Geloofsfondamente No.01 – Historiese Christelike Geloof

Die Historiese Christelike Geloof

Nico van der Walt

Judas 1v3

Dis ‘n baie sprekende en interessante vers hierdie. ‘n Mens het die indruk dat Judas van plan was om vir hulle te skryf oor, soos hy in die Ou Vertaling sê, ons gemeenskaplike saligheid, oor die wondere van hulle verlossing. Dan sê hy wel, ek voel my tog verplig en dan gaan hy as’t ware op ‘n syspoor en hy begin praat oor die noodsaak om te stry vir die geloof wat hy sê, eenmaal aan ons oorgelewer is.Dit is baie interessant as ‘n mens na hierdie vers kyk, as hy sê: “Ek het die noodsaaklikheid gevoel…”; wil hy daarmee sê: “Wat ek met julle wil deel is kardinaal belangrik”.
Tweedens, sê hy: “dat julle kragtig sal stry”. Die Grieks daar dui op intense inspanning, soos bv. in ‘n stoeigeveg. Dit dui ook op ‘n voortdurende inspanning, of ‘n voortgaande handeling. Waarvoor moet daar gestry word? Vir die geloof sê hy. Watter geloof? “Die geloof wat eenmaal oorgedra is aan die heiliges, of oorgelewer is aan dié wat God vir Homself afgesonder het. So dis nie sommer enige geloof nie, hy definieer die geloof hier. Dis die geloof wat oorgelewer is.

Hierdie begrip, om oor te lewer, is baie belangrik. Die Griekse woord “paradidomi” beteken om aan te gee, of oor te gee, of af te gee, soos wat ‘n mens ‘n aflosstok sou aangee, of soos wat jy ‘n fakkel tydens ‘n fakkelloop sou aangee. Wat hy daarmee impliseer is dat hierdie geloof is deur die Here gegee deur Sy apostels. Judas as een van die laastes van hierdie apostels praat hiervan as die geloof wat deur die apostels gekom het en dit is ‘n geloof wat oorgegee is en die hele implikasie is, dit moet weer aan die volgende geslag oorgegee word. Dit is soos Paulus aan Timoteus skryf in 2 Tim 2v2 waar hy sê dat hy moet manne leer, wat bekwaam is om ander te leer. Die hele gedagte is dit moet van geslag tot geslag oorgegee of aangegee word. Dis die werkwoord. Die selfstandige naamwoord word ook soms vertaal met tradisie. Ek besef tradisie is vir baie van ons ‘n negatiewe begrip, maar in die Skrif het dit soms ook, nie altyd nie, ’n negatiewe begrip. Daar is so iets soos die oorlewering van die ou mense wat baie sterk gekritiseer word deur die Here Jesus as negatiewe tradisies. Daar is ook in die Nuwe Testament so iets soos positiewe tradisies en dit is die tradisies van die geloof. Dit is aan die heiliges gegee word hier gesê. Dié wat God vir Homself geheilig het, om te heilig beteken om eenkant neer te sit of om vir Homself af te sonder. Hulle is die rentmeesters daarvan en hulle moet dit bewaar en aangee.

Dan baie belangrik, sê hy, dit wat eenmaal oorgelewer is. Dit is m.a.w. eens en vir altyd oorgelewer. Dit beklemtoon die finaliteit van die Godsopenbaring en die gefikseerdheid daarvan. Dis vasgelê, dis gestol, dis onveranderlik, dit durf nie verander nie en die rentmeesterskap van die heiliges is juis om seker te maak dat dit oorgelewer word, suiwer, sonder dat dit mettertyd verword. Daar kan nie bykom nie, en daar mag niks weggeneem word van nie, dit is die aksent hierso.

‘n Klompie van Spurgeon se lidmate (Spurgeon was die befaamde prediker in die 19de eeu in Londen, ‘n fenominale prediker, ‘n man van God) kom eendag na hom toe. Terloop, Spurgeon het nie ‘n dag formele teologiese opleiding gehad nie. Hy was maar eintlik ‘n “country bumpkin” gewees. Hulle vra hom toe: “Hoe kan ons weet dat wat jy verkondig die waarheid is, terwyl hier baie ander predikers is wat ander boodskappe verkondig en nie dieselfde as jy nie, en hulle is baie meer geleerd as jy. Hoe kan ons seker wees?”

Dis ‘n brandende vraag en as dit destyds ‘n brandende vraag was, hoeveel ter meer nie vandag nie? Ons tyd word gekenmerk deur ‘n duisend stemme. In die kerk is daar allerlei standpunte in ons dag. Daar is verwarring orals en daar is onsekerheid en al die bakens word gedurig verskuif. Dink nou maar net aan ons Afrikaners se verlede en die onlangse verlede. Twintig jaar gelede nog was dit algemeen aanvaar in die Afrikaanse kerke dat apartheid Bybels gefundeerd is. Vandag sal jy baie ver moet soek om iemand te kry wat nog daardie standpunt huldig. Ek spreek my nou nie uit oor die reg of die verkeerd van die standpunt nie. Al wat ek sê is wat ons beleef het in ons leeftyd oor die afgelope dekade of twee is tye van geweldige verandering. Neem iets anders. Tien, twintig jaar gelede was dit ondenkbaar dat ‘n vrou ‘n ouderling kon word in die Afrikaanse kerke. Vandag is dit algemeen. ‘n Mens het die indruk dat die bakens gedurig verskuif word. Dan is dit dinge wat, ek praat nou nie van apartheid nie, maar van die ander dinge wat vir eeue gehandhaaf is in die kerk en nou skielik verander alles. As ‘n mens kyk na die geskrifte, dan is dit net ‘n kwessie van tyd voor homoseksualisme gewettig word in die kerk. So kan ‘n mens aangaan. Ons ken almal die koerantberigte van die afgelope tyd, hoe daar amper nie ‘n week verbygaan sonder dat daar berigte in die media is van teoloë wat die mees fundamentele waarhede van ons geloof bevraagteken nie. Hulle bevraagteken die maagdelike geboorte van Jesus, die wonderwerke van Jesus, Sy opstanding uit die dood, hulle bevraagteken selfs die historisiteit van Jesus. Dit skep in menselewens, die algemene kerkmens, geweldige insekuriteite. ‘n Mens kom net agter as jy kyk na die vrae wat mense vra, hoeveel insekuriteite is daar. So daar is baie insekuriteit, elke geloofsbaken word min of meer verskuif in hierdie dae, in elk geval deur sommige mense.

Spurgeon se antwoord wat hy destyds gegee het vir sy lidmate is baie betekenisvol en spreek van wysheid en rypheid. Hy het vir hulle gesê, wel, dis ‘n goeie vraag, maar dit kan ek vir julle sê: “As ek opstaan en deur die gange van die tyd terugstap, dan staan die een na die ander man en vrou van God op en skud my hand”. Wat hy daarmee gesê het is dat hulle, die boodskap wat hy verkondig, goedkeur. Toe noem hy ‘n hele rits van name deur die eeue wat verby is, van gerespekteerde geloofshelde van die verlede, mense wie se getuienis bly staan het, mense wie se werk bly staan het, mense wat gerespekteer is, selfs eeue nadat hulle gelewe het. Spurgeon het ook dikwels gesê in sy gemeente, die Metropolotin Tabernacle, dat hy geen ambisie het om iets nuuts te verkondig nie. Hy het ‘n kostelike gesegde gehad, wat so lui: “If it’s true, it’s not new, and if it’s new it’s not true”. Ek dink dis ‘n eenvoudige gesegde, maar dis baie belangrik. Spurgeon beroep hom dus op die waarheidskonsensus van die kerk deur die eeue. Hy beroep hom op die historiese Christelike geloof. Hy sê m.a.w. vir hulle, vra julle self af of julle hier by my ‘n nuwe evangelie hoor en of julle die ou-ou evangelie hoor. Spurgeon het geen ambisies gehad om sy eie teologiese wiel te ontwikkel nie, ten spyte van die feit dat hy geniaal intelligent en begaafd was. Hy was doodtevrede om dieselfde evangelie as die Puriteine en die Reformatore, die Kerkvaders en die martelare, die apostels en die Here Jesus self te verkondig. Dit was vir hom goed genoeg. Die rede daarvoor is natuurlik dat daar sekere dinge in die lewe is wat nooit verander nie. Ja, ons lewe in ‘n wêreld wat gedurig verander, dit is so, en veral natuurlik die tyd waarin ons lewe. Daar was al eeue voor Christus ‘n ou filosoof, ‘n Griekse filosoof wat gesê het jy kan nooit jou voet in dieselfde rivier steek nie. Dit was sy manier om te sê, wel, ‘n rivier bly nooit dieselfde nie. Twee minute later is dit nie meer dieselfde water nie. Twee minute later is die vlak van die water waarskynlik hoër of laer, of wat die geval mag wees. Alles verander voortdurend.

Daar is sekere dinge wat nooit verander nie. God verander nooit nie. Sy waarheid verander nooit nie. Die mens verander nooit ten diepste nie. Neem nou maar die mens, dink maar in term van sy morele ontwikkeling. Is dit nie ironies dat die twintigste eeue die meeste bloedvergieting van alle eeue gesien het nie? Daar was nooit ‘n eeu soos voor die twintigste eeu nie. Dit lyk dus vir ‘n mens asof die mens ten diepste moreel nie ontwikkel nie. Hy verander nie en daarom verander die verlossingsplan nie. Ons sonde en ons verlorenheid verander nie; daarom verander die kerk se roeping ten diepste hoegenaamd nie. Die kerk se roeping is om die verlossingsboodskap in Christus te verkondig.
Absolutes in ons geloof
Vryheid is een van die uitstaande kenmerke van die evangelie. Elke man, elke vrou wat werklik tot bekering gekom het sal getuig van die nuwe vryheid wat hy ervaar. Tog, is daar sekere ononderhandelbare absolutes waarsonder die kerk, waarsonder Christenskap en waarsonder prediking nie naastenby kan wees wat dit moet wees nie. Daar is sekere absolutes. Daar is ‘n duisend dinge in hierdie lewe en in hierdie wêreld wat vir die Christen en vir sy Bybel om’t ewe is, bv. die klere wat jy aantrek. Ons is genadiglik verby die punt waar ‘n mens dink jy behoort ‘n pak klere en ‘n das aan te hê wanneer daar gepraat word oor die dinge van die Here. Wat die Bybel betref is dit irrelevant. Waar jy bymekaar kom, is irrelevant. Daar is ‘n duisend dinge wat net eenvoudig nie saak maak nie. Tog is daar ook sekere waarhede, sekere norme, wat ons kompromieloos moet vashou. Prof. Murray Janson het nou onlangs, vir Dr. Piet Muller daarvan beskuldig dat hy Christus en die evangelie gelos het. Natuurlik was Murray Janson reg. Piet Muller het aanstoot geneem, baie ernstig aanstoot geneem, maar Murray Janson is sonder enige twyfel reg. Daar is geen manier wat ‘n mens jouself meer ‘n Christen kan noem as jy al hierdie dinge wat Dr. Piet Muller wil los, gelos het nie. Wat is daar in ‘n Christen uiteindelik as niks meer vas is nie. Dis die eerste stelling wat ek wil maak. Daar is absolutes in ons geloof. Daar is ‘n duisend dinge wat om’t ewe is, maar daar is sekere absolutes.
Sekere dinge is belangriker as ander dinge
Binne die groot spektrum van Bybeluitsprake is daar sekere dinge wat belangriker is as ander dinge. Die Bybel is gewoon nie oor alles ewe duidelik nie. Een voorbeeld is hoe ons die kerk presies moet orden, hoe ons ons eredienste moet orden. Daar is heelwat riglyne in die Skrif oor die kwessie van kerkregering, maar dis nie iets wat baie duidelik en bo alle twyfel vir ons vasgelê is nie. Daarom kan daar redelik vryheid wees wat dit betref. Aan die anderkant is daar sekere dinge in die Skrif wat met groot nadruk beklemtoon word, bv. God se verlossingsplan. Hoe Hy te werk gaan en wat Hy doen en deur wie Hy werk; wat dit betref kan daar nie die minste twyfel wees nie. Die Skrif is glashelder duidelik daaroor. Daar is geen ruimte vir willekeur nie en jy durf nie afwyk daarvan nie, tot so ‘n mate dat Paulus bv. vir die Galasieërs skryf dat as hulle hulle nog besny, of laat besny, dan het hulle die band met Christus verbreek. Wat daar in die Galasieërbrief aangaan is dat nadat die apostel daar was en die evangelie vir hulle verkondig het en hulle baie belowend begin het, kom die Judaïste daar aan en verkondig die boodskap dat, ja, Jesus Christus is nodig vir ons verlossing. Ja, ons moet in Hom glo, maar daar benewens moet ons ook die seremoniële wette van die Ou Testament handhaaf en veral die besnydenis. As ‘n mens nou deur die boek Galasieërs werk, veral daar in die eerste hoofstuk, dan roep Paulus die vloek van die Here oor hulle uit; die woord wat hy daar gebruik is die woord wat in die Ou Testament gebruik word vir die banvloek. Die banvloek was wanneer die Here God vir Sy volk opdrag gegee het om in ‘n stad in te gaan en voor die voet alles dood te maak. Man en muis, baba, vroue, ou mense; voor die voet. Dis die banvloek en dis die woord wat Paulus daar gebruik. Hy roep die banvloek oor sulke predikers uit. Hy sê, dat selfs al sou ‘n engel uit die hemel vir hulle ‘n ander evangelie verkondig moet hulle dit nie glo nie. Hulle verkondig natuurlik die evangelie van Christus, plus. In hulle geval Christus plus die besnydenis. Dan sê hy hier in hoofstuk vyf, as julle julle nog laat besny, bedoelende daarmee, as julle nog dink dat die besnydenis ‘n bydrae lewer tot julle redding, dat julle besnydenis deel is van die grond van julle redding, dan het julle julle band met Christus verbreek. Dan beteken Christus vir julle niks meer nie. Dan is julle op julle eie. Dan sê hy wel, dan is daar die enigste manier hoe julle gered kan word is dat julle die wet volmaak onderhou. As dit kom by die verlossingsplan van die Here en Christus se werk en Christus se eer, is daar nie ‘n millimeter ruimte vir kompromie nie. Dis ‘n absolute. Ander dinge weer, is daar ruimte voor, vir vryheid.

Daar is vir baie eeue reeds in die kerk ‘n wonderlike gesegde, wat vir myself al baie beteken het. Die gesegde is in Latyn, “in necessariis unitas, in non necesariis in dubiis liburtas in omnibus caritas”. Wat beteken dit? “In necessariis” beteken in daardie dinge wat noodsaaklik is moet daar “unitas” wees, dit is eenheid. In dinge wat noodsaaklik is moet daar eenheid wees. In “non necesariis”, dis die nie-noodsaaklik dinge, “in dubiis” is die twyfelagtige dinge of die onsekere dinge is daar “libertas”, dis vryheid, en “in omnibus”, dus in alles moet daar liefde wees. Hoor hoeveel wysheid sit hierin. Hier word gewerk met die “necessariis” en die “non necessariis”. Die noodsaaklike dinge en die nie-noodsaaklike dinge. In Engels “those things neccessary, those things not neccessary”. Daar word gewerk met ‘n onderskeid en daar word gesê in die noodsaaklike dinge eenheid. In nie-noodsaaklike dinge vryheid. In alles liefde. Daar is m.a.w. in die Bybel sekere dinge wat noodsaaklik is, daar is ander dinge wat nie-noodsaaklik is nie. Daar is sekere ding wat ons kan sê is absoluut vas in beton, daar is ander dinge waar die Skrif nie baie duidelik is nie en waar daar ook dus vryheid is.
Die Bybel se relevansie
Een van die merkwaardigste eienskappe van die evangelie is sy universele aanpasbaarheid in relevansie. Dit maak nie saak in watter eeu jy leef nie. Dit maak nie saak in watter kultuur jy leef nie, die evangelie is vir jou. Dis merkwaardig, as jy ‘n bietjie daaroor dink. Die kerk groei ewe goed in die groeibodem van ryk en arm, van geleerd en ongeleerd, van oud en jonk. Dit maak nie saak nie, die evangelie is vir almal. As jy na die kerk sou kyk, wel, selfs ‘n tipiese gemeente, as so ‘n gemeente gesond is dan kry jy daar bejaardes en jy kry jongmense. Jy kry rykes en jy kry armes, jy kry geleerdes en ongeleerdes, ‘n verskeidenheid van mense. Soveel te meer geld dit as jy na die kerk universeel kyk, wêreldwyd. Waarom is dit so? Wel, omdat die absolutes, die sogenaamde “necessariis”, die noodsaaklike dinge van die geloof universeel en tydloos is. Dit spreek eenvoudig die nood en die vrae van alle mense aan. Daarom is dit beperk tot daardie essensieële dinge.
Onderskei tussen noodsaaklike en nie-noodsaaklikes
Die evangelie is universeel relevant. Dit is baie noodsaaklik dat ons onderskei tussen die noodsaaklike dinge en die nie-noodsaaklike dinge. Soos dit nou maar gaan met fondamente lê die absolutes van ons geloof onder die oppervlak. Dit is nie altyd voor die handliggend nie. Onvolwasse Christene, jong Christene in daardie sin sukkel baie dikwels om te sien wat die absolutes is. Hulle weet nie altyd nie. Na jy tot bekering gekom het, gaan jy aanvanklik soos ‘n bul in ‘n blomtuin en jy het nie die nodige onderskeidingsvermoë nie. Jy het nie die nodige takt nie. Jy weet nie altyd wat is belangrik en wat is nie belangrik nie. Jy is geneig om wetties te wees. Jy is baie geneig om mense te veroordeel as hulle volgens jou standaarde nie op die merk is nie. As jy ouer word en ryper word in die Here, dan kom jy agter dat baie van hierdie goed is nie noodwendig onbelangrik nie, maar dis regtig sekondêr. In die proses doen ‘n mens baie skade. Het julle al gesien wat doen so ‘n ballon? Hy trek hier weg met ‘n spoed maar daar is geen rigting en daar is geen koers nie. Hy maak allerhande draaie en so aan, en dan is hy uit. Met die jare egter, kom daar darem so bietjie wysheid, ‘n bietjie onderskeidingsvermoë. Aan die ander kant kan ‘n mens sê tot die mate wat ek en jy in staat is om die noodsaakliike dinge van ons geloof, die absolutes van ons geloof te verstaan, te onderskei, en te formuleer, tot daardie mate is ons geestelik volwasse. Ek sê nie dis die enigste norm nie, maar dit is een van die norm. Soort soek soort. Die gemeente van Jesus Christus word gekenmerk deur verskeidenheid. Allerhande soorte. Jy kan jou eie vriende kies, maar jy kan nie jou broers en susters in die gemeente kies nie. Dit is vir ons van die allergrootste belang dat Jesus Christus die hoof is van die gemeente en dit is dus Sy prerogatief om by hierdie gemeente te voeg wie Hy wil. Die gemeente van die Here word gekenmerk deur ‘n uiteenlopende verskeidenheid. So verheerlik Hy Homself. Tot die mate wat ‘n gemeente dus in staat is en ons as individuele lidmate of Christene in staat is om te onderskei tussen die noodsaaklike en die nie-noodsaaklike, tot daardie mate sal daar ook harmonie tussen ons wees. Tot daardie mate sal ons gemeenskap beleef. Dit is ‘n voorvereiste vir ons harmonie in ons gemeenskap dat ons sal kan onderskei. Dit is absoluut nodig dat die hoekpenne van ons geloof presies in plek vasbeton sal wees, in ons gemoedere, in ons oortuigings, sonder vaste “benchmarks” kan ons eenvoudig nie die etiek van ons dag beoordeel nie, die praktyke van ons dag, wat is reg, wat is verkeerd. Wat is ‘n “benchmark”? As ‘n mens argumentshalwe ‘n groot dam bou, dan is een van die eerste dinge wat jy doen jy beton penne vas in die berg weerskante van die rivier op rotsbanke of rotse wat nie sal skuif nie. Dit is jou vaste punte.

Jare gelede was ek die plaaslike ingenieur van die Pongola Poort dam, Noord-Zululand en ons was op ‘n stadium bekommerd omdat ons diep onder die fondasies ‘n breuk of twee gekry het wat ons nie van bewus was tydens die ontwerp nie. Ons was dus ‘n bietjie bang dat die enorme groot damwal en van die grootste damme in die land, dalk kan skuif. Daarom het ons op ‘n gereelde basis die mees akkurate opmetingsinstrumente wat ons gehad het opgestel op hierdie “benchmarks” en hierdie dam vanuit verskillende hoeke gemeet om seker te maak daar is nie ‘n verskuiwing nie en ons sou ‘n verskuiwing van ‘n millimeter of twee onmiddellik kon optel. Gelukkig was daar geen verskuiwings nie, maar dis absoluut noodsaaklik dat daardie “benchmarks”, daardie bakens, mag nie skuif nie. Hulle is in plek. So moet daar wat ons geloof betref sekere “benchmarks” in plek wees. Sonder die onbeweeglike ankers van universele absolute en objektiewe waarheid is ons soos kurkproppe op die see van duisende menslike opinies.
Algemeen
Dit is ongelukkig so dat dekades se ryswaterpredikings, veral onder ons Afrikaners, meegebring het dat die deursnee kerklidmaat in ons dag nie in staat is om te onderskei tussen die absolutes en dit wat sekondêr is nie. Tussen die noodsaaklike dinge en die nie-noodsaaklike nie. Dit maak van die modern kerkmens dus dat hy eenvoudig nie die tydsgees van post-modernisme kan weerstaan nie. Wat is post-modernisme? Dit is basiese filosofie van relatiwisme, alles is relatief, niks is vas nie. As dit vir jou reg is dan is dit reg, maar vir my is dit nie reg nie. Uiteindelik is elkeen vir homself ‘n wet.

Dit is baie belangrik dat ons hierdie noodsaaklike dinge kan formuleer. Hoewel dit vandag uiters noodsaaklik is was dit deur die eeue al noodsaaklik en daarom het die kerk deur die eeue gepoog om die noodsaaklike dinge, die “necessariis”, onder woorde te bring, te definieer en te onderskei van die “non necessariis”. Een van die dinge wat dit noodsaaklik gemaak het was die behoefte om te onderskei tussen regsinnigheid en kettery, ens. Die neerslag daarvan vind ons in die groot belydenisskrifte van die kerk deur die eeue. Ons leef in ‘n tyd waar mense nie veel respek het vir die belydenisskrifte nie. As ‘n mens verstaan hoekom dit ontstaan het dan begin jy meer waardeering daarvoor hê. Dit was gewoon ‘n poging van die kerk deur die eeue om daardie dinge wat noodsaaklik is akkuraat en korrek te formuleer en dit in die hande van lidmate te gee en te sê, hier is die noodsaaklike dinge. Natuurlik is dit altyd feilbaar. Dit moet getoets word aan die Woord. Die Woord alleen is die “benchmark”, as ek dit so kan uitdruk. Nou sê mense, ja maar is dit nie nou juis die rede vir verskeurdheid in die kerk nie, want hierdie belydenisskrifte verskil so van mekaar. Dis nie waar nie, dis onkunde. As jy die groot belydenisskrifte van, kom ons sê nou maar, die Protestantse kerk met mekaar vergelyk, dan kom jy agter dat hul ongeveer 95% ooreenstem. Jy kan selfs uiteenlopende kerklike tradisies se belydenisskrifte neem soos die Anglikane se Thirty-nine Articles, en die Baptiste se 1689 Baptist Confession met mekaar vergelyk en jy sal sien dit stem 95% ooreen. Dit verskil eintlik net wat kerkbeskouing betref en wat die doop betref. Wat die res betref stem dit saam. Daarom sê dit vir ons dat die kerk dus deur die eeue tog die waarheid dieselfde verstaan het. Dit maak nie saak watter denominasie nie, maar diegene wat ernstig met die Woord omgegaan het, het tot dieselfde slotsom gekom vir alle praktiese doeleindes. Hierin sit dus vir ons geweldige sekuriteit en troos. Hulle het werklik hulself probeer beperk tot die absolutes.

Dis baie nuttig om die essensiële of die noodsaaklike van ons geloof in ‘n neutedop te formuleer. Die vraag is, hoe kernagtig kan ons dit stel. Die belydenisskrifte, die Drie Formuliere van Enigheid, die 1689 Baptiste belydenis, die Westminister Confession, die Sevoy Confession ens. is in ‘n sekere sin die mees kernagtige waarin jy dit kan stel. Daar is tog sekere kort formules wat ons maklik kan onthou en wat geweldig baie kan help.

Die belangrikste en die omvangrykste en die bekendste daarvan is die vyf wekroepe van die 16de eeuse Reformasie. “Sola Etota Scriptura”, is meer bekend as sommer net “Sola Scriptura”. Die tweede een is “Sola Gratia”. Die derde een is “Sola Christus”. Die vierde een is “Sola Fide”. Die vyfde een is “Soli Deo Gloria”. Sola beteken alleen. Of as hy sê “Sola Etota dan beteken die Skrif alleen, maar die hele Skrif, die totale Skrif. Dis ons norm. Die tweede is “Sola Gratia”. Dit beteken alle redding is God se genade. Dis genade alleen. “Sola Christus” beteken daar is geen redding anders as deur Christus alleen nie. “Sola Fide” beteken deur die geloof alleen. “Sola Deo Gloria” beteken die eer van God alleen. Nou sal julle sê, ons ken dit. Dit is tog sekerlik orals so. As ‘n mens die implikasies hiervan verstaan dan kom jy agter dat daar groot dele van die kerk van die Here vandag is waar hierdie uitsprake, hierdie wekroepe geweld aangedoen word. Ek dink werklik dat hier in hierdie vyf Sola’s ons vyf hoekpenne het vir ons geloof.

Wat ook nuttig is om te onthou, is dat ons word gered uit genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen. Let op hierdie alleen. Dis kardinaal belangrik. Deur die geloof alleen. Dit stem ooreen met die vorige een. Dan gaan dit verder. Tot goeie werke en daarom volgens goeie werke. Wanneer die Here God reddend in ‘n persoon ingryp dan gaan dit altyd gepaard met die wedergeboorte, die innerlike hartsverandering en dit kan nie anders as om tot uitdrukking te kom in goeie werke, gehoorsaamheid, liefde, ens. nie. Uiteindelik sal julle weet dat die Skrif op talle plekke vir ons beklemtoon dat ons gaan geoordeel word volgens die werke. Ons word gered tot goeie werke en daarom uiteindelik volgens goeie werke. Ons geloof moet Woordgefundeerd, Godgesentreerd, Christusgefokus wees.
Slotgedagtes
Een van die kosbaarste lesse wat individuele Christene maar kan leer en wat gemeentes ook moet leer is die Engelse uitspraak wat vir my baie beteken. “Major in God’s majors, not in His minors”. M.a.w. konsentreer in jou geloof, in jou praktyk op daardie dinge wat beklemtoon word in die Skrif. Tot die mate wat ons besig is met sekondêre sake, tot daardie mate verspil ons ons tyd. Tot daardie mate is ons nie besig waarmee ons moet besig wees nie. Tot daardie mate sal ons dienswerk nie bly staan nie. Tot daardie mate sal dit opgaan in vlamme. Julle ken mos 1 Kor. 3 waar die apostel sê: “Ons moet versigtig wees hoe ons bou; met kaf, hooi en stoppels, dit sal verbrand. Ons moet bou met goud en silwer en kosbare stene, dit sal bly staan. So ‘n persoon sal gered word, maar sy werke sal vergaan. Dit het baie dikwels daarmee te doen dat ‘n mens besig is met sekondêre sake. Jy konsentreer nie op die dinge wat absoluut noodsaaklik is nie. Tot die mate wat die gemeente ook besig is met sekondêre sake, tot daardie mate sal daar twis ontstaan. Omgekeerd, tot die mate wat ‘n gemeente konsentreer op daardie dinge wat absoluut noodsaaklik is, sal dit goed gaan in so gemeente. Veral predikers moet hierop let. Dis baie belangrik dat ons in ons prediking Woorgefundeerd, Godgesentreerd, Jesusgefokus sal preek as ons die seën van die Here wil hê op ons prediking. Baie dikwels sal predikers konsentreer op stories. Stories mag mense vermaak. Mensgesentreerde sentimentaliteit mag mense tot trane beweeg. Sambokprediking mag mense verskrik laat. Uiteindelik is dit net Christus-prediking wat mense bekeer en wat mense opbou in die allerheiligste geloof. Uiteraard, niks of niemand is meer sentraal, meer fundamenteel in die Skrif as Jesus Christus nie. Is dit nie so nie dat Jan Alleman, dis die man op die straat, assosieër die begrip om te preek met moets en moenies. Ek bedoel, as my vrou my die liviete voorskryf, dan sê ek vir haar, “Moenie vir my preek nie”. Daarmee bedoel ek eintlik dat sy nie vir my moet sê wat ek moet doen en wat ek nie moet doen nie. Sulke mense dink dus aan prediking in moralistiese terme. ‘n Groot persentasie van mense in die kerk, selfs in die kerk as jy praat van prediking, dink hulle in terme van moets en moenies, raak-nie-smaak-nie. Ons leer ons kinders so. ’n Kindjie van Jesus maak nie so, of sê nie so nie. So maak ons van ons kinders van kleins af klein Farisieërs. Hulle dink dat as jy reg lewe en sekere dinge doen en ander dinge nalaat dan is jy ‘n Christen. Dis nie waar nie. Onderwysers is baie skuldig hieraan. Dis allesbehalwe wat die Nuwe Testament verstaan onder die begrip prediking. Wat is die Nuwe Testament se idee? Prediking volgens die Skrif is om die groot dade van God te proklameer vir al Sy groot verlossingswerk in Christus. Dis prediking, dis proklameering. Daar is ‘n stuk of tien, twaalf Griekse begrippe in die Nuwe Testament wat gebruik word vir prediking. Dis die aksent. Daarom sê die apostel in 1 Kor. 2:2: “Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus en wel oor Hom as die gekruisigde”. Aan die Galasieëers sê hy daar in hoofstuk 3:1 dat hy: “Jesus Christus voor hulle oë afgeskilder het.” Dis die Ou Vertaling; dis ‘n letterlike vertaling van die Grieks daar. Hy het Jesus Christus voor hulle oë afgeskilder sodat hulle Hom as’t ware aan die kruis kon sien hang. Daarmee sê hy, “toe ek by julle was, Galasieërs, wat het ek gepreek, wie het ek gepreek, ek het Christus gepreek”. Ek het hom so oor en oor gepreek, ek het Hom so van elke hoek en kant af gepreek dat julle naderhand hom as’t ware kon sien voor julle oë as die gekruisigde.

Dit is interessant dat Spurgeon toe hulle die Metropolotin Tabernacle, dit is die groot kerkgebou in London wat gebou is om die groot skare mense wat na hom kom luister het te akkommodeer, die eerste keer in gebruik geneem het het hy dit gesê (dit was die eerste woorde wat hy daar gesê het in die Metropolitin Tabernacle): “Mag die tema van die prediking in hierdie gebou altyd die persoon van Jesus Christus wees”. Hy het ook gesê,” Ek is nooit skaam om te sê dat ek ‘n Calvinis is nie, ek maak geen geheim daarvan dat ek ‘n Baptis is nie, maar as iemand my vra wat my diepste geloofoortuiging is kan ek net een antwoord gee, Jesus Christus en Hy alleen.

Francis Shaeffer het in die vorige eeu sendingwerk gedoen in Europa, besonderlik in Switzerland en op ‘n plekkie gebly naby Genéve. Hy was ‘n baie besondere man gewees. Hy vertel dat daar hoog in die berge bokant sy huis ‘n rotsrif geloop het, maar in die winter as dit baie gesneeu het daar bo in die berg dan het hierdie hele rotsrif toegesneeu en het die sneeu aanmekaar gelê en dit het die indruk gelaat dat dit daar op ‘n plat stuk grond lê. Dit is een stuk sneeu, dis aaneenlopend, dis ononderbroke. Die eenheid daarvan is eintlik net ‘n illusie gewees. Sekerlik vandag nog so, want hierdie rotsrif was ‘n waterskeiding gewees. Dit beteken dat as dit lente word en die sneeu smelt dan sal een deel van die sneeu aan die een kant van die waterskeiding afloop en ‘n ander deel van die sneeu wat miskien ‘n kwessie van ‘n half meter daarvan af gelê het sal aan die anderkant afloop. Nou wat interessant is, weerskante was daar diep klowe en diep valleie gewees en die een kant se vallei was deel van die opvanggebied van die Rynrivier. Die water wat daar afgeloop het en in daardie kloof beland het, het uiteindelik in die Rynrivier beland en uiteindelik in die koue waters van die Noordsee ingevloei. Sneeu wat net halfmeter daarvan af gesmelt het, het aan die ander kant afgeloop en in die meer van Genéve beland, uiteindelik in die Rhonenrivier en uiteindlik in die warm waters van die Middelandse See beland, ‘n duisend myl van die monding van die Ryn af. Op ‘n plaas net duskant Harrysmith, ook daar in die Drakensberg is daar net so ‘n waterskeiding. Daar loop die water af na die eenkant na die opvanggebied van die Vaalrivier, beland uiteindelik in die Vaaldam, die Vaalrivier loop af in die Oranjerivier en uiteindelik in die koue waters van die Benguelastroom. Die Oranjerivier mond uit by Oranjamund. Net ‘n halfmeter verder loop die water af in die opvanggebied van die Tugelarivier en dit beland uiteindelik in die warm Indiese Oseaan; duisende kilometers uitmekaar uit. Wat Francis Schaeffer gesê het is dat ‘n waterskeiding is iets wat sny, dit verdeel, dit bepaal bestemmings. Waterskeidings is lotsbepalend. Dan gaan Schaeffer voort om aan te toon dat die kerk se Skrifbeskouing so ‘n waterskeiding is. Hoe jy die Bybel sien, wat jy verstaan onder die begrip “Die Woord van God”, dit is lotsbepalend. Dit wat jy daaroor glo, dit bepaal hoe jy sal leef en wat jou waardes sal wees en waarheen jy op pad is.

As dit geld vir die absolutes van die Skrifbeskouing dan geld dit ook vir die absolutes in die res van ons geloof. Die waarheid van die Here is ‘n waarheid in balans, dis ‘n waarheid in ewewig, dis ‘n waarheid in ekwilibrium en dis ‘n baie sensitiewe balans. Jy hoef dit net effens te versteur dan kantel dit. So is dit as ‘n mens die hoekpenne van ons geloof net ‘n halftree verskuif. As ‘n mens die “benchmarks” net effens versteur, dan vind daar kantelinge plaas wat die lewens en bestemming van tallelose mense ingrypend kan raak, veral as die kerk dit doen. Dit is absoluut noodsaaklik vir een en elke gelowige in hierdie dae vir jouself uit te maak wat die absolutes is van jou geloof as jy wil onderskei, want ‘n mens kan net eenvoudig nie meer ‘n prediker sonder meer vertrou nie. Jy moet weet wat jy glo, jy moet dit uitsorteer, jy moet dit definieer. Wat baie belangrik is, daar rus ‘n enorme verantwoordelikheid op ons, want die kerk wat ons kinders en kleinkinders op die ewigheidspaaie moet lei word vandag gevorm. Hoe ek en jy vandag gaan glo en wat ons gaan verkondig en waarop ons gaan staan dit bepaal die kerk van môre en oormôre.

– – – o0o – – –

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *