Die vrou se verantwoordelikheid in die huwelik – Deel 1

Skrywer: Nico van der Walt
Preek transkripsie:  Die vrou se antwoordelikheid in die huwelik. Deel 1.
uit reeks: Man en vrou in die gemeente van die Here

Lees Deel II hier: Deel II

Skriflesing: Efesiërs 5v21-24 (Nuwe Vertaling) “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is. Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, Sy kerk. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees.”
Kol 3v18 “Vrouens, wees aan julle mans onderdanig soos dit pas by mense wat in die Here glo.” Titus 2v4-5 “..sodat hulle die jonger vrouens kan leer om liefdevol teenoor hulle mans en kinders te wees, verstandig en kuis, goeie huisvrouens, onderdanig aan hulle mans. Dan sal die Woord van God nie in diskrediet kom nie.”
1 Pet 3v1-6 “Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar van julle is met mans wat nie die Woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om ‘n woord te sê nie. Julle skoonheid moet nie bestaan in uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en sierlike klere nie. Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het by God groot waarde. In die oud dae het die gelowige vrouens wat op God gehoop het, hulle ook so versier: hulle was aan hulle mans onderdanig. Sara, byvoorbeeld, was aan Abraham gehoorsaam en het met eerbied na hom verwys. As julle doen wat goed is en julle nie deur dreigemente laat afskrik nie, is julle haar dogters.”

Die vrou se verantwoordelikheid in die huwelik:
Julle sal onthou ons het tyd gewy in die vorige sessies aan die fundamentele beginsels van die huwelik en die verhouding tussen die man en vrou. Ons het gewerk veral vanuit Genesis 3 en ons het gekyk na die man se verantwoordelikheid in die huwelik. In die volgende sessie wil ek kyk na die vrou se verantwoordelikheid in die huwelik.
Eers wil ek net fundamentele waarhede in plek sit. Kom ek stel dit so, as ons God se ordes ken, tot daardie mate, ken ons God. Beter gestel, hoe meer ons God se ordes verstaan, hoe meer groei ons in ons Godskennis. Dit is ons heel hoogste roeping, om God te ken. Daarom moet ons, as ons na hierdie baie praktiese dinge soos hierdie gaan kyk, verstaan dat namate ons die ordes van die Here verstaan, ook vir die huwelik, tot daardie mate, leer ons ook God ken. Die mans skakel dus nie af, as die Woord primêr gerig is op die vroue nie, net so min skakel die vroue afl as die Woord primêr gerig is op die mans. Dit is dus ook uiters relevant vir die mans. Dit gaan ook daaroor dat ons ons huwelike sal verstaan, dat ons sal verstaan hoe dit werk en dit help ons ook om te groei in ons Godskennis.

As ons praat oor die vrou se onderwerping aan die man, dan is die onderwerping voorop en nie die man se gesag nie. Die aksent lê dus daarop, dat die vrouens dit sal doen en die aksent lê nie op die man se gesag wat hy kan afdwing nie. Ons sal nou sien hoekom. Dis m.a.w. ‘n verantwoordelikheid van die vrou, tot ‘n baie groot mate en nie vir die man om die vrou gedurig daaraan te herinner, “jy moet doen dit, jy moet doen dat” nie. Die man het genoeg om hom besig te hou, ook in die huwelik.

Die onderwerpingsopdragte, vir die vrou, in die Nuwe Testament, is gebou op die gelykwaardigheid tussen die man en die vrou. Hoekom sê ek so? Kom ons kyk weer na Ef. 5. Efesiers 5 het ‘n baie ineengeweefde struktuur en argumentasielyn, wat ons moet volg, in die besonder, hier van vers 17 af. In die Ou Vertaling eindig vers 17 “verstaan wat die wil van die Here is.” Die NIV sê, “but understand what the Lord’s will is.” Verstaan wat die wil van God is. Wat is dit? “Moenie dronk word van wyn nie, maar word vervul met die Heilige Gees”. Hier is die fundamentêle opdrag. Die Grieks wil daar beklemtoon dat dis ‘n voortdurende handeling, ‘n lewe onder die heerskappy van die Heilige Gees is. Hoe? Dan word vers 18 gevolg deur vyf teenwoordige deelwoorde, wat ons as volg sou kon vertaal. Word vervul met die Heilige Gees, hou aan om onder die heerskappy van die Gees te lewe, vers 19, spekende onder mekaar met lofsange (hier is die eerste teenwoordige deelwoord) en geestelike liedere en singende (die tweede teenswoordige deelwoord) en Psalmsingende (die derde een) in julle hart tot God, terwyl julle God die Vader altyd vir alles (hier is die vierde een), dankende is, in die Naam van ons Here Jesus Christus. Hierdie teenwoordige deelwoorde is m.a.w. nou ‘n uitdrukking van hoe ‘n geesvervulde lewe lyk. Hy het nou beklemtoon dat ons hele lewe deurgaans onder die heerskappy van die Heilige Gees moet wees.
Hoe kom dit tot uitdrukking? Dit kom daarin tot uitdrukking dat ons sprekende, singende, psalmsingende, dankende en dan nou die vyfde een, v21, en wesende aan mekaar onderdanig in die vrese van God. U sien dus, dat hierdie wesende aan mekaar onderdanig, is ‘n uitdrukking van die volheid van die Heilige Gees. Dis dus baie duidelik, dat as die Heilige Gees heers in ‘n lewe, dan lyk ‘n lewe so. Ons moet dan ook die werk en die innerlike aandrange van die Heilige Gees in ons binneste, op hierdie vyf maniere kanaliseer. Daar is seker meer maniere, maar hierdie vyf maniere dan ten minste. Dit kom hierop neer, dat as jy die aandrange van die Heilige Gees in jou binneste ervaar, dat jy uitdrukking daaraan sal gee, in lofprysing en aanbidding, in sang, in danksegging en in onderdanigheid aan mekaar.
In ‘n sin moet die man dus ook aan die vrou onderdanig wees. Dan gaan Paulus aan na vers 22. Moet julle nie veel steur aan hierdie opskrif in die Nuwe Vertaling, of Ou vertaling nie. Paulus het nie daardie opskrifte ingesit nie, dis die vertalers wat dit ingesit het en dit lyk nie vir my hulle het baie goeie eksegese gedoen nie. Vers 22 het nie ‘n werkwoord nie, dit voorveronderstel vers 21 se werkwoord, nl. die teenwoordige deelwoord. Dit moet dan so lees, vers 21a, wesende aan mekaar onderdanig, vroue aan julle eie mans. Bedoelende ons moet aan mekaar onderdanig wees, maar kom ek gee vir julle ‘n voorbeeld. Vrouens, as ‘n voorbeeld, julle onderdanigheid aan jul mans moet so lyk. Dan beskryf hy dit. Dan gaan hy net daar verder, in vers 25a en sê hy, goed, ek het nou vir julle gesê hoe lyk dit in die vroue se lewens, kom ons kyk nou hoe lyk dit in die mans se lewens. Mans in julle lewe lyk hierdie wedersydse onderdanigheid so, julle moet julle eie vroue liefhê. In hoofstuk 6v1a, vir die kinders, vir julle lyk dit nou weer so, “Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees. Hoofstuk 6v4, Pa’s, vir julle lyk dit nou weer so, “En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” . Vers 5a, dié van julle wat werknemers is, vir julle lyk dit nou weer so, by die werk, “Diensknegte, wees gehoorsaam aan jul here na die vlees”. Vers 9a dié van jul wat werkgewers is, vir julle lyk dit nou weer so, “En here, doen dieselfde teenoor hulle en laat staan die dreigemente”.
So kom die volheid van die Heilige Gees tot uitdrukking in wedersydse onderlinge onderdanigheid. Dit kom in vrouens se lewens op een manier tot uitdrukking, mans se lewens in die huwelik op ‘n ander manier tot uitdrukking, kinders, ouers, base en werknemers so. Dis alles ‘n ineengedronge eenheid. Dis hoekom ek sê hierdie onderwerpingsopdragte is gebou op gelykwaardigheid, ons moet aan mekaar onderdanig wees. Dis m.a.w. so dat die vrou se onderdanigheid kom op een manier tot uitdrukking en ‘n man s’n op ‘n ander manier.

Het julle opgelet dat die apostel Paulus skryf hier, vroue wees aan julle eie mans onderdanig. Baie keer het ons as mans die mentaliteit, as ‘n vrou jou enigsins op jou plek sit, dan is jy gesteurd. Wie is sy? Sy’s ‘n vrou? Hierdie vrouens, ha… Nee, die enigste vrou wat my net nie sommer so op my plek moet sit nie, is my vrou, Soniah.

Wat beteken hierdie begrip onderdanigheid?

Dis baie belangrik dat ons dit begryp. Baie vrouens, as hulle hierdie woord onderdanigheid hoor, dan staan hulle hare regop. Dit is die Griekse woord hipotaso. Dis ‘n saamgestelde woord, voorvoegsel en die werkwoord taso. Taso beteken om iets neer te sit, om iets te orden, om iets te rangskik. Dis maar nie sommer iets neergooi nie. Dis om iets versigtig neer te sit. Dis die hele gedagte. Dit word bv. in Grieks gebruik vir die opstel van ‘n peleton. Sommige van julle wat in die weermag gewees het, sal weet, hoe stel ‘n mens ‘n peleton op. Presies ewe ver uit mekaar uit. Die woord wil ook beklemtoon dat daar sit ‘n vrywilligheid daarin. Daar is ‘n voorvoegsel. Nou ‘n voorvoegsel in die Grieks het dikwels die funksie om die begrip te intensifiseer. Hierdie voorvoegsel beteken onder. Dan is die hele gedagte dat ons, onsself versigtig onder die ander een sal inplaas, volgens God se ordes. Dat die vrou, wel nie net die vrou nie, ons moet aan mekaar onderdanig wees.
Dit lei dus tot ‘n definisie. Hierdie onderdanigheid is ‘n hartsgesindheid wat lei tot blymoedige selfaflegging ter wille van iemand en vrywillige diensbaarheid aan hom of haar. Dan sal ons kan verder gaan, in die lig van die res van die Skrif, in die navolging van Christus en in die krag wat die Heilige Gees verleen. Hierdie onderdanigheid wat hier ter sprake is, is ‘n hartsgesindheid. Dis ‘n hartsgesindheid wat lei tot blymoedige selfaflegging, want dit is vir die Here en dis in die volheid van die Heilige Gees. Die Gees werk in ons binneste, in ons harte, dis tog hoe Hy werk. Dit vat jou nie aan jou nekvel en druk jou in ‘n ding waarin jy nie wil wees nie. Nee, Hy werk in jou hart, en as Hy in jou hart werk, beteken dit jy wil met jou hele hart dit doen. So dis ‘n hartsgesindheid wat lei tot blymoedige selfaflegging, ter wille van iemand en vrywillige diensbaarheid aan hom of haar in die navolging van Christus en in die krag wat die Heilige Gees verleen. Dis die definisie van hierdie onderdanigheid. So vrouens julle kan maar julle hare laat platlê. Die mans het hierdie opdrag net so veel soos julle. Maar soos hulle in Engels sê, ‘’having said this’’, nou kom ons by die spesifieke opdrag wat die Here aan die vrou gee. Hoe haar onderdanigheid tot uitdrukking kom en die mans gaan aan die beurt kom.

Die gesindheid en die motief van die vrou
Kom ons praat nou oor die gesindheid en die motief van die vrou. Dis baie interessant hoedat Efesiërs, as dit die opdrag gee van die vrou se onderdanigheid aan die man, in aggenome hoe onderdanigheid so pas gedefinieer is, haar geesvervulde diensbaarheid aan die man tot uitdrukking moet kom, sê, soos aan die Here. Kolossense sê, soos betaamlik in die Here. Titus sê, sodat die Woord van die Here nie belaster word nie. Dit is die motivering. Dit is vrouens, waarom julle jul onderdanigheid moet betoon, soos aan die Here, soos betaamlik aan die Here, sodat die Woord van God nie belaster word nie. Is jy ‘n dissipel van die Here, het jy ‘n hartstog vir Sy eer? Het jy ‘n hartstog om Hom te behaag? Hier is ‘n uitnemende manier waarop jy dit kan doen, volgens die Nuwe Testament. M.a.w. jy doen dit van harte soos vir die Here en ter wille van die Here. Daarom ‘n Christenvrou wat in opstand is in haar huwelik, ‘n Christenvrou wat niks van hierdie goed wil weet nie, is ‘n vrou wat uit die ordes van die Here is en sy bring die Naam van die Here in oneer. Sy is ongehoorsaam. Let op, jy doen dit m.a.w. nie primêr ter wille van jouself nie, of jy doen dit ook nie primêr ter wille van die man nie. Nee, jy doen dit primêr en ten diepste ter wille van die Here. Julle sal nou verstaan, die oomblik as jy dit so benader, dan lig dit hierdie kwessie uit bokant die kontroversiële vlak. Hoeveel toutrekkery en hoeveel stoom onder deksels, is daar nie oor hierdie saak nie, veral in ons dag, waar daar so baie gepraat word oor vroueregte en feminisme. Die mense wat hiermee besig is, veral die teoloë, sê maar net per implikasie daarmee, dat hulle nie verstaan wat in die Nuwe Testament daaroor leer nie.

As ek deur hierdie dinge dink, het dit my net weer getref hoe onbeskryflike die wysheid van die Here God is en hoe Sy Gees die apostels verlig het, sodat hulle hierdie goed so fyn sensitief en gebalanseerd kon neersit. Broers en susters, as ons in die ordes van die Here leef, kan ons nie verkeerd gaan nie. Die Skrif gaan verder en motiveer hierdie hele kwessie vanuit twee hoeke. In die eerste instansie, vanuit die hoek van die skepping en in die tweede instansie, vanuit die hoek van die herskepping. Kom ons praat dus in die eerste instansie, vanuit die hoek van die skepping. Ons vind in Genesis 2 ‘n bepaalde skeppingsorde. God het Adam eerste gemaak en toe het Hy Eva gemaak. Hy het Eva uit die ribbebeen van die man gemaak. Eers die man en dan die vrou. Paulus bou sy hele argument, oor die gesag van die man en die onderdanigheid van die vrou, soos wat ons dit reeds gedefinieer het, hierop. Moenie jou blindstaar teen jou persepsies van wat hierdie woord beteken nie. Dink Bybels. Paulus bou sy hele argument oor die gesag van die man en die onderdanigheid van die vrou, op die feit dat dit ‘n skeppingsverordening is. Daar is ‘n aantal skeppingsverordeninge in die Skrif, waaroor ons nie nou almal kan praat nie. Die oomblik as ons hierdie skeppingsverordeninge geweld aandoen, dan is ons nie net op ‘n verkeerde pad nie, maar dan is ons op ‘n selfvernietigingspad. Daar is geen twyfel daaroor nie. Dit geld vir die individu, dit geld vir die huwelik, dit geld vir ‘n volk, ‘n kultuur en ‘n samelewing. Dis ‘n selfvernietingspad.

As ons nou na 1 Korinthiers 11v8 en 9 kyk, sê die Ou Vertaling, “want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou is uit die man, want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man.” Paulus werk hiermee dat daar is ‘n bepaalde skeppingsorde, van die begin af. Dit is dus ‘n skeppingsverordening. Die man is eerste en dan kom die vrou. 1 Korinthiers 11v3 (Ou Vertaling), wat ons ook op ‘n vorige keer na gekyk het, sê, “maar ek wil hê julle moet weet dat Christus die Hoof is van elke man, en die man die hoof is van die vrou en God die Hoof van Christus.” Net so min as dit vir Christus ‘n vernedering is, om Hom te onderwerp aan Sy Vader, net so min behoort dit vir ‘n Christenvrou ‘n vernedering of ‘n probleem te wees om haar in die ordes van die Here en volgens Sy definisies, te onderwerp aan haar man. Aan Timotheus skryf Paulus, dat die vrou is na die man geskape. In Korinthiërs sê hy sy is uit die man geskape en sy is ter wille van die man geskape. Kom ons kyk na 1 Tim 2v11-14. “Die vrou moet haar in stilte laat leer, in alle onderdanigheid, ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou, want Adam is eerste gemaak en daarna Eva”. Hy beroep hom weer op die skeppingsorde. Waarom is dit so? Dis omdat die man aangestel is as rentmeester van hierdie aarde, hy is ook aanstel as rentmeester van sy gesin. Het julle al agtergekom, in die Bybel, wie het eerste gesondig? Adam of Eva? Eva het eerste geeët, maar as jy die res van die Bybel lees, bv. Romeine 5, wie kry die skuld? Adam. Deurgaans kry Adam die skuld. Hoekom? Adam was die verantwoordelike persoon. Hy was die aanspreeklike persoon, Adam was die gesagsdraer daar. Dis baie belangrik om dit raak te sien. Die man is aanspreeklik, want Adam was aanspreeklik. Die man dra dus die sware las van gesag, maar ook van aanspreeklikheid vir sy huwelik en sy gesin, ten minste, voor die Here. Dit, mans, is ‘n skrikwekkende verantwoordelikheid. Ek en jy gaan verantwoording doen voor die Here van wat in ons huise aangaan. Nie primêr ons vroue nie. Ek sê dis ‘n skrikwekkende verantwoordelikheid.

Die Bybel hou dus die vrou voor, as die man se helper, as die kompliment om hom by te staan. Kom ek verduidelik iets daarvan. In Genesis 2v18 sê God “Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas”. Hierdie woordjie hulp in Hebreeus beteken sy is sy helper, langs hom, sy is sy assistent, sy pas by hom. Dit staan eintlik in die begrip, wat by hom pas, sy rond hom af, as’t ware.
Ek noem ‘n voorbeeld wat net in strokiesprentjies kan gebeur. As jy nou ‘n eier in twee sou kon breek en hier is die twee halwe eierdoppe en jy sou hul weer presies op mekaar kan laat pas, dan is elkeen van hierdie eierdoppe ‘n halwe dop, maar die oomblik as jy hul bymekaar sit komplimenteer hulle mekaar, hulle rond mekaar af, sodat jy ‘n geheel eier weer kry. D.w.s. die vrou maak van die man ‘n meerdere person, as wat hy sonder haar sou wees. Uiteraard die man ook die vrou. Daar is ‘n beginsel, die geheel is meer as die som van die deler. Ons kan baie meer saam doen, as wat elkeen individueel kan doen. Dit geld ook vir die huwelik.
As Petrus sê die vrou is die swakkere geslag, wil hy haar nie beledig nie, dis net ‘n feit van die lewe. Sy is fisies swakker, maar in elk geval verskil ons van mekaar, is dit nie? Soos hulle sê, “what a glorious difference.” In hierdie sin is die vrou die swakkere, weliswaar die skonere en die mooiere. Die man vind homself deur ‘n man te wees en die vrou vind haarself deur ‘n vrou te wees. Julle sal weet hoe mans en vrouens verskil, mans is as ‘n reël op hulle beroepe gerig en vrouens is op hul gesinne en kinders gerig en op hulle mans. Die Bybel sê, “Na jou man sal jou begeerte wees.”
(Word vervolg)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *