans, ter wille van julle huise, ter wille van julle kinders. Ek meen almal van julle sal opstaan en getuig van die seën wat dit gebring het in julle lewens. Hier is van julle wat hoogs gekwalifiseerd is en wat duisende rande in ‘n maand kon verdien het, wat dit ter wille van julle mans, huise en kinders opgeoffer het. Die Here sal julle eer en seën daarvoor.

Let op, die vrouens wat werk en ek weet hier is vrouens wat moet werk, moenie verwerp voel nie. Moenie voel, dit kan nie, dit durf nie, julle is buite God se ordes. Nee, elkeen van ons het sy eie stel omstandighede en ons leef in ‘n gebroke wereld, maar as dit enigsins moontlik is en geseënd is die getroude vrouens wat in ‘n posisie is om op te hou werk. Dan sal jy nooit spyt wees as jy in God se ordes ingekom het wat dit betref nie. Dit is primêr die man se verantwoordlikheid om die vrou en die kinders te versorg en om te werk. Hy is die broodwinner. In die sweet van sy aangesig, het die Here gesê. Weereens weet ek dat hier van julle is wat vir lang tye werkloos was. Maar ek voel baie sterk hieroor.

Miskien kan ek julle ‘n ervaring van my en Soniah vertel.
Ek was 30 jaar oud. Ons trek as gesin na Potchefstroom toe. Ek gaan teologie studeer. Die gedagtes was dat my vrou, Soniah, wat ‘n opgeleide maatskaplike werkster is, ‘n werk sal kry om ons te help versorg. Ek sal klasloop en studeer. Ek was ongemaklik daarmee, maar ek het gedink, wel, dis die enigste manier om deur te kom. Sy kry toe ‘n werk waarvoor sy nie gekwalifiseerd was nie en ons beleef dit as wonderlike gebedsverhoring van die Here, dis Hy wat haar die werk laat kry. In die staatsdiens, dis die Here wat voorsien. Die twee oudstes kinders gaan bewaarskool toe, die twee jongstes was toe nog nie gebore nie. Elke oggend as Soniah daar wegry, dan skreeu die kinders bloumoord. Hulle wil nie bewaarskool toe gaan nie. Ek sien ons kinders gaan agteruit. My vrou gaan ten gronde, want sy werk en vanaand moet sy stryk en kosmaak en skottelgoed was. Ek was tot op daardie stadium in die konstruksiewêreld. Ek was op daardie stadium besig met BA-studies en BA het meer oop periodes as gevulde periodes. Ek leer Hebreërs en Grieks en Latyn en filosofie en ek leer amo, amas, amat, amanos, aman…. Na ‘n maand sê ek vir myself een oggend, toe ek hulle weer so hoor huil “Vandag gaan ek nie klas toe nie, vandag maak ek dit uit met die Here.” Ek sê toe vir ons hemelse Vader : “As U nie uitkoms gee nie, ek kan nie toelaat dat my kinders ten gronde gaan nie. Ek kan nie buite U ordes lewe nie. Ek het seker vir 3 uur lank gebid, geworstel en gewroeg. Eindelik het ek vrede gekry. Teen 13:00, sien ek, hier ry die kar in. Soniah kom in by die agterdeur en sy sê vir my “Raai wat, ek is afgedank. Sy was afgedank, omdat Hoofkantoor vir haar superintendent gesê het, sy is nie gekwalifiseerd vir die werk nie, jy moet haar laat gaan. Soniah het nie weer gaan werk nie. Hy het voorsien.

Wat ‘n vreugde was dit nie vir my, die jare wat gevolg het, dat Soniah by die huis kon gewees het, dat sy die kinders kon grootmaak en na ons kon omsien en die Here het ons wonderlik versorg. Na twee en half jaar het die universiteit my gevra of ek wil klas gee in ingenieurswese en vir die volgende vier en ‘n half jaar, het ons Hemelse Vader ons dus deur die Registrateur se kantoor versorg. Sien dus hierdeur dat die man is die hoof van die huis. Ek wil julle net aanmoedig, vir dié van julle wat met dit worstel, moenie te lank huiwer om die Here vertrou nie. Ek sê dit sonder om enigsins ‘n las te plaas op vrouens wat werk. Jy moet dit uitmaak en julle moet dit uitwerk, die vrou en haar man. Elkeen van ons het sy omstandighede, maar broodwinning is primêr die mans se verantwoordelikheid.

1 Tim 5:8 “As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy huisgesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as ‘n ongelowige”. Hier is van ons wat ons werk verloor het. Ek self was vir 6 maande werkloos. ‘n Lui man is slegter as ‘n ongelowige. Hy het die geloof verloën, word van hom gesê. Ek praat nie van ’n man wat medies ongeskik is nie, ek praat nie van ’n man wat te oud is om te werk nie. Ek praat ook nie van ‘n man wat sy werk verloor het nie en graag wil werk, maar hy kan nie. Ons praat van ‘n man wat net te lui is om te werk, en sy arme vrou moet dit doen. As julle finansieel swaarkry, gaan na julle hemelse Vader toe. Leer om uit Sy hand te lewe. Dis nie aldag maklik nie. Dis soms moeilik, maar dis ‘n wonderlike ervaring en ‘n leerskool. Die Here is baie getrou.

Dit bring ons by ‘n volgende werkwoord.

Die man moet die vrou koester, of beskerm. Ook in vers 29, ”want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente”. Die klem is op Christus voed en koester. Die man moet die vrou koester en voed net soos Christus dit in die gemeente doen. Kyk weer, koester en beskerm. Hier is dit ‘n emosionele idee. Dit beteken om warm te maak soos ‘n ma klein voëltjies warm maak, soos ‘n pleegmoeder haar kinders. 1 Tes 2:7b – ”… Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos ‘n man wat haar kinders vertroetel” Dis om ‘n muur om die vrou te bou, om haar teen allerlei dinge te beskerm. Dit beteken nie jy raak links en regs in vuisgevegte betrokke nie, maar op ‘n manier moet jy jou vrou beskerm, op ‘n manier moet jy jou kinders beskerm, jy moet hulle lewens beskerm. Kyk ook na Kol 3:19 wat dit negatief stel, “Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie”. Moenie kru met haar wees nie. Werk sagkens met haar. Hanteer haar met handskoene. Moenie grof, en hard en kru, met haar werk nie. Hanteer haar met agting en respek, so goed jy kan.

Die laaste begrip waarna ons kyk is om haar te eer. 1 Pet 3:7 – “Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag wat saam met julle deel in die lewe as genadegawe. Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder”.
Dit word bedoel emosioneel, fisies ook sekerlik. Mans moet verstandig, volgens kennis, met begrip met sy vrou saam te leef. Vrouens is moeilik vir ons as mans om te verstaan. Ons verskil geweldig in ons temperamente en ons gerigthede. Mans en vrouens is anders bedraad. Jou eie vrou moet jy leer verstaan, dis die bedoeling. Sy is die swakkere. Die begrip beteken sy is dunner, broser – sy is soos ‘n kruik, soos ‘n vaas, ‘n kosbare vaas. Dit dui waarskynlik ook op die feit dat sy fisies die swakkere is. Dan sê hy: “Mans julle moet onthou dat julle mede-erfgename is van die genade van die lewe”. Sy is in die eerste instansie jou suster in Christus voordat sy jou vrou en minnares is. Sy is jou suster in Christus en voor die Here jou God is sy nie minderwaardig nie. Sy is jou gelyke voor die Here. Soos sy, is ook jy uit genade gered.

Ons het baie dikwels die benadering dat ek op meriete gered is en die res is uit genade gered! Ons is almal uit genade gered. Wat hy hier sê is as jy nie so met jou vrou omgaan nie dan gaan jou gebede, op jou terug tuimel. Jy bid as’t ware teen die plafon vas. Het julle al agtergekom dat as jy woorde het met jou vrou,, gestry het met mekaar, kry jy nie gebid nie. So, ter wille ook van jou verhouding met die Here, hou jou verhouding met haar reg. As daar iets is tussen jou en die Here, is dit nie dalk jou vrou se hartseer nie?

1 Kor 11:7 kom met ‘n baie interessante opmerking. Dit sê vir ons die vrou is die heerlikheid van die man. Wat beteken dit? Miskien kan ek die volgende beeld gebruik. Julle weet die maan het geen energie in homself om te skyn nie. Hy kan nie lig afskei nie, hy is ‘n dowwe, dooie klip, as ek dit so kan uitdruk. Nou waar kom die maan se glans vandaan? Van die son af, wat op die maan skyn en dan weerkaats word aarde toe. Die maan is die heerlikheid van die son en tot die mate wat die son op die maan skyn, tot daardie mate hou die maanskyn vir ons ‘n bekoring in. Net so moet die man, volgens hierdie beeld, so op die vrou skyn dat sy ‘n skynende lig sal wees in die samelewing en in die omgewing.

Die vraag is dus mans – skyn ons vrouens? Baie dikwels, as jy wil weet of ‘n vrou gelukkig getroud is, kyk of sy skyn. ‘n Dowwe vrou is ‘n swak getuigskrif vir haar man.