Is dit die moeite werd om God te dien Deel2 – Onbeleefde Geloof

Hierdie reeks artikels is uittreksels uit radiopreke van oorlede Prof J.C.G. (Kolie) Kotze. Ons hoop u vind dit insiggewend en geestelik verrykend.

ONBELEEFDE GELOOF ONTWIKKEL GEMAKLIK IN AKTIEWE ONGELOOF

Velerlei, o Here, is die versperrings wat die Bose tussen die mens en sy God oprig. Een van die vernaamste van sy liste is om ons in ongeloof en in ongehoorsaamheid in opstand teen U te bring, omdat ons U nie ken nie. Ons gebed is, gee ons ‘n nuwe insig in u goddelike bestuur van ons lewe in hierdie oomblik, sodat ons mag glo en gehoorsaam wees met heel ons wese, in Jesus Naam.

1 Tim. 4:1; 2 Tim. 3:5.

Daar is vandag twee groepe mense wat mekaar vreemd vind. Daar is ‘n sogenaamde verligte groep wat maar nie kan begryp dat daar in ons moderne eeu nog mense is wat in die Bybel en in die voorstelling van die lewe daarin kan glo nie. Dit is tog naief en uitgedien, so meen hulle!
Daarteenoor is diegene — goddank vir die vele van hulle in alle lae van die wêreldbevolking — wat verstom is oor sulke geestelike blindheid! Ja, dat daar mense kan wees, en helaas massas van hulle, wat geestelik so blind is dat hulle die wesentlike van die menslike lewe — dit wat eintlik die lewe van die mens uitmaak— nie kan begryp of waardeer nie. Hierdie teenstelling is vir die gelowige van die uiterste belang. Dit is die verskerping van verskille onder die mensdom, waarvan die Here Jesus reeds gewaarsku het: “Ek het gekom om vuur op die aarde te werp . . . Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee sê Ek vir julie, maar eerder verdeeldheid” (Luk. 12:49—50; vgl. ook Openb. 22:11). As gelowiges behoort ons daarop ingestem te wees — nie slegs dat daar so ‘n teenstelling onder die mensdom bestaan nie, maar dat dit na die einde toe nog skerper en meer radikaal sal word. Dit voel of ons vandag baie vinnig in hierdie toenemende
dampkring beweeg, waarvan die apostel waarsku: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Dieselfde apostel skryf ook verder van “mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (2 Tim. 3:5). Hier is ‘n soort godsdienstige mens aan wie die Meester reeds bestraffend gesê het: “My woord vind geen ingang in julle nie” (Joh. 8:37). Paulus, met weemoed in sy hart oor die ongeloof van sy volk, skryf: “As ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges, in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor. 4:3—4).
Hierdie teëstellende groepe mense is nie ‘n verskynsel van die ruimte-eeu nie — hulle het alreeds in die dae van Kain en Abel bestaan. Ook Jesaja moes uitroep: “Wie het geglo wat aan ons verkondig is?” (Jes. 53:1). Wat hierin nuut is, is dat die teenstelling na die einde toe skerper, gevaarliker en meer botsend sal word! Om hierdie rede wek die huidige toestande vir ons soveel kommer.

Verstandelike besware

Ons vra onwillekeurig: Waarom die ontstellende toename in moderne ongeloof? Daar word verskillende redes aangevoer. Sommiges beweer dat hulle verstandelike redes het waarom hulle nie kan glo nie. Hulle vind die geestelike waarhede te onkontroleerbaar en onbewysbaar om hulle tevrede te stel. Vir hulle is geloof die blote aanvaarding van bepaalde waarhede op gesag van die kerk, of een of ander persoon of instansie. Hulle beweer egter dat hulle nie kan glo wat nie redelik bewys kan word nie. Dit is te suiwer geestelik en innerlik van aard. So ‘n probleem kan in ons materialistiese denkklimaat nogal begryp word. Tog moet ons nie vergeet nie dat die Here Jesus se tydgenote hulle al aan Hom geërg het omdat Hy ‘n koninkryk verkondig het wat te suiwer innerlik-geestelik was. Terwyl hulle ‘n Messiaanse ryk verwag het wat teen Rome kon maak en breek,het Hy vir hulle gesê: “Die koninkryk van God is binne-in julle” (Luk. 17:21). Dit was vir hulle een te veel, daarom het baie van hulle opgehou om Hom te volg (Joh. 6:60).
Daar is inderdaad mense wat verstandelike probleme ondervind; nogtans is dit nie waar dat verstandelike twvfel en ongeloof
dieselfde is nie. Nie alleen skuil daar dikwels agter hierdie argument sondige hoogmoed nie, maar dit word ook deur die kinderlike geloof van skitterende geleerdes en diep denkers weerspreek. Trouens, ongeloof kom nie van die kop na die hart nie, maar wel van die hart na die kop.

Ander hindernisse

Ten grondslag van twyfel en ongeloof kan ook ‘n sondige, sinnelike lewe wees. Daar is mense met ‘n weerbarstige, sinnelike lewe en temperament, met ‘n ongelooflike honger na die aardse lewe — so ingestel op die tydelike dinge dat ‘n behoefte aan en ‘n soek na die hoër, geestelike lewe byna ongerymd lyk. Aan die ander kant is dit ook waar dat daar vele met so ‘n aanleg en natuur is wat die Here hartlik liefhet. Hulle het juis gevind dat Jesus Christus onmisbaar is vir mense met sulke drange en drifte. Hy het hulle hele wese met sy gevalle drange en drifte aangeraak en op ‘n veel hoër vlak gebring. Energie wat eers ten kwade uitgebreek het, is nou tot diens in die koninkryk van God ingeskakel. Die woord het in hulle hele lewe waar geword: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Joh. 8:36). Die aansporing van die apostel het vir hulle sin gekry: “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie (Gal. 5:1).
Ook is daar diegene wat twyfel as ‘n liefhebbery beoefen. Hulle sogenaamde ongeloof is ‘n beskutting teen hulle beskuldigende gewetes. Hulle wil ‘n selfsugtige lewe van sonde, liefde vir die wêreld en selfgenoegsaamheid nie prysgee nie. Wanneer hulle gewete hulle dan aankla, is twyfel ‘n gerieflike middel om dit mee tot rus te bring. Twyfel is dus vir hulle ‘n genoeglike wapen tot selfbeskerming, daarom debatteer hulle so graag oor geloofskwessies — iets waarteen die Skrif waarsku en as nutteloos en onsinnig verbied (2 Tim. 2:23—26). Hierdie soort twyfelaar kan nie gehelp word nie, omdat werklike twyfel nie deur logiese argumente genees kan word nie. Alleen deur die belewing van geestelike waarhede en die onsienlike werklikheid kan ‘n mens tot geloofsekerheid kom. Onthou dit tog asseblief!
Daar is nog ‘n vorm van twyfel wat gevaar inhou en die lewe geweldig kan ontwrig. Die klimaat van die moderne, wetenskaplike, tegniese mens met sy sogenaamde algenoegsame, mondige vermoëns laat bitter min suurstof vir enige geestelike lewe deur. Alles het menslik en materialisties geword. ‘n Groot kenner het dit op treffende wyse so in Engels gestel: “A scientific materialism has undermined many of the traditional beliefs that have made people of past generations feel secure.” Die moderne, vloeibare atmosfeer van onsekerheid, spanning en sinloosheid, laat mense beangs en bedreig voel. Dit wek twyfel en vrees. Dit is dus nodig om daarop te let dat wat dikwels as geestelike en godsdienstige twyfel aangesien word, op ‘n sielkundig ontwrigte vlak in ‘n persoon se lewe gesien en behandel sal moet word. Dikwels is sulke twyfel dan ook, soos ons reeds gesê het, ‘n poging om van die onaangename werklikheid van die lewe weg te vlug. Dit kom meermale voor juis wanneer die mens homself teen die Woord van God wil verskans. Ook is dit algemeen by diegene wat misluk om die pynlike werklikhede van die lewe positief en oorwinnend te verwerk.

Onbeleefde geloof

Die vraag is: waarom affekteer al hierdie verskynsels van die moderne lewe sommige mense so noodlottig, en vir andere nie? Die antwoord is eenvoudig: dit toets die egtheid van die mens se geloof! Dit is vandag vir ons nie meer vreemd dat die Skrif ons in die woorde van Paulus waarsku nie: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom, en die mens van die sonde geopenbaar word, die seun van die verderf … (2 Thess. 2:3). Waarom die groot afval na die einde toe? Dit is die onafwendbare eindresultaat van onbeleefde geloof!
Daar is ‘n kenmerkende siklus in die Christelike lewe wat dikwels herhaal word. So is daar die herleefde Christelike lewe, vol van lewe en oorvloed van lewe, en warme emosionele aandoeninge en belewinge. Dan volg ‘n stadium van oortuigde Christelike lewe, maar sonder herlewingsgloed. Daarop volg geslagte wat die waarhede en oortuigings verstandelik aanvaar en daartoe instem sonder om dit alles te beleef en hulleself daaraan oor te gee. Die eindkurwe is gewoonlik onvermydelik: uiteindelik kom daar geslagte wat die geloofslewe as onsaaklik, naief en uitgedien beskou. Vele gooi dit dan ook oorboord en word aktiewe ongelowiges, selfs vyandige teenstanders van geestelike waarhede. Hulle is die eintlike afvalliges! Die godsdienstige tradisie het vir hulle geen waarde nie. Hulle het dit tweedehands van ‘n vorige geslag en omgewing oorgeneem, in baie gevalle sonder enige persoonlike belewing van die verlossing in Christus — ‘n doodgewone, leë tradisie wat saam met baie ander uitgediende gewoontes en praktyke soos ‘n ou kleed afgewerp kan word.
Tog het so ‘n oorgelewerde geloof ‘n sekere weerhoudende mag teen die Bose; maar die ware doel van die Christelike geloof om mense tot ‘n lewende vereniging met Christus in die koninkryk van God te bring, word nie daardeur gedien nie. ‘n Groot kenner het die feit so gestel: “Daar word niemand gered deur alleen maar die Bybel as die Woord van God aan te neem nie.” Ons sien duidelik om ons hoe onpersoonlik en onmagtig die “geloof” is wat mense bloot maar van hulle omgewing oorgeneem het. Nog ‘n veranderde omgewing was al wat nodig was om hierdie sogenaamde “geloof” te ondermyn.

Vertroue, oortuiging en oorgawe

Die uitspraak hierbo kan maklik begryp word as ons daarop let dat ware, lewende geloof eintlik op ‘n drieërlei vlak ontwikkel: Vertroue is die verstandelike basis vir geloof, oortuiging die uitdrukking van geloof op emosionele vlak, en aktiewe, daadwerklike oorgawe die betrokkenheid van die persoon in die praktiese uitvoering van die verstandelike en emosionele belewenisse van geloof. Sy ganse wese en persoonlikheid word dus hierby betrek. Waar daar in die godsdiens misluk word om vertroue, oortuiging en emosionele besieling te bewerkstellig, ontstaan twyfel en uiteindelik aktiewe ongeloof. Dit is in ooreenstemming met die waarskuwing in Prediker (12:1): “Dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid, voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie.”
Geloof wat uit onpersoonlike oorlewering sonder eie belewing oorgeneem word, moet noodwendig twyfel, ongeloof en afval tot gevolg hê. Ons kan alleen van ‘n lewende geloof praat waar die genoemde drie aspekte aanwesig is — verstandelike sekerheid, emosionele oortuiging, en aktiewe betrokkenheid van die persoon in daad en diens. Slegs so ‘n geloof kan van een geslag na die ander oorgedra word. Ons kan geboue, literatuur en standbeelde as kultuurskatte aan die opkomende geslagte nalaat, maar die ware Christelike geloof kan slegs as ‘n lewende, oorgeplante saad voortgedra word. Die saad is die Woord van God wat in die lewens van mense voortgeplant word. Dit is Christendom. Al die katedrale saam weeg nie op teen een geredde siel wat so deur die lewende Woord in besit geneem is nie.
‘n Belangrike feit in die oordrag van die Christelike geloof is dat sedelike en geestelike waarhede van so ‘n aard is dat dit onmoontlik is om die waarhede logies en matematies te bewys. Hulle word
as eg en waar beleef, nie bewys nie. Waar iemand dus nie die Christelike lewe persoonlik beleef nie, sal storms en verstandelike probleme horn na twyfel en selfs na ongeloof en ondergang meevoer. Dan tree ‘n toestand in wat Christus so beskryf: “Smakelose sout wat uitgewerp en deur mense vertrap word” (Matt. 5:13—14). Hierdie toestand word bevorder deurdat mense met ‘n vormlike, tradisionalistiese oorlewering van die godsdiens sonder ‘n eie belewing daarvan, godsdiens as verouderd, sielloos en onsaaklik aanvoel. Dit is vir hulle nie spontane lewe nie, maar iets wat van elders aangeplak is. Dit het vir hulle alledaagse lewe geen waarde nie en is inteendeel net ‘n las! Dit lewer geen krag nie omdat alle bande met die genademiddels van God verbreek is. Onrus en angs ontstaan, en in reaksie hierop probeer die mens om sy geestelike leegheid met meer aardse dinge op te vul. So kan twyfel en ongeloof uit onbeleefde geloof ontwikkel, en uiteindelik na sondige afvalligheid en aktiewe ongeloof lei.

Wortelmotiewe vir geloof en ongeloof

Ons kan ongeloof eintlik slegs uit geloof verstaan. Dit lê veel dieper as die persoonlikheid, karakter, temperament, intellek of enige sedelike instelling. In ongeloof gaan dit — soos in die geloof — om ‘n geestelike, misterieuse werklikheid. In geloof gaan dit om ‘n persoonlike verhouding — ‘n ontmoeting met God. Die gelowige weet dat hy deur God aangespreek is en dat hy daarop geantwoord het. Om te glo beteken dus dat ek God se spreke gehoor en daarop ag geslaan het toe Hy my geroep en sy uitnodiging en bevel aan my persoonlik gerig het. Ek het daarop geantwoord deur myself met alles wat ek is en het aan Horn oor te gee. Steeds bly my antwoord en oorgawe aan God vir my ‘n onuitspreeklike wonder van sy genade, omdat dit God is wat my gesoek, gevind en gegryp het. Paulus sê: “Ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is” (Fil. 3:12). Jeremia het dit weer so uitgedruk: “Here, U het my oorgehaal, en ek het my laat oorhaal; U was te sterk vir my en het oorwin” (Jer. 20:7).
Geloof beteken nie dat my verstand alle vrae opgelos het en dat my probleme almal beantwoord is nie: ook nie dat ek uit myself en uit eie kragte al my drifte oorwin en self tot volle oorgawe gekom het nie. Nee, dit beteken dat God met sy genade my tot verlossing in Christus oormeester het (Joh. 6:44 en dan vers 37). Ek het aan God oorgegee; ek het sy gevangene geword, omdat Hy my gevange geneem het. Dit het nie deur die loop van ‘n geweer plaasgevind nie, maar deur die uitgestrekte, bloedbevlekte arms van die kruis op Golgota. Om hierdie rede is ‘n lewende geloof so onuitspreeklik dierbaar — jy voel gevange geneem deur liefde. Die enigste dwang wat jy gevoel het, was spontane, wedersydse liefde. Jy kon jouself nie help om op so ‘n Jesus verlief te raak nie. Die teerheid van hierdie oorgawe voel ‘n mens in Petrus se woorde aan: “Vir julle wat glo, is Hy kosbaar” (1 Pet. 2:7).
Ongeloof is presies die teenoorgestelde. Dit is veel meer as die afwesigheid of gemis van geloof. Hierdie is nie bloot ‘n geval dat sekere mense geloof besit en andere nie, soos mense wat musikaal is of nie. Nee, wat van sonde waar is, is waar van ongeloof— dit is ‘n aktiewe, kwade mag. Ook ongeloof is ‘n bepaalde vorm van geloof, maar totaal teenoorgesteld gerig. Daar is nie mense sonder geloof nie, omdat geloof tot die wese van die mens behoort. Dit lyk wel in die praktyk of daar mense is wat eenvoudig niks glo nie; tog is elke mens na die beeld van God geskape en het hy kragtens sy mees basiese wesenshoedanighede op God betrekking — self’s ook die ateis!
God laat Homself nie onbetuig nie — ook nie aan die moderne, gesekulariseerde heidendom nie. Hy spreek selfs hierdie mense aan! Hy is ‘n onontvlugbare werklikheid vir elke mens — gelowig of ongelowig. Dink aan hierdie ongelowige mens, stil en alleen, teruggetrek van sy werk of ontspanning, alleen met homself, troosteloos na binne gekeer, alleen voor eie onmag en nietigheid, innerlik met die roep van sy God in sy binneste. Nog steeds is dit soos die roep in die paradys: “Adam, waar is jy?” ‘n Mens sou sê dat so ‘n persoon, losgemaak van God, vry sou voel en baie gelukkig moet wees. Moenie glo nie! Hy voel hom in sy eensaamheid vasgeketting en beleef intense angs; vandaar die ontsettende omvang van geestesinstortinge wat ons vandag rondom ons beleef.
Hierdie mens verskil ingrypend van die gelowige. Laasgenoemde weet dat hy deur God aangespreek is en met sy ganse wese “ja” geantwoord het. Die ongelowige, daarenteen, het homself vir die roepende God afgesluit en “nee” gesê! Dit is die huiweringswekkende van die sondaar. Uit eie krag kan hy nie glo en oorgee nie — dit is genade van God en kan nie sonder die wonder van wedergeboorte plaasvind nie! Nogtans kan die ongelowige aan God “nee” sê. Dit word trouens by horn ‘n lewenshouding omdat hy ‘n slaaf van die mag van ongeloof geword het (2 Kor. 4:3—5; Ef. 6:10—12; 2 Tim. 2:24—26: 2 Thess. 2:8—10). Die ongelowige wil dit egter so hê en bly steeds daarvoor verantwoordelik (2 Thess. 2:8—10). So het Christus sy tydgenote gewaarsku: “Julle wou nie!” (Matt. 23:37—38). Dit is ‘n lewenshouding van afkerigheid van God. Hierdie mens erger hom letterlik aan God en kom teen Hom in verset. Hy verwerp God se openbaring van Homself in Christus Jesus, omdat sy hele wese in verset en weerstand teen sy Skepper is.
My liewe vriend, is dit die soort godsdiens waarmee u u siel deur die lewe sleep en na die ewigheid afstuur? Geloof wat u nie beleef nie kan geleidelik in ongeloof ontwikkel, en dit is ‘n lewenshouding wat volgens Hebreers 10:29 angswekkende implikasies het: So ‘n persoon sal God se oordeel nie ontvlug nie, omdat hy iemand is “wat die Seun van God vertrap, en die bloed van die Nuwe Testament waardeur hy geheilig is, onrein ag en die Gees van genade smaad.”
Ons slotsom is onvermydelik — onbeleefde geloof is nie werklik geloof nie! Dit is eintlik net ‘n troosprys vir ‘n skuldige gewete. Dit bied u geen hulp, krag of geluk in hierdie lewe nie, en word die lis van die duiwel om u ewig in die verderf te stort.
As u Woord, onse God en hemelse Vader, ons waarsku om U waarlik vroeg in die lewe te soek, omdat daar kwade dae kan kom wanneer ons sal sê: “Ek het daar geen behae in nie”, dan begryp ons beswaarlik hoe groot die gevaar is. Ons loof U vir u goddelike genade wat ons reeds uit die gevaar gered het, maar Here, omdat ons die gevaar sien en die genot van u verlossing smaak, is ons diep, diep ontroerd en bekommerd om soveel van ons medemense sonder u te sien leef. Hoor tog uit genade ons geroep! Bewerk op een of ander manier, Here — selfs al moet U dit hardhandig doen — ‘n wyse om hulle tot besinning te roep, hulle te bereik en te gryp as ontnugterde mense wat geleer het om te glo, te gehoorsaam en te lewe. Ons bid dit in Christus Naam. Amen.

sien ook http://www.nunide.org.za/blog/afrikaans/is_dit_die_moeite_werd_om_god_te_dien_deel01/