Mr Eternity – “Mnr Ewigheid”

Hy het sy beperkte gawes voluit gebruik. Hy was getrou en volhardend daarin. Hy het die tyd uitgekoop. En hy het miljoene op sy manier ge-evangeliseer.

Dis ‘n koue aand in 1956 as die predikant van Burton Street Baptist Church in Sydney die skimagtige figuur van ‘n knielende man raaksien. Dié is besig om iets op die sypaadjie te skryf. “Is jý tog nie Mnr Ewigheid nie!”, roep die pastor uit. Die kerk se skoonmaker kom regop -‘n skraal en besondere kort figuurtjie – en antwoord met ‘n sagte stem: “Ja, ek is die skuldige, meneer!”

Na 26 jaar se gissings is die geheim van “Mr. Eternity” uiteindelik opgelos. Deur die dekades heen was die woord “Eternity” gereeld soggens orals op Sydney se sypaadjies geskryf – ‘n stuk of 500 000 keer in netjiese groot bordkrytletters.

Arthur Stace se verhaal is ‘n uitstaande getuienis oor God se genade vir ‘n sondaar en hoe Hy met die kromste stok die reguitste houe kan slaan.

Arthur is in 1884 in Sydney gebore. Hy, sy twee broers en twee susters, moes dikwels onder sakke buitenshuis slaap om hulle dronk ouers se geweld te ontkom. Die kinders het oorleef deur afgelewerde melk en brood van stoeptrappies af te steel, en deur afvalkos uit vullisdromme op te diep. Van skoolgaan was daar nie eintlik sprake nie en Arthur is die lewe ongeletterd binne. Op veertien begin hy in ‘n steenkoolmyn werk (sy susters word prostitute) en kort voor lank is hy ‘n volslae alkoholis. Hy steel om vir sy drank te betaal en op vyftien is hy vir die eerste keer tronk toe. Later sou hy vertel: “Ek was voortdurend dronk, altyd platsak, deur en deur sleg en totaal sonder uitsig of hoop.”

In 1914 sluit hy by die weermag aan en word ‘n voetsoldaat aan die Franse front in die Eerste Wêreldoorlog. Na 1918 se vrede sit hy sy beskonke lewe in Sydney voort. In die
aanloop tot die depressie verloor hy sy werk en al wat oorbly, is om bedelaar te word.

Uiteindelik word die ses-en-veertigjarige dronkaard in Augustus 1930 deur God se genade gearresteer. Saam met nog ‘n klompie boemelaars is hy een aand na die St. Barnabas Kerk waar kos uitgedeel sou word. Hulle moes egter eers na die besoekende prediker luister. Onder die preek kyk hy na die Christene om hom – en ‘n diep begeerte om te kry wat hulle het, pak hom beet. Dan bid hy die eerste keer in sy lewe. Na die diens gaan pleit hy soos die tollenaar van ouds in ‘n nabygeleë park om God se vergiffenis. En soos dit altyd gebeur as ‘n sondaar hom werklik gebroke en werklik opreg voor God verootmoedig, word hy deur die Here se herskeppende krag oorspoel. Hy het koek en tee gaan soek, maar hy het die Verlosser gekry.

Dit was die einde van Arthur Stace se drinkery. Hy het spoedig weer ‘n werk gekry. En sy voete was vasbeslote onderweg na selfrespek, lewenssin, bruikbaarheid en koninkryksnut.

Net meer as 2 jaar na sy bekering gaan woon Arthur ‘n diens by in die Burton Street Baptist Church. Die prediker is die vurige evangelis, John Ridley. Tydens sy rede sê Ridley hy wens hy kon die enkele woord “Eternity” in Sydney se strate loop en skreeu om mense te herinner dat daar ‘n ewigheid vir elkeen van hulle voorlê en dat jou lewe hier en nou bepaal waar jy dit gaan deurbring. Met díé roep die prediker toe uit volle bors: “Eternity! Eternity! Eternity!”
Eensklaps het die eenvoudige Arthur geweet wat sy lewensroeping is: wat Ridley nie kon doen nie, sou hý doen – so ietwat aangepas. Hoewel ongeletterd, het hy huis toe gegaan en geoefen totdat hy die woord “ETERNITY” netjies in groot blokletters kon skryf. Onder aanmoediging van sy vrou, Pearl, het hy soggens vieruur opgestaan, met ‘n baadjiesak vol bordkryt Sydney se strate ingevaar, en elke paar honderd meter die woord “eternity” op die sypaadjies geskryf. Hy het die Here biddend vertrou om hom daagliks te lei oor watter deel van die stad hy moes dek.
Streng gesproke was Arthur se skrywery teen die wet – en talle kere is hy amper uitgevang – maar wat hom betref, het hy toestemming van die Hoogste Gesag gehad. Die koerante het begin gis oor die geheimsinnige evangelis. Dag na dag is honderde Jan Allemans aan ewigheidsrealiteite herinner. En kort voor lank was “Mr. Eternity” so deel van Sydney soos die hawebrug en Waltzing Mathilda. Hoewel verskeie mense die polisie en media geskakel het met aansprake oor die sypaadjie-profeet se identiteit, het niemand buite Arthur se huiskring geweet wie die skuldige was nie. So het dit vir baie jare aangehou.
Toe “Mr. Eternity” uiteindelik ontmasker is, het sy kollegas onthou hoe hy gereeld met die aanbreek van middagete die werksplek met ‘n tas in die hand verlaat het. Hy het die uur gebruik om traktate in die stad uit te deel – veral aan die minderbevoorregtes en boemelaars.

Arthur Stace is in 1967 op drie-en-tagtigjarige leeftyd aan beroerte dood. Hy het sy liggaam aan die Universiteit van Sydney bemaak en versoek dat die betaling daarvoor aan liefdadigheid geskenk moes word. Toe sy liggaam ‘n paar jaar later ter ruste gelê is, het honderde mense hulde kom betoon aan hierdie nederige dienskneg van Christus.

Dit word vertel – hoe betroubaar weet niemand nie – dat die woord “Eternity” op die klok in die Algemene Poskantoor se toring geskryf is. Die gebou is in 1965 herstel en die klok is blykbaar vir ‘n enkele nag op grondvlak gehou voordat dit in die toring teruggehys is. Die volgende oggend egter, so lui die storie, het die voorman ontdek dat iemand gedurende die nag hierdie veelseggende woord daarop gegrafeer het.

Wat wel daar is vir almal om te sien, is ‘n gedenkplaat naby die Sydney Operahuis met bloot die woord “Eternity” in koperletters daarop. So word die stad se inwoners herinner aan die merkwaardige mannetjie wat ‘n tydlank in hulle midde was – maar veral aan die enkele boodskap wat hy vir dekades lank aan hulle verkondig het.

Hierdie eenvoudige maar aangrypende verhaal verskaf ook die antwoord op ‘n raaisel wat miljoene mense onlangs stomgeslaan het. Net na middernag op 1 Januarie 2000 het die kleurrykste en duurste vuurwerkvertoning wat Sydney ooit beleef het, bokant die hawebrug afgespeel. Omdat hierdie stad een van die eerstes was om die nuwe millennium binne te gaan, het nie net ‘n miljoen Australiërs daarna gekyk nie, maar ook TV-kykers rondom die aardbol. En reg teen die einde, as hoogtepunt, word die grootse skouspel toe só afgesluit: agt reuse vuurletters verskyn voor dermiljoene oë teen die kant van die brug: E-T-E-R-N-I-T-Y.

Arthur Stace het baie liefgehad, omdat hy baie vergewe is. Hy het sy beperkte gawes voluit gebruik. Hy was getrou en volhardend daarin. Hy het die tyd uitgekoop. En hy het miljoene op sy manier ge-evangeliseer.

Mag ook mý lewe – en joune – so ‘n rimpeleffek soos syne hê. Mag dit dekades na my dood steeds Godverheerlikende vrug voortbring en baie, baie meer mense ten goede raak as wat ek ooit in hierdie lewe kon bereik.

Laat ons die fundamentele waarheid van 2Kor 12:9-10 nooit vergeet nie: Sy (die Here se) antwoord was: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.’ Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

(Erkenning en bron: Jim Cromarty, Mr. Eternity,
Evangelical Times, March 2000)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *