Geloofsfondamente No.03
Sola Gratia (Genade alleen)
Nico van der Walt
Ons gaan veral kyk na die gelykenis van die Skrifgeleerde, die Fariseer en die Tollenaar. Ek gaan net eers inleidend 'n paar dinge sê voordat ons daarby uitkom.
Een van die wekroepe van die Reformasie was natuurlik “Sola Gratia”- genade alleen. Laas keer het ons gekyk na Sola Scriptura. Die Reformatore het teruggekeer na die Nuwe Testamentiese waarheid van genade alleen – dit teenoor die Rooms-Katolieke leer van genade plus werk as die grond vir ons redding. Veral het die Rooms-Katolieke kerk (en dis maar tot vandag toe so) dit beklemtoon dat dit ja, God se genade in Christus is, maar daarmee saam menslike werke en veral die gebruik van die sakramente waarvan Rome sewe het, sewe sakramente, terwyl ons glo daar is net twee. Dit was dus die groot motivering: genade alleen. Julle sal met my saamstem dat hierdie is nie maar net 'n sekondêre saak nie, dit bepaal alles, want as Rome reg is dan dink ek kan ek sê is ons verlore, want nie een van ons beoefen gereeld en gedissiplineerd sewe sakramente nie. So dit is van die allergrootste, onuitspreeklike belang dat ons die Bybel reg sal verstaan op hierdie punt.