Die huwelik – die historiese Christelike geloofsiening

Hier volg die vervolg van die transkripsie van die preek van Nico van der Walt, oor die beeld van God in die verhouding tussen man en vrou in die huwelik.
Skrywer: Nico van der Walt
Wat ek hier voorhou is nie my eie teologiese wieletjie nie, dit is die historiese Christelike geloof wat deur van die grootste manne en vroue van God deur die eeue en die diepste denkers as sodanig verstaan is en ons loop dus in pas met die historiese Christelike geloof.
Kom ons kyk nou na God se beeld in ons geslagtelikheid. Ons weet almal baie goed dat die lewende God wat homself geopenbaar het in Christus en van wie ons in die Bybel lees, drie Persone is. Drie Persone wat een is en tog drie Persone. Die Goddelike Drie-eenheid bring tog ‘n besondere aspek van God se beeld en wese vir ons na vore. Ek kan nie dink dat ons ooit die beeld van God kan losmaak van die feit van Sy drie-enigheid nie. In Gen 1v26 vind ons die eerste sinspeling op die Drie-eenheid – “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld…” Kom ons maak die mens as ons teenwoordiger! Die mens as skepping van man en vrou kom tot uitdrukking op drie maniere. Dit kom tot uitdrukking in persoonlike verhoudings – veral die intimiteit tussen man en vrou in die huwelik. Tweedens sit dit in hulle gelykheid – persoonlik- en status gelykheid voor die Here. Derdens word dit gesien in die verskillende rolle wat hulle Skepper aan hulle toeken, wat God reg van die begin af aan hulle toeken.
In die eerste instansie – Die liefdesgemeenskap tussen man en vrou. Net soos wat daar van die ewigheid af gemeenskap, kommunikasie, samewerking en onderlinge genot tussen die drie persone van die Goddelike Drie-eenheid bestaan het, net so is hierdie dinge teenwoordig tussen man en vrou, ideaal gesproke. Ons moet onthou dat hierdie dinge reeds in plek gestel was deur God voor die sondeval. Dit was volmaak teenwoordig in die verhouding tussen man en vrou en iets daarvan is nog teenwoordig in die verhouding tussen die man en vrou, des te meer wanneer daardie man en vrou in die proses van herskepping is, in God se genade in Christus. Bv. onderlinge liefdesgemeenskap, kommunkasie, samewerking, ens.
God het nie die mens gemaak om ‘n geïsoleerde bestaan te voer nie. As jy vandag mense kry wat ongemaklik is in hulle verhoudinge en wat nie lief is vir ander mense van nature nie, (en party van ons is meer so as ander, is dit nie so nie?) dan is dit nog alles te wyte aan die verwringinge wat plaasgevind het vanweë die sondeval. Wanneer ons herskepping vervolmaak afgerond is, gaan ons die wonderlikste onderlinge liefdesverhoudinge met mekaar hê. Dit is waarom ons, in ‘n gemeente wat waarlik gemeente is, liefde sien en waarom ons ons innigste verhoudinge in ‘n gemeente ervaar. Dis waarom die Bybel so sterk aksent het op onderlinge liefde in die gemeente. Helaas is daar baie mense wat deel is van gemeentes wat in oomblikke van eerlikheid sal sê dat in sy gemeente kry hy nog minder liefde as in die wêreld. As hy klub of kroeg toe gaan ervaar hy meer liefde. By die kerk word geskinder, daar is ondermyning, dwarstrekkery en die ergste is die kerkraadsvergadering! So hoort dit nie in die kerk van die Here nie. Die kerk van die Here moet die plek wees waar jy op jou gelukkigste is, waar jy op jou veiligste voel. As dit nie waar is van ‘n gemeente nie, moet ons ernstig besin.
Dan veral uiteraard ook in die huwelik. Onderlinge liefdesverhouding kom nêrens so intens na vore as in die huwelik nie. Die huwelik is as ‘n wonderlike gawe aan die mens gegee. As daardie wonderlikste van gawes vir die mens onderworpe word aan sonde, dan swaai hy om en word die ergste stuk smarte in die mens se lewe. Hier is baie mense wat daarmee kan identifiseer. Baie sal sê, ‘As ek maar liewer nooit getrou het nie.’ Daar is nie ‘n plek waar mense seerder kry as in die huwelik nie. Dan is dit ‘n huwelik wat omgebuig is vanweë die sonde. Terloops, dit geld ook vir die gemeente. Onderlinge gemeenskap tussen Sy kinders is eweseer ‘n wonderlike gawe van Hom. Waar kry mense meer seer as in die gemeente, behalwe in die huwelik? In ‘n gemeente wat uitmekaar geruk work kan mense vir die res van hulle lewe geskaad word. Daar is honderde mense wat so seergekry het in gemeentes wat skeefgeloop het dat hulle nie naby die kerk van die Here wil kom nie. Dis ‘n enorme aanklag teen die kerk. Ons moet alles in ons vermoë doen en die Here vashou om ons daarvan te weerhou dat mense so seerkry, so ontnuger is en so sinies raak dat hulle niks meer met die geloof te doen wil hê nie.
God se beste en heerlikste gawes, wanneer die sonde dit beetkry, kan dan die ergste pyn meebring wat mense se lewens kan vernietig. Laat dit ons net herinner dat ons in ‘n sondige gevalle wêreld leef en dat die Here God in ons lewens ingegryp het, besig om ons nuut te maak. Ons praat nie van volmaaktheid in hierdie gevalle wêreld nie, ook nie in ons nie; nie naasteby nie. Volmaaktlheid lê nog verder af in die pad.
Statusgelykheid. Van ewigheid af, van die skepping af, is daar wat status betref, voor die Here se aangesig, volkome gelykheid tussen man en vrou. Net soos wat daar van ewigheid af gelykheid is tussen die Vader, Seun en Heilige Gees in die sin dat al drie volkome God is. Een is nie minder God as die ander Een nie. Dis net so met die man en die vrou. Daarom is daar geen gronde vir enige geslagshoogmoed by Christene nie. Daarom moet ons wat mans is ons susters sien as gelyk met ons voor die Here en Christenvroue moet hul mans sien as gelyk met hulle voor die Here. Daar het sulke persepsies deur die jare ontstaan dat vrouens eintlik die geestelikes is in die kerk en die mans net dieper geval in sondes. Ek is bewus van gemeentes en ek was al in gemeentes waar dit naderhand net ‘n klomp vrouens is. Die mans wil nie daar naby kom nie. In die sending is dit ‘n algemene verskynsel dat hulle sê dat net die vrouens tot bekering kom. Een van die redes waarom mans nie tuis is in die kerk van die Here nie is omdat die kerk so ontsettend, onuithoudbaar sentimenteel en verwyfd geraak het. Die oomblik as ‘n gemeente ‘n robuuste, ware en Godgesentreede evangelie verkondig; dan kom die mans.
Paulus word beskryf as ‘n manlike chauvinis, maar niks is verder van die waarheid af nie. 1 Kor 11:11 en 12 – “Tog het die Here bepaal dat die vrou nie sonder die man sal bestaan nie, en die man nie sonder die vrou nie, want soos die vrou uit die man geneem is, so kom die man deur die vrou in die wêreld, maar alles is uit God.” Dit beteken daar is geen man is wat nie uit ‘n vrou gebore is nie. Daarom mans, ons het ons bestaan te danke aan vrouens. Dis die waarheid en ons weet dit. Die een kan nie vir die ander sê ons het jou nie nodig nie, so sê Paulus, die sogenaamde chauvinis.
Statusgelykheid word uitgespel in Gal.3:28 – “ Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één”. Daar is geen mindere of meerderwaardige kategorieë in die gemeente nie. Net so min as wat die Jode die reg gehad het om neer te sien op die Grieke in die kerk van die Here, net so min kon die mans neergesien het op die vroue en omgekeerd. Hierdie waarheid van die Nuwe Testament het ‘n hele revolusie veroorsaak in die antieke wêreld van die Nuwe Testament, want toe is die vrou as minderwaardig gesien en die vrou is vertrap deur mans. Die gelykheid van vrouens in die moderne wêreld is tot ‘n baie groot mate te danke aan die Nuwe Testement wat reeds deur die apostels verkondig is.
Derdens is daar egter ‘n funksionele verskil tussen mans en vroue. Terwyl daar van ewigheid af volkome gelykheid tussen die drie Persone van die Goddelike Drie-eenheid was, was daar tog nog altyd verskille in funksie en gesag tussen hulle. Onthou ons praat hier van die mens as man en vrou wat na die beeld van God geskape is. Dis hoekom ek elke keer teurggaan na die Drie-enige God toe. As mens die Bybel lees, sien ons God is drie Persone, wat een is. Terwyl van ewigheid af daar gelykheid tussen God se persone was, was daar gesagsverskille. Die Vader het groter gesag. Hy het ‘n leierskapsrol. Ons kan nooit die beeld van God losmaak daarvan dat Hy ‘n leierskapsrol het nie. So is dit van die begin af. Alles wat in God se raadsplan gebeur, is al drie die Persone van die Goddelike Drie-eenheid betrokke, maar sonder uitsondering het hulle verskillende rolle. Daar is ‘n onmiskenbare orde. Die Vader is altyd die Inisiatiefnemer. Die Seun neem as’t ware oor om die Vader se besluite te implimenteer en eindelik kom die Heilige Gees en Hy verwerklik en finaliseer dit in die skepping. Neem nou maar die skepping. In die skepping is dit die Vader wat inisiërend spreek, dis die Seun wat skep en dis die Heilige Gees wat onderhou. Ons sien dit nog duideliker in die herskepping. Die Vader is die Een wat sondaars verordineer het om gered te word, ons praat van die uitverkiesing. Dan stuur Hy Sy Seun om alles te doen wat nodig is vir die redding van daardie mense en eindelik is dit die Heilige Gees wat daardie redding, wat die Seun vir hulle bewerk het, in hulle lewens kom verwerklik en vervolmaak. Dis die Heilige Gees wat die kerk bou en toerus. Sien daar die verskillende funksies en orde, en sien ook die orde tussen die Vader, dan die Seun en dan die Heilige Gees. Maak dit nou van die Heilige Gees ‘n minderwaardige persoon in die Goddelike Drie-eenheid? Hoegenaamd nie, Hy het net Sy funksie. As u my ‘n wêreldse voorbeeld sal veroorloof, neem bv. ‘n rugbyspan. Is die voorryman belangriker is die losskakel? Of is die vleuel belangriker as die heelagter? Of is die flank belangriker as die agterspeler? Nee! Onthou, elkeen het egter sy eie funksie. Presies so het God die mens as man en vrou geskape. 1Kor 11v3 – “Ek wil egter hê julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en ‘n man die hoof van sy vrou, en God die hoof van Christus” . Daar is ook gesagsonderskeid. Maak dit die vrou belangriker as die man? Of ag dit die vrou minderwaardiger as die man? Nee! Is die kaptein belangriker in die spel as een van die ander spelers? Nee, ‘n duisend maal nee!
Nou het dit natuurlik implikasies. Daar is rolverdeling en gesagsverdeling tussen man en vrou. Die mens se skepping as man en vrou is die hoeksteen van die huwelik. Die huwelik moet altyd die Drie-enige God, wie en wat Hy is, voor oë hou. So moet dit in die huwelik wees. Dit moet ‘n afskynsel wees van wie en wat God is. As die huwelik daarin slaag en tot die mate wat die huwelik daarin slaag, om hierdie drie fundamentele pilare in plek te hou , nl. gemeenskap , gelykheid en funksionaliteit, tot daardie mate gaan dit goed in so ‘n huwelik. Dit is daardie drie; gemeenskap, funksionaliteit en gelykheid. As ons praat van die man het gesag oor die vrou, beteken dit nie hy is belangriker as die vrou nie. Moenie hiërargies daaroor dink nie. Dit beteken maar net dat hy het bepaalde verantwoordelikhede. Hy het die taak om sekere besluite te neem. Hy moet sy vrou altyd ken in die saak. Hy moet sy vrou in die proses intrek maar eindelik is hy die persoon wat die verantwoordelikheid dra. Dit is dus ‘n funksionele onderskeid. Dit is nie ‘n status onderskeid tussen man en vrou nie.
Hierdie feite het natuurlik sekere implikasies. Die mens se skepping as man en vrou na God se beeld is die diepste rede waarom die Nuwe Testament nie die vrou toelaat om in die gemeente te regeer nie. Let op, dit sê, nie regeer nie! Die vrou is in elke opsig in die gemeente gelyk. Sy is absoluut ‘n suster in die Here en ‘n gewaardeerde suster. Daar is tog een funksie wat beperk is tot ‘n man. Die gemeente word geroep, veral dan die gemeente as uitdrukking van God se skepping, en Hy is met ons oppad om dit wat voor die sondeval in plek was weer volkome in plek te plaas. Nou reeds moet ons iets van die realiteit daarvan vertoon in ‘n wêreld wat krom en verdraai is. Dis nie ‘n status verskil nie, dis ‘n funksionele verskil. Dis die mans se taak om te regeer.

Nou kan jy daaroor redeneer dat mans meer toegerus is. Ons sien in kerke waar die vroue oorvat, trek dinge skeef. Daarmee sê ek nie, as mans die leiding neem, dat dit altyd goed gaan nie. Die feit bly net staan dat die Here se Woord sê vir ons dat die man behoort die leiding te neem. Waarvan is die vrou uitgesluit? Die regeringsfunksie. Daarom staan ons saam met die historiese Kerk deur die eeue en feitlik alle kerke tot ‘n dekade of twee gelede, op die standpunte dat ‘n vrou nie ‘n ouderling in die gemeente behoort te word nie. Ons sou kon redeneer oor die diakenamp. Dis ‘n diensfunksie, nie ‘n regeringsfunksie nie. Die regeringsfunksie is beperk tot mans. Daar sit uiters begaafde vrouens hier. Die feit bly staan, ons moet God se ordes gehoorsaam en ons sal dit gehoorsaam. So sterk voel ek daaroor dat as ek sou deel wees van ‘n denominasie waar die vrou tot die regeringsamp toegelaat word, ek summier sou bedank het uit daardie denominasie.
Dis nie maar sommer net bykom by die tendens van die tyd nie. Dis ‘n geweld aandoen aan die fundamentale skeppingsverordeninge van God. Onthou ons as Nuwe Testamentiese gelowiges is op pad om hierdie dinge vokome te herstel in ons. Ons moet nou reeds iets daarvan begin vertoon. Wat moet ons vertoon? Wat die beeld van God is, want ons is beelddraers van God.

As ons hierdie skeppingsverordening geweld aandoen, dan verkondig ons vir die wêreld daarbuite dat die God wat ons dien, is nie soos wat Hy homself in die Bybel openbaar nie. Hy is anders as wat hy Hom openbaar. As jy so daaroor begin dink besef jy dat ons nie hier besig is met ‘n tweederangse saak nie. Ons het hier met ‘n fundamentele saak te doen. Dieselfde geld vir homoseksueles. By al die pynlike empatie wat mens het vir mense wat seksueel skeef gegroei het, of dit nou vanuit hulle geboorte so is en of hulle so geword het, mag ons vir geen oomblik toegee aan die feit dat ons as gelowiges geroep word om die beeld van God te vertoon nie. Die beeld van God hang saam met ons geslagtelikheid, die onderskeid tussen man en vrou en die feit dat die man ‘n bepaalde rol en funksie het en die vrou ‘n bepaalde rol en funksie het. Ek sê weer elke keer as die apostel Paulus hieroor skryf in die Nuwe Testament, beroep hy hom op die eerste 3 hoofstukke van Genesis want hy het dit verstaan. Dit gaan hier oor die skeppingsverordeninge. Dit gaan nie daaroor dat jy hierdie mense nie kan verduur nie, of dat hulle ‘n verleentheid is nie. Nee, dit gaan daaroor dat ons as Nuwe Testamentiese gemeente geroep word om iets van die Beeld van God te vertoon. Wat maak jy dan as jy ‘n homoseksuele geneigdheid het? Jy onthou jouself. Ek wil sê in hierdie gemeente is elke homoseksueel – wat erken dat hy geroep word om heteroseksueel te leef, maar dit om een of ander rede nie kan regkry nie, wat bereid is om homself te onthou ter wille van die Here en Sy eer, is welkom, maar hy mag nie sy seksualitiet beoefen nie. Dieselfde geld vir ‘n man of vrou wat nie getroud is nie. As my vrou môre wegval dan is ek ‘n enkellopende persoon en solank ek enkellopend is moet ek my onthou en as jy jou nie onthou nie, is jy tugwaardig. Is dit makliker vir ‘n heteroseksuele persoon om hom te onthou as vir ‘n homoseksuele persoon? Ek glo nie. Ek dink nie so nie. Is dit maklik om jou te onthou? Niemand sê dis maklik nie. Is dit ‘n doodsonde as jy per geleentheid swig? Nee, dis ‘n sonde waarvoor jy vergifnis kan kry. Baie van julle het vergifnis daarvoor gekry. Baie loop met skuldgevoelens. Kom na die Here toe en kom kry vergifnis. Dis een ding om in jou swakheid te swig voor ‘n sonde, dis ‘n ander saak om gewoon toe te gee aan die sonde want dan maak jy van die kruis ‘n bespotting as jy elke keer terughardloop en vergifnis vra.
Die huwelik word geroep en veral die huwelik van gelowiges om die beeld van die Drie-enige God, in ons gemeenskap, in ons gelyktheid en in ons funksionaliteit uit te straal. Mag die Here ons help.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *