Vlees of Ou Natuur (Meer as Oorwinnaars Deel 1B)

Die tweede deel (deel 1B) van ‘n transkripsie van die eerste boodskap uit ‘n reeks getiteld “Meer as Oorwinnaars” deur Nico van der Walt.

Die tiperende van ‘n Christen se lewe is dat die nuwe herskepde, Goddelike natuur heers oor die vlees  of die ou natuur, maar dit kom nie maklik nie. Die Stryd teen die ou sondige of vleeslike natuur van binne en die satan van buite is ‘n bloedige stryd
(Deel1B van ‘n transkripsie uit die “Meer as Oorwinnaars” reeks deur Nico van der Walt)

Soos twee honde wat baklei
Vlees teen die gees
Vlees teen die Gees

Jare gelede toe preek ek hier in Pretoria by ‘n plek.  Die aand, na die preek, kom ‘n man na my en sê vir my:   “Ek het vanaand niks verstaan van wat jy vir ons wou sê nie”. Wonder bo wonder nooi hulle my om weer te gaan preek. En die aand besluit ek ek sal baie eenvoudiger preek en ek sal baie meer prakties wees. Toe gebruik ek onder andere ‘n bekende beeld van twee honde wat in ‘n sak baklei. Dis nou as jy twee staffies in ‘n sak toemaak, en daardie twee manne spring aanmekaar, binne in die sak. Destyds was dit nog nie polities verkeerd om te praat van ‘n wit hond en ‘n swart hond nie.

Die mense kon sien hoe baklei die honde, want ek het daar voor hulle net so te kere gegaan om hierdie ding tuis te bring by hulle.  Toe vra ek watter hond wen en ek dink die een ou het toe vir my gesê: “die hond wat die meeste kos kry!”  Dit was ‘n wyse antwoord.  Die aand het ek agtergekom die mense geniet en verstaan die beeld, en hulle nooi my weer om daar te gaan preek. Toe ek ‘n paar maande later instap in die saal was daar ‘n plakkaat met ‘n tekening van twee honde wat baklei, ‘n witte en ‘n swarte, en die witte is bo op die swarte! Toe weet ek, ek het deurgekom.

Sondige Natuur (Vlees)

Hoe beleef ons hierdie sondige natuur? Eintlik is dit onnodig om dit te beskryf, en dit is nog minder nodig om te bewys, want almal van ons ken dit, proefondervindelik, nie waar nie.  Hy’s altyd daar.  Ek beleef my sondige natuur amper soos ek swaartekrag beleef.  Dit is altyd daar.  Jy weet, hoe ernstiger mens met die Here is, hoe meer toegewyd jy is, hoe meer beleef jy die swaartekrag van jou vlees.  Swaartekrag is nie te veel van ‘n probleem as ‘n mens lê nie, dit is ‘n groter probleem as jy staan of as jy stap, en nog ‘n groter probleem, as jy begin hardloop of  moet  klim.  Nou is dit so ons  roeping as gelowiges is om te hardloop en te klim en as jy wil uitstyg en sweef, soos ons eintlik moet doen, en dan raak dit werklik jou grootste vyand. Die Wright broers het eers regtig van swaartekrag bewus geraak toe hulle probeer vlieg het. Swaartekrag is altyd daar.

Geneigdheid tot sonde

Hoe nader jy aan die Here leef, hoe meer toegewyd jy is in jou heilige gehoorsaamheid, hoe erger raak jy bewus van hierdie vyand. Hoe meer jy in die helder lig van God se heerlikheid wandel en leef, hoe meer raak jy bewus van jou eie verdorwenheid en jou eie geneigdheid tot sonde.  Jou eie besoedeling raak raak al hoe duideliker sigbaar.  Dit so is dat dikwels, in jou mees vredevolle oomblikke, jou gelukkigste oomblikke, in jou beste oomblikke in jou wandel met die Here, is jy ‘n half tree weg van ‘n katestrofe af.  Soms, nadat jy van jou beste gebedstye gehad het, val jy die hardste.  Ek bely ek was al meermale verstom en verbyster dat ek ‘n halfuur nadat ek by die Here was, my humeur so kan verloor soos ek hom verloor het.   Jy kan dit nie glo nie. Maar ek dink dit het daarmee te doen dat ‘n mens waarskynlik op jou louere rus, dat jy jou waaksaamheid verslap en die vyand weet, natuurlik die vyand buite die mure, weet presies hoe om die luste van die vlees te inflammeer, hoe om sy pyle en waar om sy pyle in te skiet, waar dit die seerste maak. Dis hoekom toegewyde gelowiges hierdie stryd so intens beleef.

Sondebesef

Ek is oortuig daarvan dat heiligmaking word nie in die eerste instansie geken deur morele uitnemendheid nie.  Heiligmaking word in die eerste instansie geken in ‘n mens se sondebesef.  M.a.w. hoe verder jy vorder in jou gelykvormigheid aan Christus, op die pad van heiligmaking, hoe meer raak jy bewus van jou verdorwenheid.  Maar dit eindig nie daar nie. Hoe meer jy bewus raak van jou verdorwenheid, hoe dieper kruip jy in Christus in, skuil jy in Christus, hoe meer beteken Hy vir jou, word Hy alles vir jou. En dit is die essensie van heiligmaking.  Christus gesentreerdheid. Ek sê nie morele uitnemendheid is onbelangrik nie, maar in die eerste instansie het heiligmaking te doen met ‘n groei in jou bewussyn dat jy ‘n Saligmaker, ‘n verlosser, ‘n Middelaar nodig het. Dit is die essensie van heiligmaking. Jy kom net daar uit deur te groei in die begrip van jou eie verdorwenheid.

Die gevaar van hierdie vyand

Die stryd teen hierdie vyand is nie ‘n opsionele saak nie en oorwinning oor hierdie vyand is ook nie opsioneel nie – dit is ‘n  saak van lewe en dood (Galasiërs 5). Iemand wie se lewe gekenmerk word deur die vrug van die vlees, m.a.w. vleeslikheid, sal nie die Koninkryk ingaan nie. So ons moet hierdie vyand nie onderskat nie.  Selfs die nuwe natuur wat in my ingeplant is, die saad van God, kan nie sonder die voortdurende bekragtiging deur die Heilige Gees wen in hierdie stryd nie. En soos wat ‘n mens vorder op die pad raak jy al hoe meer bewus hiervan.

In die praktyk

Heel prakties – die vlees word versterk deur die aanslae van die vyand van buite af. Nou moet ons ‘n bietjie loskom van die beeld van die stad.  Ek en jy  dra ons vlees net waar ek gaan.  Ons moet uit die pad uit bly van hierdie goddelose wêreld en ons moet uit die pad uit bly van die Satan waar hy op sy kragtigste werk, want sy pyle inflammeer die vlees.  Wat bedoel ek daarmee?  Prakties:  Ek wonder of julle soos ek is?   Ek het al agtergekom as ek gaan fliek, sekere flieks, dan sukkel ek om daardie fliek uit my sisteem te kry.  En ek praat nie van opbouende invloede nie.  Jy sien, die seine wat van die fliek af na my gekom het, was op my vlees gerig gewees, dit het my vlees geinflammeer. Dié van julle wat so geskok lyk, vergewe my, maar dis hoe ek dit ervaar.

Dis hoekom daar sekere plekke is waar ons as Christene liewers wegbly.  Dit is nie sonde om soontoe te gaan nie, die hele wêreld behoort aan ons, maar ons bly liewers daar weg, want die pyle van die Satan daar is baie dig en baie dik soos hulle heen en weer vlieg. Ander plekke, soos op ‘n Vrystaatse vlakte, of ver in die Karoo is daar nie so baie pyle nie, nie so baie soos op Clifton of een van hierdie plekke nie.  Of soos in sekere van die inkoopsentrums, dan verstaan die vrouens nou weer die voorbeeld.   Dit is hoekom ons as Christene sekere tydskrifte vermy.  Dis hoekom ons as Christene ‘n tydskrif wat op een of ander manier in die huis gekom het, dit liewer vat en in die asblik gooi, want dit pla vir jou. Dis hoekom ons as Christene versigtig is oor watter televisieprogramme ons kyk, waaraan ons onsself blootstel.  Dit is nie sonde om televisie te kyk, sondermeer nie.  As ek sou sê dit is sonde, dan raak ek wetties.  Die probleem is dit wat daardie televisieprogram en dit wat dit na my toe sein en dit wat dit aan my doen, maak die oorlog net soveel moeiliker.

PUNTE VAN TOEPASSING
1. Ek is Aanspreeklik

Omdat hierdie stryd binne-in my gewen of verloor word, kan ek nooit verantwoordelikheid vir ‘n nederlaag ontkom nie. Besef julle wat ek wil sê?  As ek tweede kom in so ‘n stryd, as ek swig voor my eie begeertes, dan is daar net een man wat aanspreeklik is en dit is ek self, want dit is ek wat voor my eie begeerlikheid geswig het.  Dit is hoekom Christene so lief is om die duiwel altyd die skuld te gee.  Jy sien, as dit sy skuld is, dan kom ek skotvry daarvan af.  Maar daar is niks wat die duiwel aan my kan doen wat my laat sondig sodat dit nie my skuld is nie, want jy sien, sy vurige pyle is gerig op my vlees, om my vlees te inflammeer, sodat ek voor my eie vlees kapituleer, swig, en dus sondig, en dan is ek skuldig.  Hy is meer as skuldig, vir seker, maar uiteindelik kan ek nie aanspreeklikheid ontkom nie.

  1. Volhard tot die einde toe.

    Kan u sien hoe dwaas is die lering wat vir ons ongekwalifiseerd sê eenmaal gered altyd gered? Daar is ‘n waarheid in. Ons glo aan die volharding van die heiliges. Dit beteken dus dat die heiliges, hulle wat God vir Homself afgesonder het, dat hulle heilig sal volhard tot die einde toe. Dit is wat die leerstuk van die volharding van die heiliges wil sê.
    Hulle sal enduit volhard op die pad van heiligmaking, in godsvrug, gehoorsaamheid, toewyding, getrouheid, vertroue en geloof.  Maar my gevoel is baie dikwels dat mense vandag onder die uitspraak ‘eenmaal gered altyd gered’ die idee het dat as jy net die Here aangeneem het dan dryf jy op ‘n “lylo” in die hemel in.  Dit kom sommer vanself.  Dit is nie waar nie.  Dis nie Nuwe Testamenties nie.  Lees wat Paulus sê.  Ek voel so sterk daaroor, en die Nuwe Testament voel so sterk daaroor dat, dat ek dit summier sal sê dat ‘n prediker wat dit aan mense leer, op daardie punt ‘n valse leraar is.

    Dis ‘n wedloop en ons moet volhard tot die einde toe. Ons het die versekering dat die Here ons sal deurdra en die versekering dat Hy self ons einduit sal bekragtig.  Jy sien, as volwasse gelowiges moet ons nooit die soewereiniteit van God en ons eie verantwoordelikheid teenoor mekaar afspeel nie. Altwee is waar: God is soewerein.  Daar kom tye in ons swakte, wanhoop, mislukkings, dan moet ons eenvoudig roep tot die Here dat Hy in Sy almag, Sy soewereintiteit en Sy genade my sal deurdra, want ek het nie ‘n kriesel krag om een tree voor die ander te kan sit nie.  Ek beleef dit soms.  Daar kom dus tye dat ek my innig verbly dat die Here God self belowe het Hy sal my deurvat. Maar nooit ooit hef dit my verantwoordelikheid op om voluit alles te gee in hierdie wedloop nie.  Jy sien, hoe red die Here sy heiliges, Sy eie mense?  Hy red hulle langs die pad van inspanning, van kruisdra en van volharding.  Hy het nie net die uiteindelike doel verordineer nie, maar Hy het ook die pad onderweg daarheen verordineer.

  2. My Pa is met my

Dis soos as ‘n Pa en sy seun en dis nou tyd dat my Pa en ek ‘n bietjie berge toe gaan, die Drakensberg uitklim.  Ek is die seuntjie en dan voel dit vir my ek sal dit nooit maak boontoe nie, ek is klaar, my knieë is jellie, my longe brand en ons is nog nie halfpad nie.  Maar waaruit put ek my troos?  My pa is hierso, dan kyk ek na my pa, sien hy is nog sterk, hy bemoedig my en selfs in ‘n donderstorm oor die berg en weerlig hou ek my pa dop.  Hoor julle wat ek sê?  Die klein seuntjie vind baie sekuriteit in hoe sy pa lyk, sy pa se teenwoordigheid.  Maar hef dit die seuntjie se verantwoordelikheid op dat hy self moet klim?  Tree vir tree vir tree, hy moet self klim.  Sy knieë voel soos jellie, sy longe brand soos vuur en hy dink hy sal dit nooit maak nie en hy neem hom voor, nooit ooit weer nie.

So beleef ons dit as Christene. Ons Hemelse Vader het vir ons verantwoordelikheid aanvaar. Hy is ons Hoëpriester, wat vir ons intree.  Hy sê niks sal julle uit my hand uit ruk nie. Hy bewaar ons.  Hy vat ons deur.  Dit staan so vas soos die berge.  In die proses van deurvat brand ons longe partymaal soos vuur, ons kniee is soos jellie, raak ons paniekerig maar ons moenie hierdie dinge teenoor mekaar stel nie. Eenmaal gered, altyd gered, ja, in een sin. As die Here jou wederbaar het, as Hy jou geroep het, jou nuut gemaak het, sal Hy jou deurvat, ja. Maar jy gaan nie op ‘n “lylo” in die hemel indryf nie. Daar is ‘n kruis om te dra en daar is ‘n oorlog wat voorlê.

3. Waak en bid

Laat ons huis toe gaan, net weer diep onder die indruk dat ons moet waak en dat ons moet bid en dat ons moet volhard. Dis wat Jesus Christus vir sy dissipels gesê het. Waak en bid dat julle nie in versoeking kom nie. Dit is uitputtend en as ons sou nalaat om te bid is dit fataal en ons gaan hard val en baie seerkry.  Kyk, ek is nou bykans 25 jaar ‘n Christen, maar ek is vandag nog net so afhanklik van die Here se genade soos die dag wat ek gered is.  Ek is net so afhanklik vandag van Christus se voorbidding as my hemelse Hoëpriester as wat ek die dag was toe ek geworstel het en uiteindelik deurgebreek het en wedergebore is. Net so afhanklik.  En trouens vandag verstaan ek my afhanklikheid en beleef ek dit baie intenser as destyds.  Ek verstaan ook my verantwoordelikheid.

As ons dus praat van verantwoordelikheid, dan praat ons van die sogenaamde genademiddele (means of grace).  Ek en jy moet dit gebruik, die Here God gee ons sekere genademiddele, waardeur Sy krag en sy genade in ons lewens invloei.  Tradisioneel word daar ‘n onderskeid getref tussen individuele genademiddele en gesamentlike, of publieke genademiddele.  Individuele genademiddele is gebed, Bybelstudie, bepeinsing ens.  Almal van ons weet hoe afhanklik is ons van binnekamergebed, stiltetyd, as jy wil.  Hoe meer jy bid hoe meer afhanklik raak jy daarvan. Persoonlike gebed. Jy verloor hoogte as jy nie gereeld in jou binnekamer is nie, as jy nie soms hard werk in jou binnekamer, want jy het soms nie lus om te bid nie. Dit is soms baie moeilik om te bid, maar ek het moeilikheid as ek nie gereeld bid nie, ek het ernstige moeilikheid as ek nie bid nie, want ek verloor hoogte, is ek op boomtophoogte en moet net keer of ek het ‘n krisis.

Dan is daar die publieke, korporatiewe, gesamentlike genademiddele:  Dit is kardinaal belangrik.  Dit het veral te doen met my deel hê aan ‘n liggaam van ware gelowiges, om die gepredikte Woord te hoor.  Ek het dit weer onlangs beleef by die Evangelical & Reformed-konferensie.  As ‘n prediker moet ek preek en praat as die gemeente van die Here saamkom. Ek doen dit onder spanning en geniet dit nie soveel as die ander nie.  Dit was so lekker daar by die konferensie om vir 10-14 sessies net agteroor te sit en te gaan indrink.  Dit het soveel vir my  beteken. Dit het my opgebou.  Nou nog hang dit om my soos ‘n damp – die seën wat ek gekry het.  Gesamentlike gebed, onderlinge vermaning, die bediening deur godvrugtige ouderlinge, al hierdie gesamentlike dinge is ‘n genademiddel.  Ons moet dus gedissiplineerd gebruik maak van hierdie genademiddele as ons wil groei, as ons staande wil bly, as ons wil aangaan en as ons wil heers oor die vlees.

4. Ek is te sondig

Dis nie onmoontlik dat hier mense is wat dink jy is te sondig om gered te word nie. Dis heeltemal moontlik dat hier iemand sit wat dink, ja wel, ek is nie goed genoeg nie. Wel laat ek vir jou sê die Here het nie gekom vir die goeies nie, maar Hy het vir die sondaars gekom. Dis die verlore seun wat gered is, nie die oudste seun nie.  Ek het soveel vreugde in daai gelykenis, ek identifiseer met die verlore seun.  Ek verstaan hom, dis soos ek daardie.  Ek was in ‘n stadium soos die oudste seun, maar hoe meer ek my self leer ken, hoe meer kom ek agter ek was die jongste seun.  Die punt is, die Here sê vir ons op verskeie plekke Hy het nie gekom vir die gesondes nie, maar vir die siekes. Die feit dat jy stryd het met jou vlees, dat jy swig voor jou vlees, wanneer jou lewe gekenmerk word deur mislukking in terme van die vlees, moet vir jou sê jy het ‘n genadewerk van die Here nodig in jou lewe.  Die evangelie sê vir ons, “kom hierdie water van die lewe is verniet”.  My ervaring is dat baie mense wat worstel met hierdie goed sê ek durf nie die Here aanneem nie, want ek gaan misluk, is dit nie so nie?  Ek gaan dit nie maak nie. Ek gaan nie so goed soos daardie ouens wees nie, ek gaan net my naam krater maak.  So ek is nie goed genoeg nie.  Maar jy mis die punt.  Die punt is jy kom juis omdat jy nie kan nie en jy kom na die Here toe dat Hy jou in staat stel om te kan – dit is God wat in ons werk om te wil sowel as om te werk, na Sy welbehae. M.a.w. as jy voel jy is te sleg om gered te word, dan kwalifiseer jy uitstekend.

5. Oudste seuns

Dit is moontlik dat een of twee of drie sit wat dink hulle het nie nodig om gered te word nie. Hulle is die oudste seuns. Die oudste seuns is, soos die armes, sal altyd met ons wees. Dis ‘n probleem as ‘n mens so ordentlik is, so “goodie goodie”, so goed grootgemaak.  ‘n Ander ou vriend van my het nog ‘n vriend wat hom probeer na die Here lei. Die man het nie geweet wat om te bely nie.  Uit moedeloosheid sê my vriend vir hom ‘vat ‘n baksteen en gooi dit deur die buurman se ruit sodat jy ten minste iets het om te bely’! Jy het sulke mense.  As jy  voel dat jy het nie redding nodig het nie, dan het jy nog ‘n pad om te gaan.  Dit is nie nodig dat jy die pad loop nie, wees net eerlik met jouself en ken jouself.  Dié wat voel jy is te sleg, jy het baie naby gekom aan die Koninkryk. Die water van die lewe is verniet. Vanaand, nog voordat jy gaan slaap, kan daar reeds die saad van God  in jou geplant wees. Ek verseker jou dit maak ‘n reuseverskil. Dit verander alles in jou lewe. As dit met jou gebeur sal jy gou-gou presies verstaan waarvan Paulus gepraat het toe hy gesê het: as iemand in Christus is, dan is hy ‘n nuwe skepsel, die ou dinge het verbygegaan, alles het nuut geword.  Jy weet nie hoekom het dit nuut geword nie, jy weet net dit het.  Laat ek dié van julle wat voel julle is te sleg, te sondig, aanmoedig:  jy is baie naby aan die Koninkryk.  Kom net.

Hoe drink ek die water van die lewe ?

Die water van die lewe is verniet.  Kom drink dit.   Jy sê: “Hoe drink ek dit?”  Wel, ek kan nie nou te lank daaroor praat nie, maar net kortliks.  Jy kom net en jy omhels die beloftes van die Here dat Hy genade het vir sondaars,  jy bely jou sonde, jy draai jou rug op jou sonde;  m.a.w. jy neem ‘n beginselbesluit jy wil niks meer met hierdie sonde te doen hê nie, en jy gaan die Here vertrou om jou te lei op ‘n pad van geregtigheid, en om jou te vorm.  Jy gaan jou hele lewe toewy aan die Here en jy gaan Hom vertrou; jy gaan nou eens en vir altyd ophou om staat te maak op jou eie vermoëns en jy gaan na Hom kyk as jou Verlosser en as jou Saligmaker, jou Hoëpriester wat jou gaan deurdra en jou Koning.

Jy kom en jy bekeer jou dus van jou sonde, jy draai jou rug op jou sonde, op jou wêreldgelykvormige lewe, jou najaging van selfsugtige ambisies, en jy draai jou om en jy sê: “Van hierdie dag af Here, is U my Saligmaker en maak ek net op U verdienste staat en vertrou ek U om my in staat te stel om hierdie pad te loop, vertrou ek U om in my te werk, sodat ek begeer en sodat ek inderdaad in staat sal wees om U te dien soos ek moet.

Kom ons bid saam:  “o God ons dank U vir die evangelie.  Wat sou van ons geword het en waar sou ons gewees het as U nie hierdie nuwe lewensbeginsel in ons geplant het nie, die saad van God, as U nie mense wederbaar het nie? As u nie die hart van klip vervang het met ‘n hart van vlees nie, as U nie u wette op die tafels van ons harte geskryf het nie, as U nie vir ons ingetree het nie, waar sou ons gewees het?  Sovele van ons kan getuig dat U ons deurdra, ons dank U vir u goedheid.  Ons dank U dat U ons versterk, ons dank U vir die gawe van die Heilige Gees, die lewenswerklikheid van die wedergeboorte die begeerte om U te ken en U te verheerlik.  Ons prys U heilige Naam.  Amen.”

Hierdie is Deel 1B van ‘n transkripsie van boodskap L0012-01 uit die reeks getiteld “Meer as Oorwinnaars” deur Nico van der Walt. Hieronder is die oudio boodskap L0012-01 en ‘n paar ander boodskappe uit die reeks.

L0012-01 Meer as Oorwinnaars Deel 1

L0012-02 Meer as Oorwinnaars Deel 2

L0012-03 Meer as Oorwinnaars Deel 3

L0012-03 Meer as Oorwinnaars Deel 4

 Volg hierdie link en doen ‘n search onder “Series” = meer as oorwinnaars vir die res van die 11 boodskappe in die reeks

Eerste deel van hierdie transkripsie

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *